WÊRELD SE SAADBANKE ONDER DRUK
Oorloë, ekonomiese onrus, ontoereikende finansiering en ’n gebrek aan biodiversiteit bedreig die wêreld se genetiese bronne en die saadbanke waarin hulle gehou word.
Hoewel die meeste lande hul eie saadbanke het, is die internasionale saadbank op die Noorweegse eiland Svalbard die bekendste en bes gefinansierde saadbank met die mees diverse versameling saad en genetiese materiaal.
Verlede jaar is die eerste keer saad aan Svalbard onttrek. ’n Mengsel grane – koring, gars, fababone, lensies en kekerertjies – uit ’n saadversameling wat in 2012 uit ’n saadbank in die Siriese stad Aleppo “gered” is net voordat rebelle dit oorgeneem het, is na Libanon en Marokko gestuur sodat wetenskaplikes hul navorsing daar kon voortsit.
Me. Natasha Geiling skryf in die Smithsonian-instituut in Amerika se aanlyntydskrif dat die Siriese navorsers gelukkig was. “Hulle kon seker maak dat duplikate van hul saad elders bewaar word. Hulle kon daarom vinnig en doeltreffend die sade wat hulle nodig gehad het, identifiseer toe hulle ’n onttrekking moes maak.”
Volgens die artikel op smithsonionmag.com is daar 1 750 genebanke in die wêreld wat meer as 7 miljoen saadmonsters, steggies en ander genetiese materiaal bewaar. Kommer bestaan dat saad- en genebanke nie genoeg van die “wilde familie” van stapelvoedsel, soos koring en mielies, bewaar nie. ’n Onlangse studie deur die Crop Trust van die 1 076 wilde spesies wat aan 81 van die belangrikste stapelvoedselgewasse verwant is, het bevind 70% van die wilde spesies is nie voldoende verteenwoordig in die wêreld se genebanke nie. Amper 30% van die wilde plante is glad nie in die geenbanke opgeneem nie.
Dit is ’n groot probleem, want die meeste wilde plante het aangepas om in ongunstige omstandighede te floreer. Namate klimaatsverandering reënval- en temperatuurpatrone verander, sal dit moeilik wees om te weet watter eienskappe bewaar moet word. Dit is waarom dit so belangrik is om plante en gene te bewaar wat voorheen dalk nie veel belofte vir kommersialisering getoon het nie.
Saadbanke kán goed funksioneer as hulle voldoende gefinansier word en regerings besef watter belangrike rol hulle speel om voedselsekerheid te verseker. Uiteindelik is die beeld van ’n geenbank as ’n “oordeelsdagkluis” die grootste struikelblok, skryf Natasha. “Deur saadbanke as statiese, apokaliptiese projekte van laaste uitweg te beskou, is daar kommer dat die publiek uit die oog verloor dat die rol van genebanke is om te verseker dat daar genoeg voedsel is.”
Verder is dit ’n probleem dat mense dink geenbanke is net bewaaringsplekke, terwyl die nut en toeganklikheid van geenbanke eintlik die groot storie is. Eweneens moet die bestuurders van saadbanke besef hoe belangrik kommunikasie tussen hulle is om te verseker dat ander saadbanke “weet wat hulle het en wat
hulle nodig het”. – AMELIA GENIS