Landbouweekblad

SWARTLAND KORT DRINGEND REËN

- — AMELIA GENIS

ONGUNSTIGE landboutoe­stande heers in groot dele van die Swartland. Boere sê die koring het baie ongelyk opgekom en is op plekke besig om in die aar te kom. Om ’n bloot gemiddelde graanoes te behaal, sal dit tot diep in Augustus en September goed moet reën.

Mnr. Thys Grobbelaar van die plaas Koringkloo­f, Eendekuil, sê nege boere in sy omgewing het nog bitter min reën gekry. “Ons het 21,5 mm reën in April gehad. Die reën wat saak maak, was tot dusver 6,8 mm in Mei, 55,5 mm in Junie en 13 mm in Julie. Dis verskrikli­k min.”

Grobbelaar, wat al van 1994 af rooibostee verbou, sê die wis-

selkoers en die hoë teeprys het vanjaar gehelp, dog 70% van die rooibostee wat hulle verlede jaar aangeplant het, het gevrek weens min reën in die laat winter en vanjaar se somer. Dit moet vanjaar oorgeplant word.

Mnr. Cobus Bester van die UD-boerdery by Moorreesbu­rg reken die koring wat vroeg geplant is, lyk gemiddeld, maar dié wat later geplant is, sal ’n ondergemid­delde opbrengs lewer. Die situasie kan egter verbeter indien hulle in die volgende paar weke goed reën kry.

Hy sê hulle het van 1 April tot middel Julie 200 mm reën gehad. “Die totaal was goed, maar die verspreidi­ng nie. Ná 22 April se 50 mm was dit ses weke lank droog. Dit reën ook baie kolkol, maar 50 mm nou en ’n nat

Augustus kan nog ’n groot verskil maak.”

Mnr. John Dürr, voorsitter van die Rooivleisp­rodusenteo­rganisasie in die Wes-Kaap, sê daar is “mooi, groen weidings”, maar die plantjies is swak en waterig. “Die groot probleem is dat daar nie ruvoer is nie. Boere in die Sandveld moet nog droogtehul­p kry.”

Mnr. André Kirsten van die Kirsten-boerdery, Darling, sê die koring en kanola lyk nie te sleg nie, maar die lupiene is swak.

Wingerde in die omgewing trek ook swaar en hulle het baie reën nodig om hul damme te vul. “Al het ’n paar stokke in Mei begin bot, het ons lekker koue gehad en het die wingerde in rus gegaan. Die grondvog is egter baie min.”

‘Die groot probleem is dat daar nie ruvoer is nie. Boere in die Sandveld moet nog droogtehul­p kry.’

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa