Korbeelhuise in die HantamKaroo is klipgeboue wat soos outydse byekorwe lyk; gebou met die enigste boumiddel wat destyds in oorvloed beskikbaar was.
avorsers glo die trekboere, wat tussen 1825 en 1875 die binneland begin deurkruis het, het daardie jare die Hantam-Karoo se korbeelhuise gebou. Volgens die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal word korbeelhuise gebou deur elke volgende laag stene of klippe effens meer na die binnekant te laat uitsteek.
Die huisies het meestal sirkelvormige mure, wat tot op ongeveer twee meter vertikaal gebou is. Daarna buig dit met verdrag na binne tot dit by die bopunt van die huisie byeenkom. Die opening bo-op die koepel word met ’n groot plat klip bedek. Sommige korbeelhuise was wel reghoekig en ander vierkantig. BO REGS: BO: REGS: gevind. Hoewel niemand met sekerheid kan sê hoe dié boustyl op die Suid-Afrikaanse platteland beland het nie, is die mees aanvaarde teorie dat wanderlust ’n kenner van die boumetode in die Bo-Karoo laat beland het. Hy het korbeelhuise daar begin bou en sy handlangers het moontlik die metode verder versprei.
Die materiaal vir vloere het gewissel van mis- of perskepitvloere tot ’n mengsel van klei, osbloed en vet. Perskepitte is in nat klei gedruk en die vloer is dan met ’n stuk hout gelykgemaak. Die deure en enkele venster van die heel oudste korbeelhuise was van diervel gemaak. Eers later sou houtdeure en -vensters volg.
In sommige huise is ’n boonste vlak ingerig, meestal as slaapplek vir ’n groeiende gesin. In sommige gevalle is die eerste korbeelhuis op ’n plaas aangevul met ’n tweede huis – die verbindingsvorm het ook van plaas tot plaas verskil. Soms het elke korbeelhuis sy eie voordeur gehad, maar soms is die huise aan mekaar verbind. Die deursnee van elke huis het gewissel van vier tot ses meter, dus was die kookplek gewoonlik buite en later jare in ’n aangrensende korbeelhuis. Op Stuurmansfontein buite Carnarvon het mnr. Piet en mev. Charmaine Botha hul korbeelhuis kundig gerestoureer vir besoekers. ’n Tweede korbeelhuis (wat later jare as opbergplek gebruik is) grens aan ’n dorsvloer.
Tant Stienie Bergh het as kind saam met haar ouers in ’n korbeelhuis op Stuurmansfontein gewoon en het aan Charmaine vertel hoe haar pa die boonste vloer as opbergplek en spens ingerig het.
Hy het die vloer met strooi bedek en vars vrugte vir die maer jare daar bewaar. Druiwe, kwepers en granate het tussen die strooi en die koue klipmure uitstekend behoue gebly. Die vrugte het glo vorentoe gesmaak, selfs maande nadat dit uit seisoen geraak het.
Omdat daar slegs vir spesiale geleenthede dorp toe gery is, was die korbeelbewoners meestal selfonderhoudend. Hulle het hul eie meel gemaal, self seep gemaak en boererate vir siektes gebruik.
Sarie Marais-Nell het op die voetspoor van historiese skatte op plase gaan loop om vervloë dae se gebruiksware en bouwerk te bewonder.