Hoe ry die boere sit-sit so
Moenie grondpad verwar met die idilliese prentjie van plaaslewe wat jy in jou gedagtes koester nie. Hy het ’n byt aan hom.
By die teerpad links grondpad geen anderpad as die hardepad soms sandpad slegte sinkplaatpad nat gladdepad dit is my karpad my plaaspad na hom vir wie ek lief is
Ek skryf vir die mense wat dink boere is skatryk omdat hulle groot voertuie ry. Die waarheid is: Ons wat ver van teerpaaie bly, het geleer goedkoop is duurkoop. Ná my oupa se geel Opel Kadett, wat verbasend goed gevaar het op ’n plaaspad, het ons ons eerste familiemotor gekoop: ’n Toyota Condor.
Wat ’n goeie begin! Op sekere dele van die grondpad het dit bietjie gespring, maar ons het goeie herinneringe aan daardie motor – en ek kan dit nie van al ons voertuie sê nie.
Agt jaar later kom ons een Sondag ná ’n wegbreek-naweek terug. Skielik voel dit asof die wiele elkeen sy eie rigting invaar. Ons klou verbete aan ons sitplekke en stuur skietgebede boontoe. Ons maak net-net die huis. “Seker die balansering,” sê my man senuweeagtig.
Die volgende dag roep die tegnikus by die balanseermasjiene my bekommerd nader. “Mevrou, hoe het jy hier gekom?” “Gery, natuurlik!” “Mevrou, dan bewys dit vandag dat engele wel bestaan. Hierdie kar se is gebreek. Jy kon onmoontlik 60 km hierna afgelê het en steeds leef!”
Ek lag. “Ons het die naweek 600 km gery.”
’N KAR VIR ALLE KONTINENTE
’n Grondpad breek goed aan ’n kar wat jy nie eens geweet het bestaan nie.
Met die Condor se afsterwe word my man se droom waar. Hy koop ’n Toyota Land Cruiser. ’n 100 VX, 2000-model.
“Dié kar,” verseker hy my, “kan nie breek nie. Hy kan nie vassit nie. Met hierdie soort kar ry avonturiers oor kontinente heen.”
Dis voorwaar ’n wenner. Hy klou soos ’n magneet aan die grondpad en wanneer dit reën, ploeg hy deur die modderpad soos ’n vark tussen vrot perskes. Hy word Bulletjie.
Maar moet nooit nooit sê nie. Ek kry dit toe reg om ou Grote te laat vassit. Ek en manlief kry stry en soos ’n wyfievolstruis pluk ek my nek stokstyf en trap die pedaal plat toe ek by die huis wegtrek. Met die uitdraai besef ek my selfoon lê op die kombuistafel. Ek ry ’n paar meter in trurat, maar die regteragterwiel beland in ’n diep gat vol modder.
Net ’n trekker kon Bulletjie uit die put van hel red. Die aand hoor ek natuurlik: “Net ’n vrou wat dit sal regkry!”
Een November-middag kyk tannie Nellie Ek moes inderhaas iets kry om die kinders mee skool toe te neem. Ons kry ’n 4x4-iets, wat ook met vier letters gespel word. Hy het sterk gelyk, maar had voete van klei. Ons moet elke keer ’n fortuin opdok om die skade wat die grondpad aanrig, te herstel. Dié vrot eier hou net drie jaar.
Ons gaan terug na wat werk: ’n Toyotadubbelkajuit-bakkie. Hoog van die grond, groot bande en goeie herverkoopwaarde. Dis soos om by die Spur of die Wimpy te eet. Jy weet wat jy gaan kry.
As jy by ’n verkeerslig langs ’n boer in sy monstertrok stilhou, moenie afgunstig dink aan hoe ryk hy dalk is nie. Vra jouself af: “Hoeveel skade het hy al aan voertuie gehad dat hy noodgedwonge dié ryding moes koop?”
Sanet woon die afgelope 22 jaar op ’n plaas in die Oos-Vrystaat waar haar man ’n gemengde boerdery bedryf.