Sussex gedy in koue wêreld
’n Oos-Kaapse boer is vol lof vir sy Sussexbeeste. Hulle is winsgewend en presteer goed in alle toestande.
Dit was in die dae toe hy nog as ’n veldbeampte vir CMW en BKB gewerk het dat die Sussex ’n blywende indruk op mnr. Phillip Darke van Willow Nook, Molteno, gemaak het. Later, toe hy self in hierdie koue wêreld begin boer het, was dié beesras ’n logiese keuse. Dit is ’n besluit waaroor Phillip (50) sowat 15 jaar later nog nie ’n dag spyt is nie.
Met ’n onlangse besoek aan Willow Nook (1 200 ha) is die aanvoelbare temperatuur vroegoggend net bo die vriespunt op die werf. Dit is op 1 844 m bo seespieël ’n hanetree van Buffelshoek in die Stormberge waar van die land se koudste temperature al aangeteken is.
“Dit is die aanpasbaarheid van die Sussex in die omgewing wat dit vir my die ideale ras maak,” sê Phillip oor waarom hy hierdie ras gekies het bo ’n ander beesras wat in die distrik ontwikkel is.
“Die Sussex bied vir my die hele pakket: Goeie moedereienskappe, genoeg melk om haar kalf groot te maak, vroeg tot mediumryp, mediumraam (450-460 kg), goeie temperament, vrugbaarheid en ’n digte haarkleed wat die beeste teen die lang, ysige winters hier beskerm.”
Én Phillip het die syfers om sy aansprake te bevestig. Ondanks die nadraai van El Niño kon hy vanjaar sy kalwers op 6½ maande teen gemiddeld 238 kg speen. Die besetting van die 85 koeie in die kudde het die afgelope vyf jaar 96% beloop.
KOEIEENVERSE
Toegewyde bestuur is noodsaaklik. Die koeie word net vir twee maande (15 Desember tot 15 Februarie) gepaar. In die geval van die verse pas hy ook enkelvaardekking toe. Omdat laasgenoemde ’n groot risiko inhou, word die bulle voor die dektyd vir vrugbaarheid getoets.
Die hele kudde kry voor die kalftyd in Augustus ’n vitamien A-inspuiting. Die enkele koeie wat oorslaan of ’n kalfprobleem het, word uitgeskot.
In die somer kry die kudde ’n fosfaatlek, maar van Junie tot September gee hy ’n proteïenlek teen 250 g per koei per dag wat aangevul word met gebaalde lusern wat hyself verbou (250-500 g per koei per dag).
BULLE
Phillip sê hy koop elke tweede jaar ’n bul van geregistreerde telers. Die afgelope 15 jaar het hy sy aankope tussen Stötterheim (Ida), Avoca en Mountain Shadows (BarklyOos) en Faurzyl (Ladybrand) afgewissel.
“Dit gee my ’n goeie verskeidenheid bloedlyne. Boonop het die telers belangrike telingsdata beskikbaar, soos die geboortegewig van die bul se kalwers.”
Phillip het boonop net een werker wat hom met die skaap- en beesboerdery bystaan. Dus is die Sussex se poenskopfaktor en goeie temperament ook voordelig.
BOERESOM
LINKS: LIGGING Die uitgawe per koei per jaar is soos volg: Voerkoste: R600. Veeartsenykoste (ook veemiddels): R65. Bulkoste: R300 per kalf. Teen die heersende speenkalfprys was sy inkomste vanjaar R4 500/kalf, wat beteken hy steek meer as R3 500 per koei in sy sak. Met die 50 speenkalwers wat hy vanjaar bemark het, was sy bruto inkomste ’n skaflike R225 000. Die beste verse is as vervangingsdiere teruggehou.
Phillip meen die ras is ideaal vir nuwe toetreders wat winsgewendheid nastreef.
“Die Sussex vaar ewe goed in ekstensiewe en intensiewe toestande. Sy sterk erfdwang verseker kruisraskalwers met ’n goeie speengewig en kapasiteit. Omdat die Sussex ’n Britse ras is, lewer dit uitstekende basterkrag wanneer dit met inheemse rasse gekruis word. Die praktyk om Sussexbulle met melkkoeie te paar, is ook gewild.
“Met die Sussex as moederlyn kan niemand verkeerd gaan nie. Vanweë hul goeie voeromsettingsverhouding van 5,31 vergeleke met die 5,91 vir alle rasse is hulle ook baie gewild in voerkrale,” sê Phillip. blomtuin@ 045 969 Bylae in Landbouweekblad