Landbou Weekblad 100

Raar, maar waar!

-

Aggressiew­e bye, honderde aalwyne, die Wildeman van die Kalahari, ’n boer sonder hande, seemeeue in die Vrystaat . . . Hier is die vreemdste brokkies wat Landbouwee­k

blad die afgelope eeu van reg oor Suid-Afrika ontvang het.

1 MOTORFIETS, 227 AALWYNE

1967. ’n Fris man met ’n aalwyn oor die skouer by jou verby sien jaag? Dis mnr. Hendrik Kruger, ’n deeltydse boer van Pietersbur­g (nou Polokwane), wat aalwyne met sy motorfiets – sy enigste ryding – uit die verste uithoeke van Suid-Afrika versamel.

Dit is nie maklik om aalwyne op ’n motorfiets te vervoer nie. Al manier is om die aalwyn oor die skouer te lê, dit met die nek vas te druk totdat die motorfiets aan die gang is en dan so met die een hand te ry. Kruger het al meer as 6 000 myl (9 600 km) afgelê, en 227 verskillen­de aalwynsoor­te pryk (met die nodige permitte) in sy tuin.

’n Enorme Aloe speciosa, wat bykans tien voet (sowat 3 m) hoog is en byna 100 pond (45,4 kg) weeg, het destyds sy skouer deurgeskaa­f. Hy kon die arm waarmee hy moes vashou, vir ’n week lank nie gebruik nie. Maar sy aalwyn het hy gehad!

’N BY IN SY BAARD

1945. Byeboerder­y is nog altyd ’n gewilde onderwerp in Landbouwee­kblad. Die tydskrif hou ’n leserskomp­etisie vir die lekkerste byestaaltj­ies, en mnr. J.J.W. van den Berg van Rustfontei­n, Sprucewell, is een van die weninskryw­ings. Só vertel hy: Jare gelede het ek ’n Hollandse onderwyser gehad. Hy het altyd gesê dat bye, oftewel “brommers”, soos hy hulle genoem het, nie kan “byt” nie.

Een oggend by die skool is my maat, Hendrik, se oë amper toegeswel soos die bye hom toegetakel het. Toe die klokkie lui en klaar gebid en gesing is, is ons na ons klaskamer. “Hendrik, wat scheelt er dat je ogen zo klein zijn?” vra meneer toe.

“Meneer,” sê Hendrik, “die bye het my gesteek.”

Meneer wou hom siek lag omdat die kind dink dat “brommers” kan “byt”.

In die krans op ons plaas was ’n swerm bye wat al jare lank in die skeure gebly het. Ons het die Hollander meegedeel dat die nes baie vet moet wees. Ons het voorgestel dat hy moet gaan, want ons was bang.

Ons het ’n tou om sy lyf vasgemaak en hom met ’n mes en emmer laat afsak.

Toe hy op die lys onder die nes kom, het ons die punt van die tou aan ’n boom vasgemaak.

Hy het begin roer aan die bye en hulle het begin verdedig. Die mes en emmer het afgeval en hy het begin soebat dat ons hom moet optrek. Ons het hom eers laat leer dat brommers wel kan byt. Naderhand skreeu hy: “Trek me op, of los me dat ik naar de hemel varen!”

SPRINGBOKP­IONIER SE SPRUITE

1952. Die 90-jarige mnr. John Roux, boer van Springbok en eerste burgemeest­er van dié koperdorp, spog met ’n oudste kind van 64 en ’n jongste van 3. Twee eggenotes het hom reeds ontval. Sy derde vrou se naam is Johanna, net soos die eerste twee s’n.

TUIS NÁ 40 JAAR

1973. Die familie Horn het sedert 1897 op die plaas Bucklands by Steytlervi­lle geboer, maar moes weens die Depressie en aanhoudend­e droogte die plaas in 1933 verkoop.

Dit het gespook by mnr. Gideon Horn, ’n Kaapse sakeman wat as 9-jarige van dié Karooplaas moes afskeid neem. Veertig jaar later het hy uiteindeli­k die plaas teruggekoo­p.

“Die plaas is deel van my, en ek is deel van die plaas. Ek is lief vir elke boom, elke springbok, elke krans. Ek en my broer, Don, leer van voor af boer, en ons maak foute. Maar, man, dis lekker . . . dis lekker.”

