Landbouweekblad

Vrystaatse boere raadop oor skaapdiewe

- JOHAN NORVAL

DIE Noordoos-Vrystaat loop deur onder ’n goed georganise­erde sindikaat skaapdiewe wat vandeesmaa­nd op twee agtereenvo­lgende naweke meer as 50 Merino’s gebuit het.

Tot dusver is daar nog geen leidrade wat sal help om die skuldiges vas te trek nie.

Voorverled­e naweek is 31 swaar dragtige ooie uit ’n kraal op die plaas Mikpunt van mnr. Pieter Japp van Steynsrus gesteel, oor twee plase gejaag en op ’n padreserwe geslag. Die diewe is vort met die karkasse. Die naweek voor dit is 23 ooie op die plaas van mnr. Jurie Wessels by die Wonderkop-stasie tussen Steynsrus en Kroonstad geslag.

Mnr. Niekie Grobler, veiligheid­sverteenwo­ordiger van die distriksbo­ere-unie Steynsrus, sê die diewe slag 20 tot 25 skape op ’n keer. “Hulle stel net in die karkasse belang en die skape se velle en afval word net so in die veld gelaat. Gewoonlik gebeur dit in die hoek van ’n kamp by ’n teerpad,” sê hy.

Die voorval by Mikpunt is die vierde in sy soort vanjaar in die gebied. In Mei is altesaam 25 Merino-ramme en -hamels van mnr. André Nezar in die distrik Steynsrus geslag en gesteel. Die afval van 17 skape is gevind en agt is vermis.

Mnr. Stefan van Huyssteen van die plaas Belfry tussen Steynsrus en Senekal het op 21 April 18 dragtige ooie op dieselfde wyse verloor. Sy verlies aan Dohne-Merino’s vanjaar staan al op 47 en die totaal in die afgelope twee jaar op 225.

Hy beraam sy persoonlik­e skade op sowat R500 000, met die produksiew­aarde van die diere uitgesluit. –

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa