VAN BURGERBANDRADIO’S TOT WHATSAPP-GROEPE
As jy dink WhatsApp was die begin van boere wat hulself organiseer, is jy moontlik te jonk om die ou burgerbandradio’s van die laat 1980’s en vroeë 1990’s te onthou. Bakkies, skoolbusse en vragmotors is almal toegerus met tweerigtingradio’s en boere het saaklik en vinnig met mekaar en hul werkers gekommunikeer “sodat die lyne kan oopbly”.
Skoolbusse is ook met burgerbandradio’s toegerus vir die plaaskinders se veiligheid. Daar is gereeld op ’n kleintjie se knoppie gedruk om die bus se posisie op verskillende vooraf-afgespreekte posisies deur te gee.
Selfone het merendeels daarna die plek van burgerbandradio’s oorgeneem. Met die koms van die slimfoon, wat ’n rekenaar in die palm van jou hand geplaas het, het boere ’n sterk stuk gereedskap gekry om in verbinding te bly.
Kommunikasietoepassings, soos WhatsApp, het soos ’n veldbrand versprei. Dit help boere nie net met plaasveiligheid of om vinnig boodskappe heen en weer te stuur nie, maar het ook ’n kragtige bestuursfaktor geword.
Landbouweekblad het verlede jaar berig van mnr. Riaan Strydom, 2018 se Oos-Kaapse Jongboer van die Jaar, wat op ’n slim manier Dropbox en WhatsApp gebruik om ’n oog op elke faset van die plaas te hou. Dropbox word gebruik om alle inligting, soos waterverbruik, voerbestellings en bespuitingsprogramme, by te hou. Strydom het ook verskeie WhatsApp-groepe geskep vir die verskillende afdelings op die plaas waarop enige nuwe inligting deur die bestuurders opgeteken word.
Landbouweekblad het ook berig oor die gebruik van vegatatiewe groei-indekse en hoe ’n boer plantgesondheid- en vogkaarte en grafieke van die hele plaas binne sekondes via WhatsApp kry. Dit is voorwaar ’n nuttige hulpmiddel wat die bestuursfunksie daardie aks makliker maak.
Intussen kan WhatsApp ook ’n belangrike rol speel om siektes en plae te bestry, soos in die geval van die fakulteit landbouwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch se se projek om insekplae te identifiseer. Boere en konsultante kan deur slegs foto’s en kontakbesonderhede na die projek se WhatsApp-nommer te stuur, ’n identifikasie van die insek ontvang.
— GERRIT BEZUIDENHOUT