GELEENTHEDE
Dit is die beste publisiteit wat die landbou in ’n lang tyd gekry het. ’n Hele bladsy in die Sunday Times, Suid-Afrika se grootste Sondagkoerant met heelwat swart lesers, oor Kosie van Zyl, boer van Caledon, in sy weeklikse rubriek “Heroes of South Africa”.
Van ons getroue lesers onthou seker nog die storie van Kosie se Agri Dwala-projek. Hoe hy begin het as ’n plaasbestuurder op Fairfield, die plaas waar die knap Valerian van der Byl vandag baanbreker-vyeaanplantings onder nette doen. Hoe Kosie uiteindelik ’n kommersiele boer geword het en uit dankbaarheid teenoor oom Cally Otto, wat hom die groot geleentheid gegee het om sy eerste plase te bekom, sy bruin bure onder sy vlerk geneem het. Vandag besit 14 bruin families twee plase en behaal besonderse sukses. Kosie se vrou, Lize, is peetma vir drie behoeftige kinders en beoog ’n kinderhuis op een van die plase. Maar dit was oom Cally wat raakgesien het dat dié hardwerkende, jong plaasbestuurder iets van homself wou maak. Sonder kinders van sy eie bel hy toe op ’n dag vir Kosie en laat hom weet: “Koop my plase, ek help jou.”
Vandag pluk ons almal die vrugte van oom Cally se versiendheid.
Dit is sulke kosbare geleenthede wat Suid-Afrika deesdae so sleg verspil. Daar blyk ’n toenemende gevoel onder swart SuidAfrikaners te wees dat oudpres. Nelson Mandela hulle tydens die onderhandelingsproses uitverkoop het. Dat hy meer toegewings moes afgedwing het. Dat welvaart meer aggressief herverdeel moes word. Dat mense meer dinge verniet moes kry. Maar Mandela, soos oom Cally, wou Suid-Afrika eerder op lang termyn ’n kans gee deur almal gelyke geleenthede te gee. Soos die beste moontlike onderwys vir swart kinders. Vandag is Suid-Afrika se onderwys van die vrotste ter wêreld. Die vakbonde slaan die kitaar, en ons sit nou met ’n generasie wat in baie gevalle nie in diens geneem kan word nie. En dít ondanks die hope geld wat ons op onderwys blaas.
Op ander gebiede weier ons ook om ons probleme nugter en eerlik te bepeins. Ons gooi eerder blindelings geld na die probleem. Omdat dit polities belangrik is dat dit lyk of grondhervorming slaag, word geen geld gespaar om begunstigdes op staatsplase te hou nie. Die belastingbetaler moet net aanhou hoes. Dit is nie dat ’n mens ’n ander man niks gun nie, maar, hemel, wanneer word iets terugbetaal? Veral wanneer knap kommunale boere nie grond kan kry nie en kommersiële boere, wat stoei met die ergste droogte in menseheugenis, al opgegee het met die staat.
Dit voel ook soms of Suid-Afrika sy Namibiese bure van die geleentheid ontneem om hul speenkalwers te bemark. Ja, dit is reg dat die land aandring op dieregesondheidstatus van internasionale gehalte om uitvoer na uitsoekmarkte, soos Amerika en Brittanje, te bewerkstelling. En om die vervoer van vee oor die grens deur ’n permitstelsel te beheer, is ook redelik. Maar hoekom, ná byna ’n maand, is nog nie ’n enkele permit uitgereik nie? En hier moet ek ook ons Namibiese lesers groot om verskoning vra vir die onakkurate berig wat ons in die vorige uitgawe gepubliseer het. Dit het nou glad nie gehelp nie! Om mense van geleenthede te ontneem, is eenvoudig nie opbouend nie. Of dit nou ’n Nambiese speenkalfprodusent, swart skoolkinders in die Transkei of ’n jong plaasbestuurder is. Vra maar vir oom Cally. — CHRIS BURGESS Media24 Weeklikse Tydskrifte