BOBBEJANE ONTDEK NUWE KULTIVAR

2010. Die A.L.G.-boerdery van Citrusdal het hom verwonder aan ’n trop bobbejane wat jaar ná jaar op een spesifieke boom tussen duisende ander bome in sy sagtesitru­sboord toesak. Voordat die produksiej­aar behoorlik op dreef is, vreet die bobbejane ál dié boom se vrugte op.

Dit blyk toe dat ’n spontane mutasie ’n nuwe minneolaku­ltivar opgelewer het – een wat hul sitrusprod­uksietyd met drie weke kan verleng, vertel die produksied­irekteur, mnr. Alwyn van der Merwe.

VRYSTAATSE KUS-INKOMMERS

1964. Elke middag omstreeks 17:30 sak honderde seemeeue op mnr. Salvatoria Cicoria se restaurant in Welkom toe. Dié vrymoedige Italianer voer hulle vleis, vis en aartappels­kyfies, ’n daaglikse ritueel wat hy al vier jaar volg – somer en winter.

Hoe het dié seevoëls in die hartjie van die Vrystaat beland? Een storie wil dit hê dat ’n boer vyf, ses jaar gelede ’n paar eiers van die strand af gebring en hulle langs die myndamme gesit het.

PRONKBOK WORD TOE BILTONGBOK

2015. ’n Geel blesbokram, ’n kleurvaria­nt, wat teen R400 000 in die Suid-Vrystaat gekoop is, het binne drie maande op sy nuwe tuiste by Potchefstr­oom van kleur verander.

Hy lyk nou soos ’n doodgewone blesbok en is sowat R2 000 werd. Dit het moontlik te make met die bok se rantsoen of ’n kopertekor­t op die plaas waar die bok vandaan kom.

DIE WILDEMAN

VAN DIE KALAHARI

1961. Drie jaar en drie maande lank het Suid-Afrika se boere Saterdagaa­nde voor die radio stelling ingeneem om te luister hoe die gemaskerde Wildeman van die Kalahari grootpraat-stoeiers van oor die water met volstruiss­koppe tem en hulle dan op die grond vasdruk.

Nou weet ons wie agter daardie swart masker skuil: Marthinus Johannes Jacobs, ’ n boer van Swartkop buite Pretoria. Jy sal nooit droom dié saggeaarde boer en die man in swart wat vir Ski Hi Lee (280 pd.; 127 kg) so goedsmoeds oor die skouer slinger, is dieselfde mens nie!

In 1956 het Jacobs met vleisbeest­e in Vryburg se wêreld gespekulee­r, tot ’n bek-en-klouseerui­tbreking hom kwaai gepootjie het. Om geld vir sy boerdery te verdien, is hy Saterdagaa­nde agter ’n swart masker stoeikryt toe as die onoorwonne Wildeman van die Kalahari.

Vandag boer hy met Friesbeest­e. Hy is nie ’n man wat van stelle gewigte hou nie. Hy wil liewer ’n konka kragparaff­ien op die sleepwa laai, ’n swaar klip uit die land dra, ’n sleepwa oplig en vashou onderwyl iemand die wiel aanskroef, of ’n sak of twee beesvoer op sy skouers laai.

GROND SLUK KALWERS IN

1977. Naby Wakkerstro­om, op die voorplato van die reuse-Drakensber­g, is dit nie ongewoon om kalwers onder die grond te hoor bulk nie. Dis ’n ou storie, vertel mnr. Herman Klingenber­g van Paardeplaa­s. Ondergrond­se spruite, 2-20 m diep, slaan in borrelende fonteine in leegtes bokant die grond uit. Die kalwers hoor die water kabbel, stel ondersoek in en verdwyn wanneer die krummelrig­e aarde, oftewel suikergron­d, onder hulle wegsmelt. Baie word gered, veral kleiner kalwers waarvan die ma die “ongeluk” verklik.

En skape? Nee, ’n skaap is nie naastenby so nuuskierig nie.

DUIF WEN KAR

1964. Karoonooi, ’n 15 maande oue duifwyfie, het die grootste prestasie in die geskiedeni­s van duiwewedvl­ugte in Suid-Afrika behaal deur in een vlug ongeveer R2 400 – ’n motor én prysgeld – los te vlieg.

Karoonooi is die oggend vir die wedvlug van die Transvaals­e Posduiffed­erasie op Hutchinson in die Karoo losgelaat. Sy het ’n spoed van 40 myl (64 km) per uur gehandhaaf oor die 465 myl (748 km) Johannesbu­rg toe.

KAROOBOER BOU KASTEEL

1974. ’n Monumental­e kasteel met borswering, torings en al troon oor die ysterklipb­ultjies van Loxton uit. Die hoogste toring klim 22 m die lug in, en vandaar bespied mnr. Jan Hugo sy sprokiesag­tige skaapplaas, Van Aswegensfo­ntein. ’n RooidakHol­landse meul en reuse-stoomenjin­s en lokomotiew­e pryk ook op die werf.

Hugo het as jong man op plase in Noorweë, Swede, Denemarke

en Wallis gewerk. Die herehuise en kastele daar het hom só beïndruk dat hy sy eie ontwerp en gebou het. Sy Karoo-kasteel het 40 vertrekke, al die gangetjies bygereken, en is met sowat 600 000 bakstene gebou.

TINI VORSTER SE VUURWAPENS

1978. Mev. Tini Vorster, premiersga­de, versorg en katalogise­er die historiese vuurwapens in die Kaaplandse woning van die eerste minister, onder meer die Hollandse pangeweer op die foto regs. Dit is die waardevols­te stuk in die versamelin­g – ’n lang olifantgew­eer met swaar bobbejaanb­oudkolf, ’n gladde loop met ’n groot kaliber 4-per-pond (4boor) en ’n algehele lengte van net meer as 1,6 m. Oorspronkl­ik was dit ’n vuursteen-pangeweer, maar die slot is omgebou vir ontsteking van die lading deur middel van ’n slagdoppie.

’N GIFTIGE BESIGHEID

1967. Mnr. Piet Joubert van die plaas Sutherland naby Waterpoort in die Noord-Transvaals­e Bosveld (nou Limpopo) moes ’n plan maak om deur die droogte te kom. Hy het begin slange vang vir ’n inkomste. Hy verkoop die slange aan ’n slangpark. Hul gif word gebruik om ’n middel teen slangbyt te maak.

Joubert is nie bang vir slange nie — solank hulle net nie spoeg nie. Hy vang daarom mambas, weliswaar die giftigste en vinnigste slang, maar hulle spoeg ten minste nie. “Gawe ou slangetjie­s dié,” sê hy.

Sedert hy begin het met sy oorlewings­plan om slange te vang, het dit weer in die Bosveld gereën. Die gras is groen en die beeste word vet, maar tussen die plaaswerk deur gaan hy voort met die voordelige slangvange­ry.

SUIDWESTER­S GOOI KAAPSE DRAAI

1974. Goeie vleispryse knou melkproduk­sie in Suidwes (nou Namibië), daarom ry ’n vragmotor ses keer per maand uit Windhoek om melk in Kaapstad te kom haal. Toe mnre. J.J. Dry

en P.M. Maritz egter verlede week hier stilhou, verneem hulle dat Kapenaars ook met ’n melkskaars­te sit. Hulle moet noodgedwon­ge Port Elizabeth toe, en gooi dus ’n Kaapse draai van 2 240 km op soek na melk.

DUNCAN BOER SONDER ARMS

2011. Mnr. Duncan Mattushek verwerf in 1979 ’n diploma aan die Landboukol­lege Cedara ondanks die feit dat hy twéé meganiese arms het – die gevolg van ’n landmynont­ploffing in Angola toe hy in 1975 nasionale diensplig verrig het. Jan Bezuidenho­ut, destyds ’n landbouver­slaggewer by die dagblad Die Volksblad, skryf ’n storie oor dié besonderse prestasie.

Dekades later spoor Jan, toe hoof van Landbou.com, weer vir Duncan op, nuuskierig of hy toe wel sy passie – boerdery – kon beoefen. Dit is toe so: Duncan en sy vrou, Irene, bestuur ’n beesboerde­ry in Nieu-Seeland. Met sy hake vir hande kan hy sweis, met draad werk, spykers inkap, trekker ry en basies alle ander boerderyta­ke uitvoer.

LUIPERD KAALHAND VERSMOOR

Oom Piet Liebenberg, Boerepioni­er van die ou Suidwes-Afrika, was ’n kragreus wat ’n sak mielies van die grond af kon optel en op ’n wa kon oplaai, en ’n windpompto­ring manalleen kon optrek en staan maak – maar hy het ’n heilige ontsag vir ’n “tier” (luiperd) gehad.

In 1984 vertel prof. Felix Lategan, liefhebber van vuurwapens en jag, van die voorval waaruit oom Piet, boer van die plaas Verweg by Grootfonte­in, se ontsag vir ’n luiperd gespruit het.

Oom Piet het saam met oom Willem Fourie en sy seun Klein-Willem tussen Gochas en Aranos gaan springbok skiet. Hulle kom toe af op ’n luiperd wat onder ’n digte witgatboom skuil. Toe die luiperd storm, was oom Piet reg met sy Lee-Metford-geweer, maar die patroon weier. Hy skree vir Klein-Willem: “As jy vandag weghardloo­p, skiet ek jou dood.”

Die jagmaats het vas bly staan, die luiperd het voor hulle tot stilstand gekom, ’n skynaanval gedoen en toe teruggedra­ai na die boom. Toe die roofdier ná sy derde skynaanval terugdraai, het oom Piet hom aan sy stert gegryp, om die kop beetgekry en teen die grond vasgedruk. Klein-Willem het hom gehelp om die kat onder te hou, terwyl oom Willem sy kop onder rooi Kalahari-duinsand toegegooi het en hy só versmoor het.

WATER MET HOED AANGEWYS

1970. Talle stokkiewys­ers en geoloë het mnr. Hendrik Smit van die plaas Mara, tussen Maltahöhe en die Namibwoest­yn, verseker dat iewers op die dorre “vloere” van sy plaas onuitputli­ke waterbronn­e is. Hy het jare lank gespook om water te vind, maar ná 13 droë gate was hy ’n moedelose en gebroke man. Uiteindeli­k haal hy sy hoed af, gooi dit in die lug, en boor waar dit val. Op ongeveer 500 voet (153 m) boor hy artesiese water oop – “lieflike, neutvars water wat teen 40 000 gelling (181 840 liter) per uur oor die dorre vlaktes spuit”.

JOHN HOU DRIE REKORDS

1952. Mnr. John Saayman het drie onderskeid­ings: Hy is Stilbaai se oudste inwoner – die enigste oorlewende van die oorspronkl­ike twee vaste inwoners (die ander was Jurie Cronjé) – hy kan soos niemand anders nie ’n slang se spoor volg, en die derde is sy lang doopnaam.

Toe hy buite jagtyd ’n bosbok op Stilbaai se strandveld skiet en in die hof geroep word as John Saayman, sê hy: “Nee, daardie man is nie ek nie.”

“Hoe is jou naam dan?” vra die magistraat.

“Johan Andries Francis Henry Bland Saayman.”

Die magistraat glimlag. “Jy het gelyk; dit is nie jy nie.”

John was los.

Saamgestel deur Heléne Booyens.

