AKKURATER SENSUS TEL JAGLUIPERDS
Daar is wêreldwyd kommer dat jagluiperds besig is om uit te sterf. In die begin van die 20ste eeu is geglo daar is sowat 100 000 van dié vinnige diere op aarde, terwyl die internasionale natuurbewaringsorganisasie (IUCN) onlangs geraam het dat net 6 000 oor is.
Om te bevestig of jagluiperds wél op die rand van uitsterwing staan, moet kenners weet hoe groot troppe is en hul getalle met verloop van tyd monitor om vas te stel of hul getalle toeneem, afneem of stabiliseer.
Totdat dr. Femke Broekhuis, projekdirekteur van die Mara-jagluiperdprojek van die Keniaanse natuurlewetrust, en ’n span navorsers ’n nuwe manier ontwikkel het om akkurate tellings te doen, is getalle hoofsaaklik op die menings van kundiges gegrond.
Jagluiperds het al in 20 lande uitgesterf en beweeg net in 17% van hul oorspronklike habitat, hoofsaaklik in Botswana, Namibië, Suid-Afrika, Kenia en Tanzanië.
Femke sê dit is moeilik om jagluiperds te tel omdat hulle oor sulke groot oppervlaktes beweeg en jag. “In die Serengeti, ’n nasionale park in Tanzanië, beweeg mannetjies en wyfies oor sowat 800 km2 en in Namibië is dit gemiddeld 1 647 km2.
Data is drie maande lank in 2 400 km² van die Masai Mara, ’n nasionale reservaat in Kenia, versamel om te verseker die navorsers maak voorsiening vir vrektes, geboortes, en migrasie in en uit die gebied.
Die groep van vyf veldvoertuie het 8 400 km gery. Die identiteit van elke jagluiperd wat die navorsers teëgekom het, soos bepaal deur die unieke patroon van die kolle op sy vel, is aangeteken, asook wanneer en waar die jagluiperd gesien is, en ook wanneer en waar dit vir ’n tweede keer gesien is.
Die data is ontleed met ’n model wat beter inligting verskaf. Dit vermy oorskatting, want dit onderskei tussen jagluiperds wat net die opnamegebied besoek en dié wat permanent daar bly. Die model maak ook voorsiening vir die waarskynlikheid dat jagluiperds gesien word en help dat hul getalle nie onderskat word omdat nie elke individu in ’n trop gesien is nie. Die model sluit nie, soos ander opnames, dierspore in nie.
Die navorsers het bevind daar is 1,28 volwasse jagluiperds per 100 km2. Dit is laer as kundiges se vorige tellings en skattings, dalk omdat daar nou metodes is om die akkurate getalle te bepaal. Al is die syfer laag, is dit hoër as die skattings vir ander gebiede in Afrika, soos Algerië en Botswana, waar die jagluiperddigtheid onderskeidelik sowat 0,05 dier en 0,60 dier per 100 km² is.
Al is daar meer jagluiperds per 100 km² in die Masai Mara, beteken dit nie hulle word nie bedreig nie. Femke sê in ’n artikel op die webwerf die resultate van hul opname kan help om vas te stel watter uitwerking habitatverlies, minder prooi en konflik tussen mense en wild op jagluiperdgetalle het.