’n Openbaring in mededeelsaamheid
Die bekroonde skrywer van die roman Valsrivier, Dominique Botha, stam uit ’n Vrystaatse familie wat dekades lank al boer. Sy en haar pa, Andries, het na ál 65 sprekers op die 2018 Bela-Bela-grondberaad, hul eiesoortige oplossings,
diepgewortelde frustrasies en stories van vooruitgang geluister.
Landbouweekblad se grondberaad naby Bela-Bela is ons bestemming. Ons vertrek voor sonop. Ek met die padkaart en Pa met sy katarakte. Ons volg stofpaaie om die Vrystaat se teerpaaie te omseil wat deesdae soos emmentalkaas lyk.
“Pa, hierdie onteieningbesigheid gaan die ekonomie in duie laat stort. Hoe kan die ANC dit nie insien nie?”
“Ag, my kind. Kyk maar hoe het daai vark destyds die meeste wit mense ’n rat voor die oë gedraai.”
“Van wie praat Pa nou?” “Daai vark, man. Wat was sy naam nou weer?”
Pa haal sy sakdoek uit, gorrel en spoeg in die lap voor hy dit weer toevou en in sy broeksak druk. “Verwoerd. Die lae luis. Hoe kan sy naam my ontglip? Jy sal nog sien, jeug is ’n verbygaande bate.”
Pa jaag teen 80 km/h op gruis wat hy ons altyd dood voor die oë gesweer het om nie te doen nie. Tarentale kekkel verwilderd tussen die terpentyngras in die langkampe in.
“Ieder geval, so intelligent soos Verwoerd was, het hy geglo apartheid is bekostigbaar. Never mind die morele bankrotskap. En wit mense stem 40 jaar lank vir daardie sotterny. Hoe verwag jy dat dit anders moet wees met die swart mense?”
Die platteland vereensaam. Opstalle en werkershuise staan leeg. Plaasskole word deur die
regering uitgerangeer.
Vir ’n bietjie geleerdheid bly werkers se kinders nou alleen in sinkskuilings in die townships, uitgelewer aan tsotsi’s en die elemente. Champagne Serifi se kleindogter is deur ’n weerligstraal doodgeslaan toe sy uit vrees vir ’n donderstorm die nag ingehardloop het. Ons en die Serifi-gesin kom vier geslagte saam. Pa het vir die begrafnis betaal, soos vir talle ander.
Ek tuur by die venster uit.
Plaasnaamborde swenk verby soos kontreigedigte gegriffel op die papierdroë lug. Vioolpan. Patrysdraai. Soetdoring.
Pa ken hierdie stuk aarde soos die maan sy wentelbaan. Hy weet wie hy is. Hy is ook die laaste. Dit weet ons almal hoewel niemand dit sê nie. Sy jongste kinders deurkruis die wêreld en praat nie eers meer Afrikaans nie. Sy eersgeborene is oorlede.
Christiaan, die middelkind, boer te na aan die dorp en Pa wil hê hy en sy gesin moet wegkom voor hulle seerkry.
Pa waai sy hand afwysend in die rigting van die dorp. Die munisipaliteit steel al die geld wat vir water en ligte ingevorder word. Die rioolwerke is teen R40 miljoen opgegradeer, maar het nie ’n enkele dag gewerk nie. Die masjinerie is dadelik uitgestrip, gesteel en verkoop. Christiaan se plaas is stroomaf en die k*k vloei letterlik in sy dam in.
“Burgemeestersposisies word soos pakkies tjips uitgedeel. Jy moet sien hoe lyk die stadsaal waar jy destyds jou klaviereksamen afgelê het. Soos ’n hoenderhok.”
Voor spitsverkeer trek ons reeds verby Johannesburg in die rigting van Bela-Bela, wat kookwater in Noord-Sotho beteken. Seker ’n per abuise ironie dat die boere daar hul bron van hoop moet gaan soek. Pa se selfoon lui terwyl hy deur die snelweg se bane vleg. Hy sal eerder die bakkie omgooi as om nie sy selfoon te antwoord nie.
Dit is Firi Lekgetha, die swart boetie wat in ons huis grootgeword het. Hy kom ook die Kookwater-beraad bywoon, maar hy het probleme met sy trekker se ratkas en Pa moet raad gee. “Luister, my seun. Vat die ding na Varkie die mechanic en sê vir hom Andries Botha het jou gestuur. Sê vir Varkie as hy jou met die prys bedonner, gaan hy van my hoor.”
Firi se oorlede pa was ’n trekarbeider wat in 1974 vir R10, ’n halfsakmeel en 40 sakke mielies agter die oes op ons plaas ingeval het. Vandag is Firi die trotse eienaar van ’n lappie grond met min water en ’n aandeel in die dragtige skape wat Roy Culverwell op sy veld laat wei. Sy pa het nooit gesien of kon droom wat sy seun eendag sou vermag nie.
Firi moes lank wag voor die grond aan hom oorgedra is, want die hervormingsamptenaar wou eers ’n geldjie inwin – en Firi het nie omkoopgeld gehad om te betaal nie. Intussen het hy ’n Anatoliese Herdershond met ’n bruin lyf en ’n grys gesig gekoop om sy skape op te pas. Haar naam is Prinses. Firi sê sy is leliker as die duiwel. Prinses is blykbaar ’n rassis en hou nie van wit mense nie. Snags waag Firi dit nie uit die huis uit nie, want dan grom sy selfs vir hom.
Pa probeer sy selfoon afskakel ná die gesprek en vervloek die toestelletjie wat nie sy vingers gehoorsaam nie. Hy het lank ten duurste tweedehandse Nokias van oorsee probeer koop, want dit is ’n model wat hy verstaan. Die baksteen. Hy wou nie ’n nuwe bleddie ding hê nie. As daar iets is wat hom meer ontstel as Julius Malema, is dit doelbewuste veroudering ( planned obsolescence).
Ons stop vlugtig net buite Bela-Bela om lemoene te koop en ek skil af terwyl Pa verder bestuur.
“Ons boeremense moes nog altyd ons eie ding doen. Ons was nooit kolonialiste, soos die Engelse nie. Daar was nie ’n weermag en ’n vaderland elders wat pa sou staan vir ons nie. Hoe dink jy het boeregesinne hulself op die Hoëveld kon vestig? Die Vrystaat was leeg omdat Mzilikazi dit leeg gemaak het sodat die impi’s hulle nie kon volg nie.” Ek kyk hom verdag aan. “Moenie my so aankyk nie. Gaan lees Thomas Mofolo se boek oor Shaka. Hy het honderd jaar gelede Natal met sy fiets deurkruis en die stories neergeskryf van mense wat Shaka geken het.”
“Hoe het jy dit gelees, Pa? Is dit dan nie in Zoeloe geskryf nie?”
“Nee, man. Dinges se vriend in Pinelands het die boek vertaal.” Ek weet nie wie Dinges is nie. Wildswinkel se veilingslokaal op die Zwartkloof-natuurreservaat buite Bela-Bela doem voor ons op. Pa jaag met ’n stofstreep by die naaste parkering in, want hy wil nog koffie kry voor die lang sit.
Die saal is stampvol mense met oop gesigte. Die adjunkpresident het op eie stoom besluit om ’n draai te kom maak en daal in ’n helikopter neer om die verrigtinge met paaiende woorde te open. Vraag is net: Is dit statige strooi? Is Piet Retief weer in Dingaan se laer?
Die program is so vol soos ’n styfgestopte boerewors. Sprekers kry tien minute om jare se ploeg en plant op te som. Pa is vol lof vir Dan Kriek van Agri SA wat eerste aan die beurt is. Kriek sê ons moet erken dat kolonialisme, die Wet op Naturelle-grondbesit van 1913 en apartheid ’n verwoestende effek op ons landsburgers gehad het.
Pa fluister in my oor. “Enigiemand wat dit nie erken nie, is óf verstandelik vertraag óf krimineel hardvogtig.” Ek skryf neer. Agri SA kan die platteland laat herlewe. Kriek-hulle het ’n uitvoerbare plan en oplaas die oor van die president.
Die werklike grondnood lê in die stedelike gebiede. Ek wonder nogal of sommige luidrugtige lefties bereid is om hul erwe te onderverdeel aan hawelose mense – soos van hulle luid basuin moet deur die boere gedoen word. Ek vou ’n nuwe bladsy in my notaboek oop. Die grondoppervlak van Switserland. Dit is die omvang van die regering se mislukte plase. Dit is ’n klaaglied van korrupsie, rompslomp en onkunde. ’n Treurmare van verval en wanhoop.
Maar stadigaan klink ’n ander refrein op deur mense wat in ’n rondedans van moedertale die gehoor begeester. Behendige vertalers sit die voorleggings om in Afrikaans en Zoeloe en Xhosa en Sotho en Engels. Sonore klanke van drome wat blom. Van vertroue wat welig vertak. Van geykte opvattings wat in die kiem gesmoor word.
Mnr. Patrick Sekwatlakwatla van Sernick by Kroonstad sê hy verstaan Bonsmaras. “’n Goeie Bonsmara moet soos ek lyk. ’n Bietjie lelik.” Hy lag. “Ons verstaan ook die hel wat opkomende boere deurgaan, dit is hoekom ons hulle help.”
Hy het ’n boodskap vir die
Maar stadigaan klink ’n ander refrein op deur mense wat in ’n rondedans van moedertale die gehoor begeester. Van vertroue wat welig vertak.
bemagtigingselite. “Skoert met julle Gucci-skoene uit ons voerkrale.”
Mnr. Etienne van Wyk van Marydale in die Noord-Kaap eerbiedig sy mentor, mnr. Dries Wiese.
“Jy het boere nodig om boere op te lei. Dries het my alles geleer – alles van ’n skaap tot ’n perd tot ’n bees. Maar ek boer eerder met ‘wit meisies’ as met ’n bees. ’n Bees teel te stadig aan. My ‘wit meisies’, my Merino’s, lam lekker vlytig.” Jy kan sien Etienne is haastig om weer op sy plaas te kom.
Mnr. Harry Gxotiwe van die Oos-Kaap sê hy is deel van die verlore geslag van 1976. Maar hy is nie kwaad nie. Hy haat niemand nie.
“Wit mense,” sê hy, “ons is lief vir julle.” Die regering het blykbaar klomp plase in sy kontrei vir hervorming gekoop, maar daar het dadels van gekom. “Ek het grond onwettig gaan beset. En weet julle wat? Agri SA het my gehelp om dit te doen.”
Verbaasde giggels rinkel deur die saal.
“En toe gee die Kooperasie op Humansdorp my ’n groot lening sonder enige waarborg of sekuriteit en dit was die beste ding wat nog ooit met my gebeur het.”
Daar is nog soveel om van te vertel. Elke verhaal is gemeet en pas aan die eiesoortigheid van die streek en sy mense. Daar is klein omwentelings en omvangryke wonderwerke.
Een van die indrukwekkendste grootskaalse onthullings is allermins ’n wolhaarstorie.
In 1997 het die swart boere van Suid-Afrika op gemeenskapsgrond wol ter waarde van net R1,5 miljoen rand gelewer. Vyftien jaar later het hulle hul produksie met honderde male vermenigvuldig tot R383,6 miljoen met die hulp van wit, kommersiële wolboere. Dit is nie ’n abstraksie nie. Dit is geld vir skoolklere. Dit is ’n hoender in elke pot. Vir duisende gesinne.
’n Mens raak amper moeg van al die goeie nuus, sê mnr. Jannie de Villiers. Hy praat namens Graan SA wat onder leiding van me. Jane McPherson tans 14 000 bestaansboere mentor.
Mense wat ’n karige halfton van een hektaar mielies per jaar afgehaal het. Net om te oorleef, het jy een ton mielies op daardie hektaar nodig. Verlede seisoen het die gemiddelde opbrengs tot 4,3 ton per hektaar verbeter. Die verskil tussen stadige hongersnood en spaargeld.
Almal begin spontaan hande klap.
“Een kleinboer het vrou-alleen 9 ton van haar hektaar afgehaal,” vertel Jannie.
“Ons leer ken die mense. Verhoudings word gebou. Vriendskappe gesmee. Ek het onlangs ’n ou dame gevra wat sy met haar bietjie wins gaan doen.”
Jannie se stem begin wankel. “Sy gaan ’n bed koop.” Hy sak sy kop. “In haar hele lewe het sy nog nooit op ’n bed geslaap nie. ’n Vrou so oud soos my ma.”
Die hele raak saal is stil. Voor my sit ses swart boere met trane wat oor hul wange rol. Jannie haal diep asem. “Dit is ’n wedersydse oopmaak van harte.
“Dit is die restitusie van menswaardigheid.”
Ek en Pa ry in bewondering en stilte terug plaas toe. Die laat-winterson stoot klatergoud deur die oulandsgras. Bosluisvoëls trek die skemer soos ’n sluier met donker pante nader.
“Kom ons vergeet van die suurgatte. Dit gaan nie oor opgee of weggee nie. Dit gaan oor aangee. Hierdie beraad was ’n openbaring in mededeelsaamheid. Ek gaan Christiaan probeer moed inpraat om weer groot te dink. Môre sê ek vir Isak en Sani en Daniël en Piet hulle gaan ’n aandeel in die melkkoeie kry.”
Ons parkeer agter die verlate opstal langs die skuur wat Pa in ’n woonplek omskep het vir wanneer hy plaas toe kom. Ek pak solank die kaggel met sprokkelhout en kry die vuur aan die gang. Pa gooi nie teesakkies weg nie. Hy laat hulle drooglê in die son en dan marineer hy hulle in paraffien om as boer-maak’n-plan-Blitz te dien.
Nou is hy lus vir ’n sopie. Hy skink vir ons rooiwyn en hy lig sy glas. “Kom ons drink op al die ware helde van Suid-Afrika wat ons vandag gesien en hoor het. En op Landbouweekblad. En veral op die Franse Hugenote, anders het ons nog duurder betaal vir wyn.”
Pa gooi nog ’n stuk hout op die vuur. “Kyk nou net. My oumagrootjie het voorsiening vir my gemaak in my oudag dat ek nie koud kry nie, deur al daai kareebome honderd jaar gelede te plant. Haar kleinkind, vandag ’n man van 80.” Hy lyk moeg.
Ek groet en gaan lê op ’n koperenkelbed in die kamer wat na mottegif ruik. Die borderkollie, Laspos, lê onder my bed. Ek sien hommelbye vreet weer die kleimure op. Pa lê en snork reeds in die kamer langsaan en Vivaldi speel op sy draadloos. Ek wil hom bewaar. In watte toedraai. Ons toorn en ons held.
Ek staan toe maar op om die radio stil te maak en gaan sit buite om die Melkweg te bewonder. Die aandster rol ’n ragfyn lok van silwer stilte oor die werf. Ek dink aan die woorde op my broer se graf.
Nou sien ons deur ’n spieël in ’n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is. En nou bly geloof, hoop, liefde. Hierdie drie.
En ek wonder by myself, is die grootste hiervan nie eintlik hoop nie?
Dit gaan nie oor opgee of weggee nie. Dit gaan oor aangee. Hierdie beraad was ’n openbaring in mededeelsaamheid.