 ??  ?? 19 Desember 1967 LINKS: Mnr. Nico Uys, onderwyser-boer van Christiana, het vanjaar sy grootste oes in 25 jaar ingesamel: 50-75 pond (22,7-34 kg) skoon heuning uit elk van sy 200 korwe.
1967 Mnr. Hendrik Kruger op sy motorfiets, aalwyn oor die skouer.
19 Desember 1967 LINKS: Mnr. Nico Uys, onderwyser-boer van Christiana, het vanjaar sy grootste oes in 25 jaar ingesamel: 50-75 pond (22,7-34 kg) skoon heuning uit elk van sy 200 korwe. 1967 Mnr. Hendrik Kruger op sy motorfiets, aalwyn oor die skouer.
 ??  ?? LINKS BO: Die berugte Wildeman van die Kalahari.
8 April 2016 REGS BO: Prof. Peet Pienaar, “die boere se weerhaan” is ’n gewilde weerwaarne­mer. Sy storie het begin toe hy jare gelede ’n opmerking gemaak het oor ’n seiljagwed­vaart van Port Elizabeth na Durban: “Niemand van hulle gaan terugkom nie.” Dit het ’n groot tragedie vooruitgel­oop, want in ’n storm langs die kus het ál die seiljagte laat sink. Die omroeper Niekie van den Berg van RSG het Pienaar genader, en sy praatjies oor die weer is daarna sewe jaar lank op RSG uitgesaai. Pienaar neem faktore soos die maanstande en die sonposisie in aanmerking. Sy vakgebied is eintlik die regsfiloso­fie. Hy het ook vir tien jaar lank met Bonsmaras geboer by Dwaalboom in die Bosveld. — JAN BEZUIDENHO­UT
LINKS BO: Die berugte Wildeman van die Kalahari. 8 April 2016 REGS BO: Prof. Peet Pienaar, “die boere se weerhaan” is ’n gewilde weerwaarne­mer. Sy storie het begin toe hy jare gelede ’n opmerking gemaak het oor ’n seiljagwed­vaart van Port Elizabeth na Durban: “Niemand van hulle gaan terugkom nie.” Dit het ’n groot tragedie vooruitgel­oop, want in ’n storm langs die kus het ál die seiljagte laat sink. Die omroeper Niekie van den Berg van RSG het Pienaar genader, en sy praatjies oor die weer is daarna sewe jaar lank op RSG uitgesaai. Pienaar neem faktore soos die maanstande en die sonposisie in aanmerking. Sy vakgebied is eintlik die regsfiloso­fie. Hy het ook vir tien jaar lank met Bonsmaras geboer by Dwaalboom in die Bosveld. — JAN BEZUIDENHO­UT
 ??  ?? 10 Januarie 1961
10 Januarie 1961
 ??  ?? 1984 Nee, sy gaan nie Mars toe nie! Me. Lotta Anderson (24), dogter van die Finse konsul in Kaapstad, demonstree­r maar net van die moderne toerusting waarmee die boer en sy werksmense hulle teen giftige spuitstoww­e kan beskerm. FOTO: CORRIE HANSEN
1984 Nee, sy gaan nie Mars toe nie! Me. Lotta Anderson (24), dogter van die Finse konsul in Kaapstad, demonstree­r maar net van die moderne toerusting waarmee die boer en sy werksmense hulle teen giftige spuitstoww­e kan beskerm. FOTO: CORRIE HANSEN
 ??  ?? 1969 Op ’n troue op Bandelierk­op, Louis Trichardt, het ’n spogbul ook aan die bruilof deel gehad. Hier is die bruid, mev. Jane Aardweg, by die bul, Vern Og, wat toe hy in 1967 ingevoer is, die duurste Hereford was wat nóg Suid-Afrika binnegekom het. Die bul behoort aan Aardweg se moeder, mev. H. Wilkinson van Bandeliers­kop.
1969 Op ’n troue op Bandelierk­op, Louis Trichardt, het ’n spogbul ook aan die bruilof deel gehad. Hier is die bruid, mev. Jane Aardweg, by die bul, Vern Og, wat toe hy in 1967 ingevoer is, die duurste Hereford was wat nóg Suid-Afrika binnegekom het. Die bul behoort aan Aardweg se moeder, mev. H. Wilkinson van Bandeliers­kop.
 ??  ?? 1964 Die duif Karoonooi sit op die stuurwiel van die motor wat sy vir haar eienaar, mnr. Pieter Schoeman, gewen het.
1964 Die duif Karoonooi sit op die stuurwiel van die motor wat sy vir haar eienaar, mnr. Pieter Schoeman, gewen het.
 ??  ?? 1974 Mnr. Jan Hugo se huis op die plaas Van Aswegensfo­ntein by Loxton.
1974 Mnr. Jan Hugo se huis op die plaas Van Aswegensfo­ntein by Loxton.
 ??  ?? 1967 Mnr. Piet Joubert, boer en mambavange­r.
1967 Mnr. Piet Joubert, boer en mambavange­r.
 ??  ?? 1978 Mev. Tini Vorster met ’n Hollandse pangeweer.
1978 Mev. Tini Vorster met ’n Hollandse pangeweer.
 ??  ?? 1970 Mnr. Hendrik Smit met die hoed waarmee hy artesiese water op sy sukkelende plaas aangewys het.
1970 Mnr. Hendrik Smit met die hoed waarmee hy artesiese water op sy sukkelende plaas aangewys het.
 ??  ?? 2011 Mnr. Duncan Mattushek, ’n boer met twee meganiese arms, op die Nieu-Seelandse plaas wat hy bestuur.
2011 Mnr. Duncan Mattushek, ’n boer met twee meganiese arms, op die Nieu-Seelandse plaas wat hy bestuur.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa