VERTROUENSBREUK
Die uiteenlopende openbare reaksie op die bekragtiging van die Onteieningswet deur die Parlement (pres. Zuma moet dit nog net onderteken), is ’n aanduiding van hoe min Suid-Afrikaners die mense wat die besluite neem, vertrou.
Ongelukkig is daar ’n goeie rede daarvoor. Volgens dr. Martyn Davies, besturende direkteur van ontluikende markte by Deloitte, vernietig niks ’n land se welvaart so vinnig soos ’n kombinasie van korrupsie, dogmatiese ideologie en konflik nie.
In Suid-Afrika is korrupsie volop, terwyl daar geen tekort aan onbuigsame en onpraktiese ideologie is nie, ondanks genoeg internasionale voorbeelde wat die gevare uitwys. Soos Venezuela, wat deur Julius Malema en ander linkses bewonder word, maar waar grootskaalse nasionalisering en ekonomiese wanbestuur die gemiddelde maandelikse salaris van R15 583 tot R156 laat tuimel het.
En konflik? Wel, wat anders noem ’n mens die malligheid van skole afbrand, universiteite beskadig en die moord op boere?
So, ja, al die bestanddele vir ’n groot ramp is hier. Dan het ons nog nie eens begin praat oor boere se unieke probleme nie, soos die onaangename vooruitsig van die komende droë winter of skerp stygende produksiekoste nie.
Daar is egter hoop. Prof. Elmien du Plessis, regskenner van die Noordwes-Universiteit, sê die vorige onteieningswetgewing het die staat in elk geval ál die magte gegee om voor die voet te onteien, maar dit het nooit gebeur nie. En, ja, die definisie van eiendom is wyd, maar die howe sal hulle nog uitspreek daaroor, en daar moet in elk geval baie goeie redes wees vir enige onteiening.
Op RSG vertel Annelize Crosby van Agri SA dat die formulering van die Onteieningswet eintlik ’n baie deeglike proses was waarin almal geken is en wysigings gemaak is.
Ja, daar is steeds groot ongemak dat al die wetgewing wat tans voor die land se wetgewers dien, as ’n geheel beskou eiendomsreg aantas. Daar is egter geen wetgewing ter wêreld wat bestand is teen die aanslae van volslae politieke rampokkery nie. Kyk maar net noord van die Limpoporivier.
Boere se grootste en beste verweer teen al dié nonsens was egter te sien op oom Frans Slabbert en sy seun Kosie se onlangse boeredag in die distrik Dordrecht in die Noordoos-Kaap. Daar waar veldskape vroegoggend na die krale vir beoordeling aangery word, waar insetverskaffers hul baniere optrek en Llewellyn Venter sy handgemaakte skaapkrale onder ’n wilgerboom opslaan.
Waar oom Kesie jaffels en stomende koffie in die klipskuur teen die geniepsige oggendkoue bedien, terwyl planne vir die komende winter bespreek word. Waar die mooi skape in die krale die wêreldgehalte-kundigheid en vermoëns van ons boere vergestalt.
Dit is iets wat niemand kan wegvat nie — die besonderse vermoë om iets uit niks te skep nie; om winsgewend te kan boer. Kyk maar na ons boere in Afrika. Dit maak nie saak of die ekonomie sukkel of hoe wild die politiek raak nie, hulle boer in Mosambiek, Angola, Zambië en tot in Soedan. In Zambië het ek onlangs die oud-Zimbabwiër Graham Rae ontmoet. Nadat hy feitlik alles in sy tuisland verloor het, het hy weer ’n groot, gediversifiseerde boerdery staangemaak met beleggers se geld en sy eie kundigheid. Want almal moet elke dag eet, ook die politici. — CHRIS BURGESS Media24 Weeklikse Tydskrifte
BESTEL SÓ Gaan na die aanlynwinkel op Landbou.com en klik op die knoppie wat lees Winkel, of gebruik die internetadres http://winkel.landbou.com/ of bel Johan Terblanche by tel. 021 406 4962.