Die hoender in die verhaal
DEESDAE lyk dit asof boere van alle kante slae kry – en die hoenderboere is geen uitsondering nie.
Een van Manie se vriende was onlangs op ’n inligtingsdag waar ’n multinasionale veevoervervaardiger wenke gegee het oor skaap-voerkrale. Verrassend genoeg, sit daar toe ’n paar hoenderboere in die gehoor.
“Ons verruil nou die hoenders vir skape,” sê die een hoenderboer en sy jong seun. “Hoe meer hoenders ons teen ’n verlies verkoop, hoe lekkerder voer die Brasiliane en Europeërs húl hoenders hierheen in. Die skrif is aan die muur. Ons gaan oor tien jaar van die plaaslike hoenderbedryf praat soos wat ons nou van die gewese Suid-Afrikaanse teebedryf praat.”
Manie weet daar is teenstortingstariewe ingestel, maar volgens die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging se webblad is daar tot April vanjaar reeds nagenoeg 180 000 ton hoendervleis ingevoer, hoofsaaklik uit Brasilië en die Europese Unie. Dit is gelykstaande aan ’n derde van plaaslike verbruik.
Nagenoeg 52% van die totale invoer kom tans uit Brasilië. Selfs met die kwaai invoertariewe – tot 82% op heel hoenders en 37% op stukke aan die been – stroom die Suid-Amerikaanse voëls die land binne.
Die plaaslike bedryf is egter meer bekommerd oor die invoer vanaf die EU. Dit is gesogter hoenderstukke, soos dye en boudjies, wat hier land vir R13/kg tot R15,50/kg en in volume toeneem.
Weens die vryhandelsooreenkoms met die EU kan nie veel gedoen word om dié invoer te beperk nie. Ondanks die SAPV se beste pogings om die bedryf te beskerm, tree al hoe meer onafhanklike hoenderboere uit die bedryf.
SKAPE
’n Skaapboer wat op dieselfde inligtingsdag was, het vir Manie gesê die dae van tradisionele, ekstensiewe skaapboerdery is ook getel. “Oor tien jaar gaan skape net genetiese ID-nommers hê, hulle gaan deur groot korporasies geteel word om voer so doeltreffend moontlik te benut, hulle gaan in klimaatbeheerde omgewings geteel en gevoer word om hulle teen die elemente te beskerm en van daar na die abattoir gestuur word.”
Manie sidder om te dink wat van die ekstensiewe skaapboere in die Karoo gaan word indien die boer se voorspelling waar is. Maar dan onthou Manie die reuk en smaak van ’n doeksag Karoolamtjoppie op die kole en hy weet dat geen voerkraal daardie smaak kan namaak nie. Daardie boere sal altyd ’n mark hê, ongeag wie watse klappe probeer uitdeel.
RISIKO VIR LAASTE-IN?
’n Artikel in die Junie-uitgawe van die tydskrif Wild & Jag het Manie aan die dink gesit. Dr. Johann Ru-
‘Daardie boere sal altyd ’n mark hê, ongeag wie watse klappe probeer uitdeel.’