Een verlore boer is te veel
NADAT Agri SA verlede week ’n dringende verklaring uitgereik het waarin maatskappye en gewone mense weer gevra is om by te dra tot sy droogtefonds omdat “’n toenemende getal hoogs produktiewe en suksesvolle kommersiële boere tans sukkel om kop bo water te hou”, het die landbousakekamer Agbiz ’n verklaring uitgereik in reaksie daarop.
Manie erken dat hy sy Engels in matriek met die genade van Bo en ’n sikloonsterk-wind van agter deurgekom het (Manie het tot vandag nog nie Macbeth klaar gelees nie), maar dit was so al asof daar ’n vermanende toon in Agbiz se uitreiking was.
Sy verklaring wys daarop dat hoewel die situasie benard is, staar ’n katastrofe ons geensins in die gesig nie. Dit sê die meeste boere is in staat om hul produksieskuld terug te betaal en dat die droogte nie slegs boere benadeel het nie, maar ondernemings, banke en veral die armste mense.
Manie verstaan Agbiz se reaksie. Elke organisasie kolf maar om sy eie wegpen te beskerm. Groot maatskappye en banke hou nie van emosionele uitsprake en moontlike paniek nie. Hulle het per slot van sake beleggers en moet ook krediet van iewers af kry.
Manie wil egter daarop wys dat as 2 000 kommersiële boere in die droogte ondergaan, dan sien groot ondernemings dit as slegs 6% uit ’n totaal van 33 000 boere. Maar vir boeremense en vir Landbouweekblad is dit ten minste 10 000 gesinne (pláásmense – boere én werkers) wat nie ’n heenkome het nie. Dít is ’n ramp.
Dit bring ook plattelandse gemeenskappe wat op die randjie van hongersnood leef, ’n paar treë nader aan ’n katastrofe.
TEL DIE DRUPPELS, MENSE
Met die erge droogte en opgaardamme wat al leër word, is van die mense in die hoë gestoeltes nogal blitsig om die vinger na besproeiingsboere te wys en te sê hulle moet water meer spaarsamig gebruik. Manie verstaan dit. Maar as sake gaan soos in die Nelson Mandelabaai Metropool, laat dit jou hare regop staan.
Die metro is geregtig op 28% van die water uit die Kougadam in die Gamtoosvallei. Die res is vir besproeiingsboere en inwoners van Patensie, Hankey en Loerie.
Die boere daar weet hoe om met hul talente te woeker. Die Gamtoos staan nie verniet as die spens van die Oos-Kaap bekend nie. Met die vlak van die dam nou onder 70% bestaan die moontlikheid dat daar teen September beperkings vir besproeiingsboere kan kom. Laat dit só wees, maar dan beter die metro vinnig vingertrek en sy krane begin toedraai.
Pierre Joubert, hoofbestuurder van die Gamtoos-besproeiingsraad, sê Waterwese het al ’n jaar gelede (tydens die El Niño-verskynsel) die metro aangesê het om sy verbruik met 15% in te kort. Hiervan het dadels gekom.
Teen Februarie vanjaar het Port Elizabeth reeds sy totale kwota vir die jaar (wat in Junie eindig)