Maak só die regte diagnose
Wanneer diere op ’n plaas vrek, moet boere so gou as moontlik probeer vasstel wat die oorsaak is. Twee veeartse, drs. Neil Fourie en Faffa Malan, verduidelik hoekom dit noodsaaklik is om ’n veearts se hulp in te roep om verdere sterftes hok te slaan.
Elke dier wat op ’n plaas vrek, is ’n ekonomiese verlies en verdere vrektes moet tot elke prys voorkom word. Gevolglik is dit uiters belangrik om vas te stel waaraan diere gevrek het. ’n Korrekte diagnose met die eerste vrekte kan verdere vrektes voorkom.
Dit is kortsigtig as ’n boer geld probeer bespaar deur nié ’n deeglike ondersoek te laat uitvoer op ’n dier wat gevrek het nie. Dit kan met die koop van ’n goedkoop bul van ’n swak gehal te vergelyk word. Die fout haal die boer eers in die toekoms in.
Dit gebeur dikwels dat 20 of meer diere vrek voordat die boer kundige hulp inroep. Kortpaaie, soos om aan te klop by die verteenwoordiger van die dieregesondheidsmaatskappy by wie die laaste medisyne gekoop is, werk gewoonlik nie. Die plaaslike veearts is die beste opgelei om ’n diagnose te maak. In moeilike gevalle sal die veearts ander spesialiste raadpleeg om ’n diagnose te bevestig.
Die veearts gebruik verskeie insette om ’n diagnose te maak en die boer kan hom bystaan deur die nodige inligting te verskaf sodat hy gouer ’n oplossing vir die probleem kan kry. ’n Diagnose berus op: Die volledige geskiedenis van die geval. Die waarneming van siektetekens (simptome) wat siek diere toon of wat diere getoon het voordat hulle gevrek het. ’n Nadoodse ondersoek van die karkas en die mikroskopiese ondersoek van orgaansnitte. Die ontleding van orgaan en bloedmonsters vir moontlike oorsake van infeksie. Die ontleding van orgaanmonsters, voer, water en medikasie wat gebruik is, sowel as vir die teenwoordigheid van gifstowwe indien vergiftiging vermoed word.
GESKIEDENIS
As die veearts ’n goeie geskiedenis van die voorval bekom, is dit makliker om ’n diagnose te maak. Noodsaaklike inligting sluit die volgende in: Waar die plaas geleë is (dit is veral belangrik met plantvergiftigings). Die soort diere wat geraak is: spesie, ras, geslag en ouderdom. Die aantal diere wat geraak is: die aantal wat siek geword het, die aantal wat gevrek het, en produksiedata. Waar die diere vandaan kom. Hoe lank die diere op die plaas is. Die chronologiese volgorde van gebeure. Soortgelyke probleme wat al voorheen voorgekom het. BO: Is die vrektes tot ’n sekere kamp of groep diere beperk? Is die vrektes beperk tot een plaas? Wat die diere vreet: weiveld, weiveld plus byvoeding of nulbeweiding (voer gekoop of self gemeng). Waterbron. Inentingsgeskiedenis. Dipprogram. Enige medisyne wat gebruik is. Is daar ’n geskiedenis van onenigheid tussen werkers en die eienaar? Die voorkoms van gifplante, swamme of alge. Plaagdoders, landbouchemikalieë of bemestingstowwe op die plaas. Hoewel inligting oor die omstandigheidsgetuienis (geskiedenis van die geval) onontbeerlik is om ’n korrekte diagnose te