SUIDER-AFRIKA ONTVANG HOË BESOEKER
DR. HUGH NIVISON, nuwe besturende direkteur van die Australiese beesgenetika-uitvoeragentskap van die navorsingsinstituut vir landboubesigheid (ABRI/ Breedplan) aan die Universiteit van New England in Armidale, Nieu-Suid-Wallis, het Suid-Afrika en Namibië saam met dr. Michael Bradfield, die hoof van Breedplan in Suider-Afrika, besoek.
Nivison het ook met ’n afgevaardigde van Zimbabwe gesels om klante te ontmoet as deel van ’n wêreldwye besoek aan telersgenootskappe in lande wat Breedplan se dienste gebruik vir die registrasie van teeldiere en ontleding van teelwaardes vir gevorderde seleksie en teling. Hulle bied reeds dienste aan 175 genootskappe in 20 lande in Noord- en Suid-Amerika, Kanada, Europa en Afrika aan, asook Australië en Nieu-See- land. In Suid-Afrika word ongeveer 40% van die registrasies van vleisbees-telersgenootskappe deur Breedplan gedoen. In baie ander lande word melkbeeste, skape, bokke en perde ook ingesluit. In Namibië en Zimbabwe word verskeie diersoorte gedek. In Amerika is die Boerbokgenootskap een van Breedplan se grootste klante.
Breedplan bestee sowat R10 miljoen per jaar aan navorsing om sagteware te ontwikkel wat gevorderde seleksie en teling moontlik maak. “Al hoe meer mense verkry toegang tot die internet en telers kan enige tyd van die dag of nag teelwaardes en ander inligting oor vee oor die hele wêreld soek. Sowat drie miljoen mense gebruik maandeliks ons internetdienste,” het Nivison gesê.
Die navorsing (wat toegespits is op die navorsing van produksie- kenmerke van vleisbeeste en van kleinvee) word met die samewerking van die eenheid vir dieregenetika en -teling (AGBU) gedoen.
Nivison, ’n veearts, boer self met sowat 8 000 Merino’s en Merino-Border Leicester-kruisskape en 800 Angus-beeste en Black Baldies (Angus-Hereford-kruisings) by Armidale.
Hy het ook die Landbounavorsingsraad se hoofkantoor in Pretoria besoek. Breedplan ontwikkel voortdurend nuwe tegnologie en dit is belangrik dat ’n instansie, soos die LNR, beskikbaar is om dit te evalueer, sê Nivison. Dit is veral die geval met genomika, wat omvangryke wetenskaplike bronne verg. –