HANS DONS SE GEWEER
Bo staan mnr. J.H. Badenhorst van Benoni in 1976 met die bekende Voortrekkerverkenningsleier Hans (Dons) de Lange se olifantpangeweer.
Dr. Lucas Potgieter het ’n navraag oor dié erfstuk na prof. Felix V. Lategan verwys, wat op sy beurt lesers kon vertel dat die “pragtig bewaarde, swaar olifantpangeweer met die kort, dik, agtkantige loop inderdaad die ware Jakob is”.
Die 5boorwapen weeg 5,44 kg. Die loop is 813 mm lank en 6,35 mm dik. Sulke wapens is beslis in die Slag van Bloedrivier gebruik en gewoonlik met lopers gelaai.
Gustav Preller bevestig dit in sy boek Andries Pretorius, waarin hy die geveg só beskryf: “So lank as die wamuur is, kraak opeens die olifantgewere en snaphane los dat dit dawer en dreun deur die oggendstilte en die berge en klowe antwoord gee.”
Hans Dons se geweer is op 16 Desember 1938 – ’n eeu ná die Slag van Bloedrivier – weer op dié slagveld afgevuur.
Badenhorst, ’n agterkleinkind van Hans Dons, het losgebrand gedurende die hoeksteenlegging van die gedenkteken.