Landbou Weekblad 100 Die oes staan ryp 2019-05-01 - Oestyd lê die landbougemeenskap na aan die hart. Hier is enkele voorblaaie uit dietalle bedrywe wat die afgelope eeu Landbouweekblad se voorblad gehaal het. 11 Junie 1968 Mnr. J.D. Krige van die plaas Woodford, tussen Grahamstad en Port Elizabeth, trek papierrokkies aan 250 000 pynappels om hulle teen sonbrand te beskerm. Om siektevrye pynappels te kweek, moet landerye ook baie skoon gehou word. 17 November 1964 Só lyk die Swartland wanneer die lupiene blom. Lupiene, die aspoestertjie van akkerbougewasse, verrig wondere as herstelgewas. 19 November 1963 LINKS: Mej. Joey Lourens van Bredasdorp by platgesnyde koring. 19 Mei 1964 Mev. Santa Rossouw van Kakamas klim ’n dadelpalm. Boere vanaf Boegoeberg tot by Pella aan die Oranjerivier behoort genoeg dadels vir die land se eie gebruik te produseer, sê mnr. P.L. van der Merwe. Hy en sy twee broers is van die grootste dadelboere in die land. 13 Junie 1967 Vergroening is ’n gevreesde siekte by sitrusbome. Boere merk egter met verligting die afgelope twee seisoene ’n merkwaardige verbetering op. Dr. R.E. Schwartz, ’n viroloog van Nelspruit, sê droë jare strem die vektor, die sitrusbladvlooi, se ontwikkeling. 25 Junie 1963 Ria van den Berg se speelplek is ’n sagte hoop saadkatoen. Moenie waag om dié gewas sonder kennis te plant nie, sê haar pa, J.D. van den Berg van Middeldrif, Koedoeskop. Hy het vier jaar lank misluk – tot hy die regte, kundige raad gekry het. 7 Februarie 1961 Mnr. C.J. Mülke, ’n besproeiingsboer van Vrugbaar, Douglas, kweek waatlemoene van tot 70 pond (32 kg) stuk. Klein Deon Lochner (2) staan by dié knewels. Mülke laai jaarliks 200 trokke met hoofsaaklik Black Diamond, Florida Giant en Yellow Belly.