Landbouweekblad

Weet wat om te doen as snotsiekte toeslaan

-

VERSKEIE gevalle van snotsiekte het onlangs in die land voorgekom, veral by Rustenburg en Swartrugge­ns.

Die enigste wesenlike oplossing vir snotsiekte blyk steeds die inenting van diere te wees. ’n Entstof teen snotsiekte kan teen die einde van die jaar in Suid-Afrika geregistre­er word.

Volgens dr. Peter Oberem het Afrivet ’n entstof teen snotsiekte uit Skotland in Suid-Afrika getoets. Die geïsoleerd­e en verswakte snotsiekte-virus wat verlede jaar uit Skotland gebring is om ’n plaaslike entstof te ontwikkel, is geneties naby genoeg aan die plaaslike virus sodat dit vir alle praktiese doeleindes as dieselfde beskou kan word.

’n Verslag oor die uitslag sal waarskynli­k voor die einde van die jaar aan die Departemen­t van Landbou, Bosbou en Visserye oorhandig te word. Dan kan die entstof kragtens die Wet op Misstowwe, Veevoere, Landboumid­dels en Veemiddels geregistre­er word.

VOORKOMS

Snotsiekte kom wêreldwyd voor. In Suid-Afrika veroorsaak die virus sekere stamme van ’n gamma-herpesviru­s ernstige siekte by beeste.

Gewoonlik word net enkele beeste sporadies aangetas. Die siekte word ook aangetref in waterbuffe­ls, Amerikaans­e buffels (“bison”) en herte (“deer”). By dié diersoorte kan groot getalle weens snotsiekte vrek. Ook by beeste is die siekte gewoonlik dodelik, maar enkele diere het al herstel.

Die siekte se verspreidi­ng stem ooreen met die verspreidi­ng van die virus se vernaamste draers, naamlik skape en wildebeest­e. Die virus veroorsaak nie snotsiekte by dié diere nie.

VERSPREIDI­NG

In die geval van skape, word lammers van ses tot nege maande besmet deur oordraging van ander diere in die kudde. Teen tien maande neem die afskeiding van die virus af. Volwasse skape skei baie minder van die virus af as jong diere. Die virus word weens regstreeks­e kontak met neusafskei­dings of deur die lug oorgedra. Die oordrag van skape na beeste is al waargeneem oor 70 meter, maar by bisons was daar al gevalle van 5,1 km. In gunstige toestande kan die virus dus ver in die lug beweeg. Ooie skei nie die virus in plasentale weefsels of afskeiding­s af nie, dus sien mens nie ’n toename van snotsiekte tydens lamtyd nie. Daar is wel ’n mate van seisoensge­bondenheid in skaap-geassosiee­rde snotsiekte, maar dit is meer gekoppel aan gunstige omstandigh­ede vir virus-oorlewing.

In die geval van wildebeest­e neem die uitbreking van snotsiekte by beeste toe tydens die wildebeest­e se kalftyd. Wildebeesk­alwers word met geboorte óf deur ander diere óf deur virus-oordrag in die baarmoeder besmet.

Snotsiekte word slegs van draers na vatbare diere aangesteek. ’n Siek bees sal nie snotsiekte aan ander beeste oordra nie.

KLINIESE TEKENS

Akute snotsiekte se simptome is eenders – ongeag of die virus van skape of wildebeest­e afkomstig is. Die siekte se verloop kan perakuut wees met skielike sterftes, veral onder bison en herte. As die diere ’n paar dae siek is, toon hulle bloederige diarree, bloederige urine en dofheid van die kornea.

Ander tekens sluit in slymerige afskeiding­s uit die neus, seertjies en etterige afskeiding op slymvliese van die bek, boonste lugwegkana­le en oë, asook vergrote limfkliere, mankheid en senu-simptome, soos depressie, bewing, verminderd­e reaksies, dom voorkoms, aggressie, of stuiptrekk­ings. In beeste is geswelde limfkliere en ernstige oogletsels meer algemeen. Indien die kornea om die buitekant (sentripeta­al) verdof, is dit ’n sterk aanduiding van snotsiekte. In diere wat langer leef, word velletsels gesien. Ongeveer 95% van aangetaste diere sterf. Diere wat oorleef, haal selde weer hul volle produksiev­ermoë.

DIAGNOSE

Die diagnose word gebaseer op kliniese tekens, nadoodse letsels en laboratori­umtoetse. Die ideale toets is polimerase kettingrea­ksie (PCR) om die virale DNS te bepaal. Dit kan ook onderskei of die virus van skaap- of wildebees-oorsprong is. Die beste monsters vir toetse is bloed in die teenstolmi­ddel, nierweefse­l, dermwand, limfklier en brein.

BEHANDELIN­G

Daar is geen doeltreffe­nde behandelin­g nie en ook geen entstof nie. Virusvrye skaapkudde­s kan opgebou word deur vroeg te speen en jong vee van ouer vee af te sper. Waardevoll­e diere moenie nader as 1 km van skaapvoerk­rale aangehou word nie.

OMBUDSMAN

Die Rooivleisp­rodusente-organisasi­e (RPO) en die SA Wildboeror­ganisasie het oud-regter Appie Steenkamp as ’n ombudsman vir snotsiekte aangestel. Dit is sodat wildboere en rooivleisp­rodusente in die geval van snotsiekte-besmetting ’n skikking kan bereik. Die ombudsman kan aanbeveel watter party vir die skade weens snotsiekte verantwoor­delik is. Indien die partye nie gelukkig is met die ombudsman se besluit nie, kan hulle die saak verder neem en regstappe doen.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa