AANSTAP, ROOIES
Die ou mense met wie ek gesels het, kon voor die voet stories vertel van individuele osse uit hul jeug. My vader praat nou nog van oorlede Oupa se twee agterosse, Buffel (’n swartbonte) en Gesels, “oom Lewies van Zyl se agteros”.
’n Vrystaatse boer kon haarfyn die name opnoem van ’n hele span rooies uit die dae van voor die Tweede Vryheidsoorlog, net soos hulle getrek het: Dorland en Blesman; Soetland en Engelsman; Ligman en Mooiman; Jonkman en Rondeberg; Speelman en Leerman; Rusland en Bakker; en Domkrag en Regop. Dorland was die enigste os van ’n hele span wat die runderpes gespaar was.
Pappie het ook vertel hoe Oupa met sy osse gesels het: “Katjiebaan, jou beenkop! Souerman, jou soutvleissop!”
Het die “beenkoppe” iets aan die geselsery gehad? ’n Transportryer uit die Diamantvelddae het my verseker dat sy osse ’n wa uit ’n vasvalplek kon haal waar ’n ander drywer met ’n dubbele sweep niks kon regkry nie – eenvoudig deur met hulle te praat.