Proteas kan goeie geld vir SA inbring
’n Proteaboer van Swellendam sê dit is ’n ingewikkelde boerdery wat stadig aan die gang kom, maar wanneer die blomme eers daar is, kan uitvoerders nie genoeg daarvan kry nie. Die land se boere ontgin nog nie naastenby die potensiaal nie.
Blomkopers en -liefhebbers is plaaslik en internasionaal opgewonde oor Suid-Afrika se nasionale blom, die protea. Op die plaas Molenkop buite Swellendam het mnr. Richard Jay vyf jaar gelede 20 ha proteas en tolbosse onder besproeiing aangeplant. Deesdae blom die boerdery as ’t ware onder die bekwame bestuur van mnr. Brian Bothma, en hulle hoop om dit tot 100 ha uit te brei.
Richard, ’n sakeman van Stellenbosch, en sy vrou, Rinet, is rustende direkteure van Molenkop, wat 584 ha groot is. Hy moes tussen ’n skaap- of proteaboerdery kies en nadat hy op blomme besluit het, het hy die leisels met groot vertroue aan Brian oorgegee om ’n proteaboerdery, Charesa, op die been te bring. Op die res van Molenkop, wat verhuur word, word met kanola, graan en gars geboer.
Richard en Brian het mekaar op ’n laventelkursus ontmoet. Brian, oorspronklik van Bloemfontein en voorheen ’n bedryfsdirekteur en later personeeldirekteur in die kleinhandelbedryf, het geen kennis van proteakwekery en die verbouing daarvan gehad nie. Hy het wel baie daaroor opgelees en hulp van onskatbare waarde by mnr. Malcolm Wallace, ’n afgetrede buurman, gekry.
Malcolm het vroeër 16 jaar lank proteas suksesvol verbou. Malcolm was ’n onderwyser in Polokwane en het later in die visbedryf betrokke geraak. Hy het later ’n plaas naby Infanta in die Overberg gekoop waar hy met droë blomme begin “boer” het wat in die Potberg gepluk is.
BEGIN VAN KOMMERSIËLE BOERDERY
Proteas is inheems aan Suid-Afrika. Volgens Malcolm was mnr. Walter Middleman van Botrivier in 1948 die eerste mens wat proteas
Proteaverbouing is ’n stadige, arbeidsintensiewe proses. ■ Die vestigingskoste beloop R150 000
tot R180 000 per hektaar. ■ Die plante is nie kieskeurig oor grond nie, maar die pH moet verkieslik laag wees. ■ Suid-Afrika lewer net 4% van die
proteas op die kommersiële mark. kommersieel begin verbou het.
In 1973 is eksperimente op die plaas Tygerhoek naby Riviersonderend gedoen om te sien watter soorte proteas goed onder besproeiing sal groei. Daaruit is ’n genepoel ontwikkel en soorte gekruis om te bepaal watter kommersieel suksesvol sal wees en watter nie. Hierdie genepoel is later na Elsenburg buite Stellenbosch verskuif waar die beginsel van kommersiële proteaboerdery ontwikkel en aangemoedig is. Van daar af het proteaboerderye landwyd uitgekring.