Skaapwerk vlot met voerder en wolpers
Alles op mnr. Dirk du Plessis se plaas by Koppies is daarop gemik om arbeid te bespaar. Op dié plaas word trekkers en werktuie self versien. Hy het ’n voerder gebou wat outomaties volgehou word en het ’n ou handwolpers van elektriese aandrywing voorsien.
Op die skaapplaas Verdeeld van die 74-jarige mnr. Dirk du Plessis en sy seun Ben kry jy ’n werkswinkel sonder tierlantyntjies. Hier word praktiese planne uitgevoer wat daarop gemik is om dié tweemanskap in staat te stel om bykans alle take alleen uit te voer.
Met ’n mengelmoes van gereedskapstukke wat al 45 jaar lank opgegaar word, word hier onder meer eiehandig herstelwerk aan die trekkers en werktuie gedoen.
“Ek het onlangs die eerste keer sedert ek begin boer het, ’n trekker na ’n ander werkswinkel op Koppies gestuur,” sê Dirk.
“Al ons ander voertuie, soos die bakkies, versien ek ook.”
Volgende op die waglys is ’n bakkie waarvan die enjin oorgedoen word. Die sukses van Landbouweekblad se Boereplan-kompetisie word keer op keer bewys as boere in navolging ’n goeie plan aanpas en verbeter. Die kruipvoerplan van mnr. C.A. van Niekerk van Ratelfontein naby Calvinia (“Pyplyn-voerplan vol voordele”, LBW, 6 November 2015) is al deur die Cradock-boer mnr. Zeiss Jordaan aangepas (“Zuurfontein se drie praktiese boereplanne”, LBW, 24 Junie 2016).
C.A. het blou, 6 m lange PVC-pype in voerkrippe omgebou. Elke lengte is in twee gesny en gate met ’n deursnee van 140 mm elk aan weerskante van die middellyn geboor sodat ’n lam maklik sy kop daarin kan druk om te vreet. Om te keer dat die krip wegrol, het hy ’n dwarsyster as voetstuk gebruik.
Dirk het nou dié kruipvoerplan verfyn om sy lammers tydens die droogte ’n hupstoot te gee. Sy weergawe is ’n lang, statiese struktuur in ’n kampie by die opstal.
Toe hy en Ben agtergekom het dit is moeite om die voerpyplyn vol te hou, het hy ’n outomatiese voermeganisme bygevoeg wat aangedryf word deur ’n elektriese motor van 0,75 kW.
Hy het ’n ou brandstoftenk omgeskakel vir gebruik as ’n grootmaattenk vir die kruipvoer. Die meel in die tenk word aangevul met ’n tuisgemaakte awegaarlaaier ( FOTO 5 ). Dit bestaan uit ’n strook hoogteverstelbare besproeiingspyp waarin ’n awegaar die meel van die opvangbak aan die regterkant tot in die tenk voer. Die awegaar word aangedryf deur ’n motor wat met driefase-elektrisiteit werk en ’n wenas help om die hoogte te verstel.
Die kruipvoermeel vloei deur ’n vleuelklep in ’n ou kunsmisplanterbak. Hiervandaan word die meel gevoer langs nog ’n klein awegaar met ’n wit PVCpyp met ’n deursnee van 50 mm.
Die deursnee van Dirk se vreetplekke vir die lammers is 150 mm, teenoor 140 mm van die oorspronklike plan.
Uit die horisontale awegaar-pyp word korter pype met T-stukke in die blou pyp ingelas deur gate wat op die middellyn ingesny is. Die lengte van dié vertikale pype bepaal die hoeveelheid meel wat per vreetplek ingelaai word. Namate die meel met die awegaar langs beweeg, word die vertikale pype gevul sodra ’n hopie die pyp se opening verstop. Hoe korter dié pypie is, hoe meer meel word daaronder opgehoop voordat die bek verstop en die meel verder gevoer word. Op dié manier word elke vreetplek ná mekaar gevul. Die wit afvoerpype is in lengtes van 150 mm en 110 mm gesny.
’n Lengte van 6 m van die