’n Boer maak ’n plan
’n Bewaringsboer met 131 damme, ’n kanaalaap sonder skoene, ’n groenteplaas op ’n rugbyveld, ’n melkboer met 200 katte . . . Hiér is van Landbouweekblad se gewildste stories oor deursettingsvermoë en vindingrykheid op die platteland.
KAALVOET-BOER
1953. Talle van die meer as tweeduisend besproeiingsboere langs die Oranjerivier tussen Boegoeberg en Kakamas was destyds brandarm en het na ’n nuwe begin gesmag. Mnr. H.J. Oosthuizen, ’n draadspanner van Carnarvon, is in 1929 Boegoeberg toe om kanale te grawe. Toe hy drie jaar later hom op erf nr. 981 vestig, het hy nie eens ’n paar skoene gehad om aan te trek nie – net “my verstand, my hande en die begeerte om my moue op te rol en te werk”. Hy was die eerste boer wat sultanas in dié omgewing opgelei het.
ORGANIESE METODES ÁL BELANGRIKER
1968. Mnr. D.H. O’Flaherty van Oreston, naby Inchanga, verkoop eiers, groente en braaihoenders in ’n stalletjie op sy plaas. Om stadsmense soontoe te lok – sommige kom tot 50 myl ver – boer hy al jare lank sonder die gebruik van enige chemiese misstowwe. Hy gebruik net kraalmis en organiese materiaal.
Elke krieseltjie gras en onkruid word vir kompos gebruik. Die rede vir die “natuurlike” boerdery, sê hy, is dat al hoe meer stadsmense bewus raak van die gevare wat die gebruik van chemiese misstowwe en spuitmiddels meebring. Hulle verkies daarom vars plaasprodukte wat op dié gesonde wyse verbou is.
HART VAN DIE MIELIELANDE
1950. Eertydse sensasiewekkende opskrifte, soos “Goudvonds in die Vrystaat”, “Eerste skag gesink”, “Welkom, modeldorp verrys”, het binne drie jaar ou nuus geword. Om die verskillende skagte heen is die gemeenskappe reeds ingeburger. By Koppie-alleen, die enigste koppie in die omgewing, sak die fondamente vir die reuse-opgaardamme diep in die aarde in. Die mans kan hul motors laat herstel en die vroue hul mooimaakgoed koop sonder om die afstand na Odendaalsrus of Hennenman af te lê. Welkom, wat uit die hart van die mielielande soos ’n vreemde gewas opgeskiet het, is gevestig.
Daar is nog vroue wat onthou van die eerste dae. Toe die inwoners van die eerste 15 huise op die verlate vlakte afgelaai is. Vroue wat gewoond was aan die woelige stadslewe wat elke moontlike gerief verskaf, het
in die flikkerlig van kerse na die getier van die Augustus-winde sit en luister. Krag was nog nie aangelê nie, daar was geen winkel van enige aard nie en water moes aanvanklik van ’n nabygeleë boorgat aangedra word. Telefonies kon hulle nie bereik word nie. Hulle was inderdaad pioniers.
Een aand het ’n tyding gekom. Vroue het in die stikdonker oor slote en grondhope gesukkel na ’n huis waar die kerslig onseker deur die ruite gespoel het. Wie kon, het gehelp, en voor die dokter wat per motor uit Odendaalsrus ontbied is, kon opdaag, het die eerste krete van ’n pasgebore baba deur die stil naglug weerklink. Welkom se vroue het sy eerste baba self die wêreld ingehelp. — DOT SERFONTEIN
DORP WORD PLAAS
1960. Mnr. George Lavers het so ’n bietjie meer as drie jaar gelede naby Dannhauser met pluimvee, varke en beeste geboer. Toe hoor hy dat die steenkoolmyn Burnside Collieries naby Glencoe uitgewerk is. Die myn was toe al ’n dorpie met 50 woonhuise. Die wakker boer het gaan kyk hoe dit daar lyk. Hy was baie in sy skik met die vrugbare grond om die myn – en koop toe die hele lot. Kyk wie woon vandag op Burnside: 30 000 hoenders, in batterye so lank soos ’n rugbyveld, 1 000 varke en 600 beeste.
KLIM MASKAM MET KRUIWA UIT
1972. Waar die groot plato uit die Bokkeveld se wêreld in duiselingwekkende afgronde afstort tot die dynserige gelyktes van Vanrhynsdorp en die Knersvlakte, lê die berg Maskam. Sy regaf rotswande is nie maklik getem nie. Mnr. Japie Prins, wat op die plaas Sewefontein bo-op die berg gebore is, se pa was een van die eerste mense wat hulle op die berg gevestig het.
“Die eerste ryding wat hier aangekom het – 46 jaar gelede – was ’n kruiwa,” vertel hy. “Toe was ons net so bly soos daardie dag toe die eerste trein Klawer binnegetrek het, want die vrag kon nou van die skouer in die kruiwa afgooi word. Die eerste ploeg is in stukke op die skouer die berg uitgedra.”
Die eerste bokwaens is ook stuk-stuk teen die berg uitgesleep en gedra, of teen die regop rotswande opgehys. Graan, vrugte en ander plaasprodukte is met pakdonkies die berg afgebring. Die donkies het die roete later toe-oë geken, maar as ’n sak nie reg sit nie, het hulle gaan staan. Vandag is daar ’n grondpad plase toe, hoewel die plaashuis by Sewefontein tot baie onlangs nie met ’n motor bereik kon word nie. ’n Kilometer van die huis af moes jy stilhou en stap. In geval van siekte of geboorte moes die dokter en vroedvrou eweneens te voet die kranse uit.
Prins boer onder meer met skape. “Die Dorper is die skaap vir dié wêreld. Hy is taai. Sy naam moet eintlik gronderosie wees. Hy vreet alles. Hy vreet daar waar die Merino verbyloop.”
ANTIEKE YSTERPERD
1970. Mnr. Karel de Jongh van Katmakoek, Vredendal, gebruik nog trekkers, werktuie en rytuie wat van die 1940’s dateer. Een van die trekkers het hy trouens voor die Tweede Wêreldoorlog gekoop. Vergeleke met vandag se trekkers met hul kragremme, kragstuur, ewenaarslotte en aanjaers is die 1936-model in vele opsigte primitief. Draairemme, selfaanskakelaar en ligte het hy nooit geken nie. Hy moet met ’n slinger in die bek gekarring word om lewe te kry. Maar op sy dag was hy koning onder die dorsmasjien-trekkers. De Jongh bespaar deur sy werktuie getrou op te pas en versorg.
EMBRIO-KALWERS
1978. Agt kalwers, so te sê gelyktydig gebore, en almal die nageslag van een uitmuntende koei! Die prestasie is geen wensdenkery nie, ook nie ’n wonderwerk nie, maar een van die puik resultate wat met embrio-oorplasings op ’n Vrystaatse plaas verkry is. Die idee van embrio-oorplasings by diere is al jare lank bekend, maar het eers in die afgelope paar jaar ’n praktiese werklikheid geword. Dit was juis ’n berig in Landbouweekblad sowat drie jaar gelede oor embrio-oorplasings in Kanada wat die belangstelling van mnr. C.H. Derksen, Simmentalerteler van die plaas Weltevrede, Viljoenskroon, geprikkel het. Hy het dié proses in diepte nagevors. Sover bekend, is Suid-Afrika se eerste embrio-kalwers op sy plaas gebore.
RUGBYVELDBOERDERY
1970. Mnr. T.J. Malan, hoof van die Laerskool Sonop naby Brits, wou ’n skoolbus aanskaf om die kinders op verrykende uitstappies te neem. Só ’n bus sou egter ’n aardige bedrag
kos. Uiteindelik besluit hy om die skool se ou rugbyveld met akkerbougewasse te beplant. Die ouers, van wie baie boere is, het opgetrek met trekkers, ploeë en alles wat nodig was. Al waarvoor die skool moes betaal, was die saad. In die winter is koring en in die somer tabak verbou. Die koring is gratis deur ’n Vrystaatse boer, mnr. P. Meintjies, geoes. Ná twee jaar is genoeg geld ingesamel om ’n bus te koop. Met dié bus kan die skoolkinders nou Krugerwildtuin en Bloedrivier toe, sê Malan.
14 KISSIES PERSKES
1968. Die magtige vrugte-uitvoerbedryf wat Suid-Afrikaners vandag ken, het ’n klein en beskeie begin.
In 1887 is sir Donald Currie van die destydse Castle Steamship Co. op besoek in Suid-Afrika. Sagtevrugteafvaardigings nader hom oor uitvoermoontlikhede. Toe hy terugkeer na Engeland, rus hy die skip Grantully Castle met ’n koelruimte toe. Dit het ’n totale inhoudsmaat van skaars 21 ton. Altesame 320 kissies druiwe word as ’n eerste proefneming Engeland toe gestuur.
Dit is ’n volslae mislukking – die verpakking en temperatuur was nie behoorlik nie en die druiwe kom in ’n uiters swak toestand by die bestemming aan.
Currie se skoonseun, Percy A. Molteno, ’n gebore Kapenaar, gee egter nie moed op nie. Danksy sy ywer word die skip Drummond Castle met ’n fyn beplande koelruimte toegerus. Net 14 kissies perskes vertrek Engeland toe, en word met groot belangstelling in Covent Garden ontvang.
Die skip wat die eerste besending sagte vrugte suksesvol Engeland toe geneem het, het ongelukkig ’n hartseer einde gehad. In 1896 verdwyn dit binne ses minute naby Kaap Ushant onder die water. Van die 245 passasiers kon net drie gered word.
KAPOK REGEER BOERDERY
1974. Die ysterhand waarmee topografie en klimaat in die Roggeveld regeer, gee ’n eiesoortige karakter aan boerdery op dié plato aan die soom van die Karoo. Dit bring ook mee dat boere soos mnr. Lampie Steenkamp van Blomfontein nie ál hul geld op een kaart waag nie.
Steenkamp is een van die Roggeveldboere wat reeds in Junie met sy diere berg-af sak na ’n draagliker omgewing. Dit is ’n tradisionele gebruik om in die winter vir ’n maand of vyf die koue en kapok te ontvlug en na ’n laergeleë gebied te trek, want dan kan feitlik geen dier op die hoogtes aan die lewe bly nie. En die boer berus hom daarin dat hy hom na die natuur moet skik . . .
Hoewel die Roggeveld vir sy puik Merino’s bekend is, glo Steenkamp daaraan dat ’n mens nie al jou geld op een kaart moet waag nie.
Nou boer hy ook nog met Border Leicesters, kruisskape, Landrasvarke, kruisings tussen Afrikaners en Rooi Poenskoppe, Boerbokke, koring en lusern.
OOM OUDS EN DIE WATERWYSERS
1966. Mnr. F.F. de Wit van Groblersdal, wat in die boerdery en wandel bekend is as oom Ouds, boer met lemoene en katoengewasse op die plaas Welgevonden (waar alles behalwe water, tot dusver, wel, gevonde is).
Moet nooit op hierdie man se plaas afklim en sê jy is ’n waterwyser nie.
Toe sy 8 000 draende lemoenbome deur die droogte bedreig word en sy waterkwota uit die
Loskopdam opgebruik is, koop hy ’n boormasjien – hy het immers boorondervinding in die 1933-droogte opgedoen. Die waterwysers misluk op ’n streep.
Eers ’ n kêrel wat ’n tabakstronk vat en daarmee na water soek. “Die man vat die stronk aan elke punt vas, hou dit dwars voor hom uit en hang daaraan soos ’n wafferse stuurman, dat ek eintlik skreeu: ‘Man, is jy dan te vrot om die ding vas te hou?!’ ”
Toe kom ’n vrou – ’n siener. “Jy sien, sy loop met haar elmboë gebuig en haar vuiste by haar skouers, soos mens nou sal muscle maak. As sy oor sterk water loop, voer sy so ’n ritteldans uit. Sy het ysterklip gekry – g’n water.”
Toe kom ’ n man wat met ’n bottel vol water op sy handpalm loop.
Toe ’n man wat met “die mouterkar se fanbelt” rondloop. Toe ’n dominee wat met twee stukkies dekriet op ’n lugfoto waterwys.
Oom Ouds wend hom toe tot die geoloë. “Hier kom ook eendag ’n man met ’n pragtige instrument wat lyk soos bicycle handles waarop net so ’n blink ster in die middel sit.”
Maar ook dít misluk. Uiteindelik besluit hy om self water te wys. Hy beveel die boorman – “sit die boor so ’n bietjie bokant die pragtige wildevyeboom daar in die lemoenboord”. En daar kry Oom Ouds toe water.
‘DAM-MAL’ MALAN
1972. Sy vriende noem hom “Dam-mal” Malan omdat daar al 131 damme op sy plaas gebou is, maar mnr. L.B. Malan, eienaar van die plaas Groenkloof naby Modderpoort in die OosVrystaat, is vasbeslote om erosie te bekamp en die vernielde veld op dié ou plaas van 2 400 ha te herwin.
Reeds in 1832 het die sendelinge Archibald en Edwards hier ’n Wesleyaanse sendingstasie bestuur. Vee is deur die jare in groot getalle aangehou en die veld is uitgetrap en verniel. Toe Malan in die laat 1940’s op Groenkloof kom, het hy net daar besluit om al wat bees en skaap is, te onttrek. Dit sou voortaan ’n saaiplaas wees.
In die erosieslote, wat op plekke tot 17 meter diep was, het hy slikdamme gebou. Op die landerye het hy kontoere gemaak. Met kruiptrekkers het hy van die slote toegestoot. In die diepste slote bou hy damme om te keer dat dit verder uitkalwe. Hy het ook ’n groot stormwaterwal van sowat 24 km lank gebou. Die damme strek oor ’n afstand van net meer as 10 km. Dit loop soos ’n groen band deur die plaas.
“Bewaring is die regte ding en dit móét toegepas word. As jy water bewaar, bewaar jy ook grond. En dit is wat ek hier doen. Dit is net ’n jammerte dat daar nie méér mense is wat dan nou kwansuis dam-mal soos ek is nie, want dan sou baie van ons plase beter gelyk het.”
KANAAL DEUR WOESTE WÊRELD
1952. Toe die bure van mnr. Norman Lagesen se plan gehoor het, het hulle gelag. “Dit is onmoontlik. Waar het jy gesien dat ’n boer ’n kanaal deur daardie berge kan bou?”
Lagesen, wat op die plaas De Rust in die omgewing van Witrivier boer, wou ’n kanaal van 17 myl vanaf die rivier tot in sy landerye bou. Dit is egter ’n woeste wêreld: Yslike tambotiebome, ondeurdringbare bosse vir myle aaneen, granietrotse en klipkranse, diep valleie en verraderlike moerasse, bergskeure en steil afgronde. Selfs die Voortrekkers het dié streek vermy.
Dit het vier jaar, 2 400 sakkies sement en ’n reusagtige hoeveelheid sand en klippe geverg, maar Lagesen het uiteindelik sy kanaal gebou – en nou boer hy heerlik met tabak, katoen, grondboontjies, piesangs, rys en koffie.
MOED SOOS MIN
1970. Op die plaas Berg-en-Dale, noordwes van Ellisras, boer ’n kort vrou met vereelte hande en swartgrys hare. Sy is mev. Sannie van Staden, wat op hierdie Bosveldplaas harde bene gekou het sedert sy en haar bedlêende man 19 jaar gelede daarheen getrek het.
Sy was die boer, huisvrou en verpleegster. Sy het self die koeie gemelk, water vir die diere gepomp, vuurmaakhout met die donkiekarretjie aangery en die ses kinders skool toe vervoer. Toe haar man ses jaar gelede oorlede is, het haar bure aangeraai dat sy ’n ander heenkome soek. Sy het egter vasgebyt en onderneem om elke sent twee keer om te draai.
Twee jaar gelede is die laaste paaiement op die plaas betaal – met genoeg geld oor om haar eerste yskas te koop. Die week daarna sluit sy by die veldherwinningskema van die departement van landbou-tegniese dienste aan.
Alleen ry sy die pale, drade en gereedskap met die donkiekarretjie aan en span die plaasdrade kragtens hul bepalings. Sy maak stene, bou ’n opgaardam en vergroot haar huis. Vanjaar kon sy uiteindelik ’n bakkie koop en daarmee ry sy die wêreld plat. Sy besoek ook vir die eerste keer in 18 jaar die distrik Vaalwater, waar sy grootgeword het.
ROLVAT UIT PIONIERSDAE
1953. Van al die kleurryke oorblyfsels van ons pionierslewe is die rolvat een van dié wat ’n mens deesdae die minste te sien kry. Dié slim patent is net in ’n betreklike klein deeltjie van die Noord-Kaap, naamlik die Namakwalandse Sandveld tussen die berge en die Weskus, gebruik. Dit het veral in verband met die treklewe ’n belangrike rol gespeel. In die tyd van die ysterwiel was dit nie ’n plesier om water vir huisgebruik, veral in die sandveld, op die wa of kar aan te ry nie.
Aan weerskante van die vat word daar dwarsplankies gespyker, waardeur daar reeds boutjies gedraai is. Die twee boutjies dien as ’n as waarom die vat rol. Daaraan word ’n riem, met ringe aan die punte, gehaak en die rolvat is reg vir sy reis. Boere wat ver van die water gestaan het, het groot vate gebruik wat deur een of twee donkies getrek is. Mense wat só water aangery het, was verplig om maar spaarsaam daarmee om te gaan. Daar was nie aldag genoeg om skottelgoed te was nie. Dan het vroue die skottelgoed “droogskoongemaak” – met sand uitgeskuur en met ’n droë lap uitgevee. “Water kan dit nie skoner was nie,” het ’n ou pionier my verseker.
— DR. P.J. VAN DER MERWE
BOER BOU BOMSKUILING
1966. Die Mau-Mau-opstand teen die Britse koloniale bewind in Kenia in die 1950’s, die burgeroorloë in die eerste helfte van die 1960’s in die Kongo en ’n radiopraatjie oor ’n kernontploffing het ’n Suid-Afrikaanse boer ’n reuse-skuilplek op sy plaas laat bou as voorsorgmaatreël teen enige sodanige bedreiging.
Mnr. L. De B. Austin, groot beesboer van die plaas Rietbokspruit in die distrik Barberton, se bomskuiling van vier verdiepings lyk van buite soos ’n yslike fort en van binne soos ’n luukse kasteel.
Die gebou is brandbestand, feitlik ontoeganklik vir voornemende indringers en ingerig om kernbestraling die hoof te bied.
Dit bestaan uit vyf ruim, gemeubileerde slaapkamers, goed toegeruste badkamers, ’n droom van ’n kombuis, ’n spoggerige sitkamer . . . en ’n gerieflike danssaal.
Vier ondergrondse vertrekke is ingerig vir noodtoestande. Die watertenks, wat saam 25 000 gelling (sowat 95 000 liter) hou, is ook ondergronds.
Bokant die vensters gaan sproeiers aangebring word as voorsorgmaatreël teen kernbestraling. ’n Gordyn van water voor die vensters in tye van bestraling sal, volgens Austin, die gevaar daarvan uitskakel.
’n Groot swembad onder dak wat met die skuiling verbind is, is deel van die veiligheidsmaatreëls. As die gevaar van bestraling bestaan, moet ’n mens jouself heeltemal in die water dompel as teenmaatreël, sê hy.
KIMBERLEY SE KATBOERDERY
1956. Rotte en muise kom nie by die pitvoer in die stalle en skure van die plaas Garvok naby Kimberley nie. Daar boer mnr. L.S. Fourie met 200 stoet-Friese – en vir feitlik elke bees wat daar is, loop ook ’n kat. Vir ’n myl of wat van die huis af sal jy nie ’n muis, slang of iets wat die Fouries skade kan berokken, teëkom nie. Daarvoor is die katte te goeie jagters.
Fourie is ’n groot liefhebber van diere en het eenvoudig nie die hart om één kat van kant te maak nie. Sy gunsteling is Groot Broekies – die enigste kat wat in die huis toegelaat word.
Toe ons Fourie vra hoeveel katte daar oor ’n jaar sal wees as hy nie nou iets aan die onbeheerde aantelery doen nie, het die man die slinger van die roomafskeier gelos, sy hoed teruggestoot en gesê: “Vra asseblief almal wat jy teëkom of hulle nie katte wil hê nie.”