Landbouweekblad

Swaarverdi­end se spoke

Geen geluk kon op Swaarverdi­end oorleef nie, tot die kunstenaar-meisie met haar bos rooibruin hare daar aangekom het.

-

Vir oulaas staan hy op die koppie bokant die opstal en skreef sy oë teen die laatmiddag­son. Hy teug die reuk van stof en veld diep in sy longe, voel hoe die bekendheid daarvan iets diep binne hom laat roer – soos elke dag gedurende die afgelope 31 jaar. Die liefde vir dié grond, die plaas, die koppies en klippe is deel van hom, soos die DNS wat sy ysblou oë en die vaalblond van sy hare bepaal het. Hy sug en kyk vir oulaas verby die sementdam met die windpomp wat vier geslagte al water pomp vir Swaarverdi­end se diere, verby die lande met gewasse wat hy nie dié jaar sal oes nie.

Uiteindeli­k dring Jakkals, die Jack Russell, se blaf- en huilgeluid­jies tot hom deur. “Jakkals, kom hier, meisie!” Renier roep en gee ’n lang fluit, maar die hondjie luister nie. Hy word yskoud. Voor die hondjie sis ’n aggressiew­e rinkhals in die lang gras. Sy val aan, maar voor die slang kan pik, spring sy flink uit die pad en val dan weer aan. “Meisiekind! Kom!”

Die hondjie kyk vir hom en val dan weer aan, maar dié keer spring sy nie betyds weg nie. Renier hoor hoe die bloed in sy ore suis. Hy gryp die hondjie en hardloop na die swaar gelaaide bakkie. Hy moet haar by ’n veearts kry!

Janette glimlag van oor tot oor terwyl sy die bondeltjie wit-en-bruin lewe teen haar bors probeer stilhou. “Haar naam is Jakkals.” Renier glimlag, gemaak wrang, maar almal weet dié groenoog-nooi het hom al van sy sestiende verjaardag in die palm van haar hand. “Wat moet ek met hom maak, hè? Jy weet ons het net werkshonde op die plaas. Sy lyk vir my eerder of die skape háár gaan aanjaag.”

Janette is nie van stryk gebring nie en plant ’n groot soen op die wriemelend­e hondjie se nat snoet, voor sy hom ook op die wang soen en die hondjie in sy hande sit. “Jy moet vir haar lief wees, dis al wat sy vra.” Sy lag terwyl sy na haar tuisatelje­e stap, pure kunstenaar in haar verfbevlek­te demin en verweerde ou T-hemp. Dis hoe sy vir hom op haar mooiste lyk.

Renier wonder weer hoe iemand soos hy so gelukkig kon wees. Janette is sy absolute teenpool. Hy is afsydig en sy is ’n oop boek. Hy kan vir ure aaneen stil sit en luister, terwyl sy nooit ophou babbel nie. Hy het net een goeie vriend, terwyl haar lys vriende by die dag net langer raak. Steeds laat sy almal verstaan sonder om ’n woord te sê dat sy net by hom wil wees en dat sy hul lewe saam vir niks sal verruil nie. Hy kyk af na die hondjie. “Ek sal jou seker die plaas moet gaan wys, jong. Hier moet almal werk om hul kos te verdien.” Die woorde is skaars uit toe hy besef hy klink nou nes Jakobus Retief, sy pa. Die gedagte laat hom sy kake instinktie­f op mekaar klem.

Jakobus Retief was ’n harde man, hard nes sy pa én sy oupa. Die Retiefs van Swaarverdi­end was bekend in die gemeenskap as vooraansta­ande boere en ouderlinge in die kerkraad. Renier se ma was ’n stadsmeisi­e en ’n dromer. Sy het die stad verlaat met die droom om op ’n plaas te gaan bly terwyl sy die een roman na die ander neerpen. Om die pot aan die kook te hou het sy by die koöperasie op die dorp begin werk en daar Jakobus se oog gevang. in die week teruggaan na die landbousko­ol se koshuis. Renier het uitgeblink in akademie en op die rugbyveld, maar geleef vir naweke en vakansies wanneer hy kon saamboer op die plaas waarvoor hy so lief was. Sy verhouding met sy pa was altyd gespanne en sy enigste vriend was die rooikop Flippie Jansen.

Dis juis te danke aan Flippie dat Renier die dag van sy sestiende verjaarsda­g in die dorp se Wimpy gesit het. Hy het ongemaklik gevoel onder die mense se nuuskierig­e blikke. Die jong Retief het bitter min in die dorp gekom en mense was maar altyd nuuskierig of hy ooit iets oorgehou het van sy traumaties­e kinderjare.

“Daar’s hy; twee mega-size milkshakes met ’n sparkler vir die birthday boy,” singpraat die kelnerin terwyl sy die melkskomme­ls met groot gebaar voor die twee seuns neersit. “Pienk was my ma se favourite,” sê Renier en probeer wegkruip agter die groot glas. Hy ruk regop toe daar ’n meisiestem vlak agter hom praat. “Dis my favourite ook!”

Toe Renier omkyk, was hy seker hy kyk na ’n engel. Die fynste gesiggie was omring met ’n bos rooibruin krulle wat sy kort-kort agter haar oor probeer indruk het, maar haar glimlag het sy hart so hard in sy ore laat klop dat hy skaars kon hoor wat sy sê. “Ek kom sit by julle, ek’s Janette.”

Renier het haar stom en bloedrooi in die gesig aangestaar. Hy was nog nooit so dankbaar vir Flippie nie, wat dadelik agtergekom het hoe die wind waai en sommer seker gemaak het hulle kry mekaar weer die volgende week op dieselfde plek vir ’n melkskomme­l-afspraak.

’n Paar weke later het Renier genoeg moed bymekaar geskraap om Janette te vra of hy vir haar ’n koeldrank by die kafee kan koop. Die tannie by die toonbank wou weet hoe hulle mekaar ken en Janette het aangekondi­g dat hy haar kêrel was. Renier kon nie onthou dat hy ooit so gelukkig gevoel het soos op dié oomblik nie. Haar liefde vir hom het Renier stadig laat ontdooi teenoor mense en hoewel hy nie skielik hordes vriende gemaak het nie, was hy ’n gewilde hoofseun in sy matriekjaa­r.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa