Landbouweekblad

TERUGSLAG VIR GLIFOSAAT IN EU

-

DIE politieke kartetse vlieg oor vastelande en tussen drukgroepe nadat ’n voorstel dat verkope van die onkruiddod­er glifosaat in die Europese Unie (EU) tydelik voortgesit mag word, amptelik van die hand gewys is.

Drie EU-lidlande met van die meeste inwoners – Frankryk, Duitsland en Italië – wat minstens 65% van die unie se burgers verteenwoo­rdig, het buite stemming gebly, wat meegebring het dat die nodige meerderhei­dsteun vir die voorstel nie verkry kon word nie.

Die lisensie vir die verkoop van glifosaat in die EU verstryk einde vandeesmaa­nd.

Die hernuwing van die lisensie vir die volgende 15 jaar het die afgelope maande wye teenstand vanaf verskeie drukgroepe en aktiviste ontlok. Hulle vrees onder meer dat die middel kankerwekk­end is.

Die Europese Kommissie, die EU se uitvoerend­e arm, het intussen voorgestel dat verkope tydelik vir 12 maande tot 18 maande toegelaat word, terwyl die Europese agentskap vir chemiese middels ’n hersiene standpunt oor glifosaat se gesondheid­simpak formuleer.

Dié kompromis is nou in die jongste stemming verwerp en het die toekoms van glifosaat, die wêreld se algemeenst­e onkruiddod­er, in Europa in onsekerhei­d gedompel.

Die Europese glifosaat-taakgroep, bestaande uit chemiese maatskappy­e en wat in die lewe geroep is om ’n veldtog ten gunste van die hernuwing van die lisensie te voer, het in reaksie die “uiterste verpolitis­ering” van die hernieu-proses, wat op wetenskapl­ike feite gegrond behoort te wees, betreur.

“Die skielike verstrykin­g van die lisensie sal ernstige gevolge vir Europese boere hê. Lidlande se besluit om buite stemming te bly, is ’n hartseerte­ken van hoe polities gelaai die proses geraak het,” het mnr. Richard Garnett, die groep se voorsitter, gesê.

Hy het daarop gewys dat die Europese agentskap vir chemiese middels in die verlede al bevind het dat glifosaat onwaarskyn­lik kankerwekk­end is.

RIGLYNE

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa