Man van min woorde
Fred Mouton, “die stille reus van spotprente”, het 45 jaar gelede by die legendariese T.O. Honiball as kunstenaar oorgeneem. Só onthou oudredakteur Jean du Preez hom.
Voor ’ n mens praat oor Fred, oftewel “die enigmatiese Meneer Mouton”, soos hy al in ’n koerant genoem is, moet jy verduidelik hoe die weeklikse spotprent in Landbouweekblad ontstaan.
Maandae kom die redaksie bymekaar, neem die jongste uitgawe in oënskou, beraam planne vir die nuwe een se inhoud en bespreek dan watter warm nuusitem ’n spotprent werd is – en hoe só ’n prent rofweg kan lyk.
Ná die vergadering gaan een dan na Fred om die boodskap oor te dra. In my tyd het ek persoonlik afgestap na Fred se kantoor by Die Burger, in wie se diens hy eintlik is.
Ek en hy was goeie vriende, want ons het lank saam by die koerant gewerk. ’n Geselsie met hom was altyd verfrissend.
Sy kantoor was daardie tyd in die suidwestelike hoek van die sesde verdieping in die Naspersgebou, met sy lessenaar wat op Adderleystraat uitkyk.
Die proses het min of meer só verloop: Ek sou liggies klop, die deur stadig oopmaak, maar hy sou nie opkyk nie. “Grote, wat sê jy?” sou ek groet.
“Hei, Boeta,” sou hy antwoord en sy verfkwassie neersit, sy stoel terugskuif, sy linkerkantse onderste laai uittrek en sy voet daarop laat rus.
Ná ’n geselsie oor ditjies en datjies sou ek sê: “Luister, Grote. Kom ons praat gou oor die prent. Dít is hoe die redaksie oor vandeesweek s’n gedink het.”
Ek kon hom soos ’ n boek lees. As hy dadelik begin rowwe potloodsketse maak, het jy met verligting geweet hy hou van jou idee. Maar as hy in Adderleystraat op tuur, terwyl jy verduidelik, moes jy aanvaar jy sal iets anders moet probeer, hy gaan nie
vir die betrokke voorstel val nie. Om die stilte te verbreek, sou jy hom vra: “Nou vertel ’n bietjie, wat het jy die naweek weer als gebraai?”
“What a question!” sou hy onmiddellik reageer, want as jy Fred vinnig aan die praat wil kry, moet jy met hom oor kos en karre praat. Hy’s ’n kok van formaat en braai omtrent elke aand – en kan vir jou met rollende hande haarfyn verduidelik hoe hy dit voorberei het. Dermate dat jy kwyl sluk, só lekker klink dit.
En goeie tweedehandse karre met ’n interessante stukkie geskiedenis kan hy nou maar eenmaal nie weerstaan nie.
Hy sal maklik selfs Johannesburg toe vlieg om een te gaan haal wat hy iewers opgespoor het. Dan sal hy in detail vertel wat dié kar anders maak as die gewone.
So in die gesels oor karre of kos, sal hy dan skielik terugkom na die spotprent en sê: “Nee, man. Daai een gaan nie werk nie. Dit vertel dan net mooi niks nie – dit gaan soos ’n foto lyk. Wat’s jul tweede keuse?”
En dan het jy hom met daardie gedagte gelos. Hy sou later die dag laat weet: “Hei, Boeta. Die prent is reg, hoor.” Dikwels sou dit iets heeltemal anders wees as wat jy jouself voorgestel het, maar dit was altyd in die kol.
GEEN HAAS
Vir ’n vreemdeling kan Fred nors voorkom, maar vir vertrouelinge en vriende is hy presies die teenoorgestelde. Hy kan grappe opdis wat jou dubbel laat vou van die lag, maar moet hom nie na groot sosiale geleenthede nooi nie. Hy is op sy gemaklikste voor ’n vuurtjie, sy braaigoeters reg vir netnou se kole.
En dié jaag hy nou ook nie met ’n oormaat haas aan nie. Nee, hy sal eerder nóg ’n stompie of twee opgooi. “Hei, Boeta,” sou hy gemoedelik sê, “hy brand nog, ek gee hom kans.”
Oor sy renons in sosiale samekomste vertel hy hoe hy vir die bekendstelling van een van sy spotprentboeke skemeraand by ’n Kaapstadse restaurant was. Dié had ’n groot stoep wat op die straat uitkyk.
Fred sê hy was nie lus om met vreemdelinge geselsies aan te knoop nie. Dus ry hy eers stadig voor die restaurant verby om te kyk of daar darem iemand tussen die klomp op die stoep is wat hy ken. Eers met die derde verbyry sien hy: Aha, daar’s darem een man met wie hy kan gesels. En eers tóé het hy geparkeer en ingestap.
Fred teken al 45 jaar lank spotprente vir Landbouweekblad – en verkies om eerder deur sy prente te praat.