BELÊ REG IN WATER EN GROND VIR BESPROEIING
Die liedjie lui “kinders moenie in die water mors nie; die oumense wil dit drink”. Eintlik moet ons sing “want die kinders wil dit drink”. Die goeie bestuur van water – veral vir besproeiing – sal in die toekoms al hoe belangriker word namate Suid-Afrika
TEEN 2050 sal die wêreld waarskynlik sowat 70% meer kos moet lewer om in die groeiende wêreldbevolking se behoefte te voorsien. Die landbou het dus uitstekende groeigeleenthede. Dit kom egter teen ’n prys, en om die pas van produksie vol te hou, is nuwe tegnologie nodig.
Toekomstige neigings in voedselproduksie het egter een ding gemeen: water. Sonder water en die doeltreffender benutting daarvan sal ons nie nuwe geleenthede kan benut nie. Water en die grond wat daardeur besproei word, gaan duur word.
Ons word egter deur ’n groot uitdaging in die gesig gestaar, en dit is om die beskikbaarheid van besproeiingswater vir voedselproduksie beter te benut.
SKAARS HULPBRON
Die wêreld se gemiddelde langtermynreënval is ongeveer 860 mm. In SuidAfrika is dit 495 mm, ongeveer die helfte van die SuidAfrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se gemiddelde reënval, naamlik 948 mm.
As ons in ag neem dat watervoorsiening vir besproeiing nie veel kan uitbrei nie, beteken dit boere se hektare wat onder besproeiing is, kan in die toekoms net toeneem in waarde.
Die behoefte aan water vir stedelike en industriële gebruik gaan in die toekoms toeneem en watervoorsiening vir landboudoeleindes gaan onder ál meer druk kom.
Ekonomiese groei is afhanklik van water as hulpbron. Indien ons nie genoeg water vir ekonomiese groei het nie, kan dit ons ekonomiese groei beperk. WATERVERBRUIK IN SUID-AFRIKA
VRAAG EN AANBOD
Die instituut vir sekerheidstudies sê SuidAfrika se waterhulpbronne op nasionale vlak word oorbenut. Die land is kwesbaar vir droogtes en dit kan ’n humanitêre en omgewingsramp meebring indien dit nie reg bestuur word nie.
SuidAfrika se huidige planne is nie voldoende om in die groeiende vraag na water te voorsien nie en ons sal bykomende planne moet maak om die gaping tussen vraag en aanbod te oorbrug. Die grootste bydrae kan gelewer word deur waterverbruik op munisipale vlak te verminder, gebruikte water te herwin en om ondergrondse waterhulpbronne beter te benut.
As ons die bogenoemde doeltreffend doen, sal die gaping tussen vraag en aanbod tot 2023 aanwesig bly. Sodra die aantal mense per miljoen kubieke meter water die perk van 2 000 oorskry, kan ’n land nie ekonomies groei nie. Dít lei dan tot toenemende risiko’s vir die volhoubaarheid van politieke stelsels en die ekonomie.
Buiten Israel, is daar nie eintlik ’n land wat hierdie beperking kon oorkom nie. SuidAfrika het uitstekende tegnologie en kapitaal nodig om dié probleme binne tien jaar die hoof te bied.
WATERVERBRUIK
Die Departement van Water en Sanitasie het in Januarie syfers oor die geregistreerde waterverbruik en hektare in hul register van watergebruik bekend gemaak (sien GRAFIEK ).
In 2014 was 1 440 748 ha onder besproeiing geregistreer, waarvan 1 252 601 ha jaarliks besproei word. Dié syfers moet nog geverifieer word.
Die toptien gewasse wat die meeste in SuidAfrika besproei word in terme van hektaargrootte, van groot tot klein, is mielies, weidings, somergroente, lusern, koring, suikerriet, druiwe, aartappels en tamaties, en sitrus.
Die grafiek dui aan waar die meeste hektare besproei word.
BESPROEIING
’n Belegging in besproeiingsgrond is ’n goeie keuse. Mnr. Felix Reinders, ’n besproeiingsingenieur by die Landbounavorsingsraad in Pretoria, sê egter produsente wat in besproeiingsgrond wil belê, moet op die volgende let: Kry ’n waterlisensie om te kan besproei van die Departement van Waterwese. Het jy genoeg water om besproeiing reg te doen, naamlik een tot twee liter per sekonde per hektaar? Is jou stelsel tegnies en landboukundig reg ontwerp deur ’n ingenieur of gekwalifiseerde ontwerper van die SuidAfrikaanse Besproeiingsinstituut? Is jou besproeiingstelsel ekonomies uitvoerbaar en kan jy die belegging wat jy daarin maak terugbetaal uit die gewasse wat jy beplan om daarop te verbou? ’n Vroeë belegging in besproeiingsgrond in SuiderAfrika op ’n plek waar verstedeliking en nywerheidsontwikkeling nie met jou om die water gaan meeding nie, is ’n goeie benadering. Dit sal goedkoper wees om water in die vorm van voedsel te vervoer na waar die vraag daarna is, pleks van water oor lang afstande en groot koste aan te lê.
Mnr. Wessel Lemmer is ’n senior ekonoom by Absa-Agribesigheid in Johannesburg.