HOE WILD MOET WILD WEES?
Wat is die Leeus se geheim? In ’n naweek waarin elke ander Suid-Afrikaanse span pak slae gekry het, het die Leeus die magtige Crusaders, sewemalige wenner van die Superrugby-kompetisie, metodies op Ellispark uitmekaar gehaal. Ná die wedstryd merk die Crusaders-kaptein, Kieran Read, grootoog op: “Daar was staal in die Leeus se spel.”
En dít van ’n span wat net ’n paar jaar gelede nog ’n nasionale verleentheid was. Dit is duidelik dat wat ook al die hardekwas voormalige All Black-afrigter John Mitchell by die Leeus begin het, nou deur Johan Ackermann en sy assistent, Swys de Bruin, vervolmaak is. Wanneer jy hier lees, sal ons al weet of die Leeus se sprokiesverhaal met ’n plek in die eindstryd gaan eindig. Maar wat ook al gebeur, hulle het duidelik ’n resep gekry wat vir hulle werk.
Die wildbedryf sal ook dringend na sy wedstrydplan moet kyk. Die laaste paar jaar se ongekende hoë pryse was ’n besonderse bloeitydperk en is al beskryf as die grootste omwenteling in die plaaslike landbou sedert GM gewasse. Maar nou begin pryse afplat namate die ekonomie begin swaar trek, en dit lyk nie of ons weet of ons hardloop- of skoprugby wil speel nie.
Vat nou maar die konsternasie oor die aankondiging vroeg in Julie van Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, dat 12 wildsoorte moontlik landrasse, oftewel plaasdiere, gaan word. Dit is ’n skuif wat heel moontlik kan lei tot wildboerdery wat oorskuif na sy departement. Die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging wil niks daarvan weet nie. Dit gaan wildsoorte bedreig wat genetiese besoedeling en manipulasie betref, beweer hy — ’n argument wat strook met sy teenkanting teen die teel van kleurvariante. En as die mense wat betaal vir die geteelde bokke wat gejag word, weeg die vereniging se mening seker taamlik swaar.
Tot die wildboere sukkel om oor die besluit saam te stem. Peter Oberem, adjunkvoorsitter van Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA), meen die voorgestelde skuif, met die stigting van ’n Stamboek vir wild, is ’n goeie ding. Die nuutgestigte Wildprodusentevereniging (WPA) sal beter bestuur en regulering van die wildbedryf tot gevolg kan hê, meen hy. Maar Wiaan van der Linde, voorslagwildboer en voorsitter van WRSA, is nie so seker nie. Is alle wildboere se eindverbruiker nie maar toeriste of jagters nie? vra hy. “Wat gaan die gevolg daarvan wees om wild nou skielik plaasvee te maak?”
Sy antwoord lê miskien net anderkant die Namibiese grens, waar die jagbedryf van net 4 000 besoekers per jaar na 18 000 gegroei het. Suid-Afrika s’n het teruggesak van 9 000 tot 4 000. Die rede? Dis moeilik om te sê, maar daar word wyd bespiegel dat Suid-Afrika toenemend as ’n “mak” jagbestemming beskou word, in teenstelling met Namibië se wye, oop ruimtes en vrylopende diere. En die slegte publisiteit oor ons geblikte leeu-plase help ook nie veel nie. Hoe dit ook al sy, die syfers lieg nie. Daar is ’n probleem. Maar wat dalk ’n groter probleem is, is dat renosters nêrens op die voorgestelde lys verskyn nie, die een dier wat regtig kon baat vind by ’n herklassifikasie as ’n plaasdier. Want net met die verkoop van hul horings sal daar vir hul bewaring betaal kan word.
Dit lyk of Suid-Afrika nog nie heeltemal die resep gevind het wat vir sy wildbedryf werk nie. — CHRIS BURGESS Media24 Weeklikse Tydskrifte
BESTEL SÓ Gaan na die aanlynwinkel op Landbou.com en klik op die knoppie wat lees Winkel, of gebruik die internetadres http://winkel.landbou.com/ of bel Johan Terblanche by tel. 021 406 4962.