Landbouweekblad

Om te bid is een ding, maar om te bid in geloof, is iets anders.

-

Geloof is veel meer as net ’n goeie gedagte dat alles sal regkom. Geloof is ook ’n verbinteni­s tot ’n daad. Ek glo, daarom dóén ek. Ek wil lesers twee verhale vertel. (In hierdie rubriek vertel ek die een verhaal.) Die eerste verhaal is opgeteken in die Handelinge van die Apostels soos beskryf deur Lukas (Hand. 12).

Koning Herodes het die apostel Petrus in die tronk gesit nadat die koning Jakobus met ’n swaard doodgemaak het. ’n Mens kan jou net voorstel wat in die gemeentele­de se gemoedere omgegaan het. In dié tragiese omstandigh­ede het ’n groep Christene in Maria se huis saamgekom om te bid vir Petrus se vrylating. Dis hier waar geloof ter sprake kom. Glo hulle regtig hul geloof sal vrugte afwerp? Glo hulle in hul geloof as ’n werkbare verbinding met die almagtige God? Glo hulle God kan iets doen wat stellig as ’n wonderwerk bestempel sou kon word? Kan God? Wil God? Sal God?

En so, terwyl hulle besig is om te bid, is God al besig om vir Petrus se vrylating voorsienin­g te maak. Petrus, wat pas deur God se ingryping vry geword het, haas hom na die gebedsgroe­pie, net om uit te vind dat die deur gesluit is. Hy klop en klop tot die diensmeisi­e, Rhodé, nader gaan en tot haar verbasing Petrus se stem herken. Sy is so opgewonde dat sy eers nie die deur oopmaak nie, maar na binne hardloop om die goeie nuus oor te dra. Die biddende groep is glad nie bereid om haar te glo nie.

Wat moet ’n mens daaruit aflei? Hulle bid, maar hulle glo nie dat hul gebede verhoor sal word nie. Wat is dit anders as bid in ongeloof? Dié verskynsel is baie meer algemeen as wat ’n mens sou verwag. Ons bid met ’n vraagteken. Om te bid is een ding, maar om te bid in geloof is iets anders.

Dalk moet ons gebede só begin: Here, gee my asseblief ’n sterker geloof sodat ek kan glo wat ek bid.

Ons praat volgende week oor “Geloof in klein porsies”.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa