DOEN NÓÚ DIE REGTE DING, MAAN KENNER
Regeringsbeleid is ’n remskoen vir die bevolking. Die land kan eenvoudig nie só aangaan nie, sê mnr. John KaneBerman, konsultant vir die SA Instituut vir Rasseverhoudings (SAIRV). NICO VAN BURICK het met hom gepraat.
jaar gelede was daar 312 mense in die land in diens vir elke 100 wat welsynstoelaes ontvang het. Omdat welsyntoelaes vinniger vermeerder as wat daar werk geskep word, is daar nou net 86 mense wat werk het vir elke 100 wat toelaes ontvang.
In die Nasionale Ontwikkelingsplan is daar al gewaarsku dat SuidAfrika dalk nie in die toekoms genoeg belastingbetalers gaan hê om sy maatskaplike verpligtinge te kan nakom nie. Die oplossing is nie om toelaes weg te neem nie, maar om meer werkgeleenthede te skep. Struikelblokke wat mense verhinder om die mark te betree, moet verwyder word. ’n Kultuur moet geskep word sodat elkeen wat in staat is om te werk, moreel verplig sal voel om dit te doen.
Ons het, net soos Amerika, die Europese Unie en ander lande, ’n welsynstaat geword. Ons het dit egter gedoen voor ons ryk genoeg was om dit te kon bekostig. ’n Deel van die probleem is dat ’n welsynstaat in ons Grondwet ingebou is met almal se maatskaplikekonomiese regte.
Dié regte is daar sonder ’n verduideliking waar die geld vandaan gaan kom as daar nie ekonomiese groei is nie. minimum loon sal dit nog erger raak. ’n Minimum loon vir sommige mense beteken minder werk vir ander. Die beste hoop vir die land se werkloses is om dit makliker vir hulle te maak om die mark te betree.
Ek is ’n voorstander van klassieke liberalisme waar die klem op individuele vryheid en so min staatsinmenging as moontlik is.
Met klassieke liberalisme is daar geloof in die individu se vermoë om na homself om te sien pleks dat die staat die werktuig is om mense te probeer bemagtig. Grondhervorming is geensins op die bevordering van eienaarskap gemik nie. Die staat onteien plase en verhuur dit aan begunstigdes. “Ontwikkelende” boere is nie diegene wat hulself opgehef het nie, maar bloot mense wat bevoordeel word deur ’n program van die staat.
Swart ekonomiese bemagtiging (BEE) het ook min te doen met wat swart mense self vermag. Dit gaan meer daaroor oor hoeveel punte wittes kan verdien deur goed vir swart mense te doen. BEE was ’n mislukking van die begin af.
Vanaf 2001 is R750 miljard aan BEEprojekte bestee, maar werkloosheid het verdubbel. ’n Studie in 2008 het getoon as SuidAfrika ’n werkloosheidskoers gehad het wat soortgelyk was aan ander lande op dieselfde vlak van ekonomiese ontwikkeling as ons, sou 6 miljoen meer mense werk gehad het.
Ons het beleid nodig wat dit moontlik maak vir armes om werk te vind en só die eerste tree uit armoede te gee. Hulle sal nuwe vaardighede aanleer en bydra tot die ekonomie pleks van om net verbruikers van ander se inkomste te wees. Selfs al verdien hulle min is dit beter as om niks te verdien nie.
Die Regering wil 300 000 kleinboere vestig, maar arm mense verlaat landelike gebiede om die ontberinge daar te ontkom en eerder in ’n krotbuurt in die stede ’n bestaan te probeer maak. Met die droogte sal verstedeliking net verder versnel. Dit is nou belangriker as vantevore om die arbeidsmark te liberaliseer sodat werkgewers in die vraag na werkgeleenthede kan voorsien.
Die Regering lê klem op voorheen benadeelde mense, maar vergeet van diegene wat vandag benadeel word. Die enigste manier hoe swart mense in die ekonomie opgeneem sal kan word, is ’n ekonomiese groeikoers van 6% en meer. Om dit te kan regkry, mag daar geen onsekerheid oor eiendomsregte wees nie en regulasies wat die ekonomie inperk, moet opgehef word.
Oral in die wêreld is dit bewys dat daar ’n verband tussen ekonomiese vryheid en groei is. Tussen 1990 en 2010 het die lande met die minste vryheid se bruto binnelandse produk per kop gemiddeld jaarliks met 1,6% gegroei. Dié lande met die meeste vryheid het met 3,6% gegroei. In die lande met die minste vryheid was die inkomste per kop van die armste 10% in 2010 net $1 200 vergeleke met die vryste lande se $12 000 – bykans 10 keer meer.