Landbouweekblad

My veldmaat

Die eens spoggerige keteltjie het met die jare al pikswart gebrand, maar ons bospaaie is nog lank nie klaar nie.

-

Ek het hom baie jare gelede van ’n winkelrak in Kimberley verlos. Hy het so mooi proper en blinklyf tussen die ander produkte staan en pronk dat jy hom nie kon mis nie. Hoekom ek juis hom en nie die ander een op die rak gekoop het nie, sal ek nooit weet nie.

Dié keteltjie was seker maar vir my en die veld bestem. In my gedagtes is dit ’n “hy”, ’n veldmaat wat my vergesel oor die lengte en breedte van ons land.

Hierdie ou vriend van my is ingewy onder ’n wydgetakte olienhoutb­oom in die Noord-Kaap op wyle Korneels Smit se plaas tussen Daniëlskui­l en Lime Acres. Ek en Eunia, my vrou, het altyd onder dié ou olienhout gekamp.

Van onder sy skaduwee het ons ’n mooi uitsig oor ’n stuk grasveld gehad, waar steenbokke, duikers en voëls, soos kiewiete en Hoëveldse klappertji­es, ons baie male vermaak het.

Met die jare het my ou keteltjie pikswart gebrand, só aangepak van die roet dat hy nooit weer skoongesku­ur sal kan word nie.

Op plekke is daar ook al duidelike tekens van sy veelbewoë tye in die veld – littekens van stampe en stote wat uit sy deksel en ronde lyfie geklop moes word.

Maar al stap die keteltjie aan in jare, borrel hy steeds koffiewate­r met groot geesdrif. Ons twee se bospad is nog lank nie klaar nie.

Wat lekker is van so ’n alluminium­keteltjie is dat jy sommer binne minute koffie kan opto- wer. Loop staan en maak jy nou nie vir hom vraatsugti­g vol van die water nie, dan kort jy net ’n paar fyn takkietjie­s om die borrels in sy keel te laat dans.

En ’n mens verwelkom nogal ’n vinnige beker koffie op daardie oggende wanneer die son bibberend oor die horison loer en die nag se asem teen sonop spierwit en yserig op die wintergras kom lê. Dis wanneer die koue jou volbek oral aan jou lyf byt en jou vuur toe dwing om hitte te soek. Dan wil jy vinnig iets warms in jou maag kry voor jy die geweer oor die skouer swaai en die jagveld vat.

NAGRITUEEL

Ek en die keteltjie se oggendkoff­ie is soms ’n half haastige affêre, maar ons aandkuiert­jies verloop heelwat rustiger. Dis wanneer koffiedrin­k in ’n ritueel verander om die dag ’n goeie nagrus toe te wens. Dis oneindig lekker vir my om te sit en kyk hoe die vlamme rooitong die keteltjie se boepensie kielie terwyl die nag voetjie vir voetjie nader aan die vuur skuifel. Dis dan wanneer naggeheime, wat bedags skugter teen die sonlig skuil, die slaap uit hul oë begin vee.

Jakkalse groet melankolie­s die son. Boomtakke kry skielik lewe as nagapies met hul skemerpara­des begin. Iewers blaf ’n koedoe skor om te waarsku dat diegene wat die donker met tand en klou bestuur, ontwaak het. Bospatryse se “kiepie-kielie, kiepie-kielie” laat weet al die voëls dat hulle nou kooi se kant toe moet staan.

Teen die tyd dat die keteltjie vir die derde keer gesing het, is dit al pikdonker, maar op sommige somersaand­e sal jy tog nog ’n boskorhaan iewers hoor “tok-tok-tok-tok...” en nog later die spookagtig­e “prrrp, prrrp”-buikspraak van die skopsuiltj­ies.

Terwyl die Melkweg stadig oor die kampvuur in die donker hemel draai en die nagsonates rondom my speel, sweef my gedagtes vryer, hoër . . . Soms voel dit amper vir my asof ek los raak van die aarde en op ’n afstand na myself en die wêreld kyk.

En het ons nie maar almal soms ’n bietjie afstand van onsself nodig nie? Dan eers sien jy die raaisel in die spieël regtig raak.

Koos Barnard is redakteur van SA Jagter.

Die grootste gevaar vir enige boer is om goed te begin en swak te eindig – spesifiek op geestelike gebied, want soos ’n mens in die gees is, net so is hy in die vlees. Koning Asa, wat familie van koning Salamo was, was sterk deur God beïnvloed. Hy het goed begin, maar toe het hy op mense begin staatmaak. Hy het goud na die Siriese koning gestuur en hom gevra om saam met hom teen die Ethiopiërs oorlog te voer. Die Siriërs het aan sy versoek voldoen. Saam het hulle die Ethiopiërs verslaan.

God het ’n profeet na koning Asa gestuur omdat Hy ontevrede was dat hy eerder na mense as na God opkyk. “Jy kon dit self gedoen het sonder om die Siriërs te betaal, maar nou het jy God beledig omdat jy dit uit eie krag gedoen het.”

In 2 Kron. 16 lees ons dat die koning kwaad was en teen die profeet gedraai het. Wanneer ons waarhede hoor waarvan ons nie hou nie, draai ons die rug op God of die Kerk.

Ek glo dit is ’n boodskap vir boere in Suid-Afrika. Ons moet sterk eindig. Ons moet met geloof boer. Sodra ons na ons omstandigh­ede, soos weer, politiek en finansies, kyk, verkrummel ons van binne.

Koning Dawid was ’n man so na God se hart. Hy het sy lewe in die geloof begin en as ’n seun vir Goliat verslaan deur op die Here te vertrou. As grootmens het hy die grootste koning in die wêreld (afgesien van Jesus) geword, maar aan die einde van sy lewe het hy ’n sensus van al die weerbare manne in Israel gehou (1 Kron. 21:1). God was kwaad omdat Dawid nie op Hom vertrou het nie, maar op sy soldate. Weens Dawid se ongehoorsa­amheid het ’n plaag Israel getref en 70 000 Israeliete het gesterf.

As ons op God vertrou, sal Hy by ons staan. Soos nog altyd.

Lekker boer.

 ??  ?? Oggendkoff­ie in die jagveld kan soms ’n half haastige affêre wees, maar my en die keteltjie se aandkuiert­jies verloop heelwat rustiger.
Oggendkoff­ie in die jagveld kan soms ’n half haastige affêre wees, maar my en die keteltjie se aandkuiert­jies verloop heelwat rustiger.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa