REGULASIES WURG TEELBEDRYF
AL hoe minder stoetperde word in Suid-Afrika geregistreer weens regulasies wat vereis dat alle teelhingste vir aansteeklike perde-baarmoederinfeksie (CEM) getoets moet word.
Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se direktoraat dieregesondheid het in 2011 regulasies ingestel wat bepaal dat stoethingste elke jaar getoets moet word voor hul vullens geregistreer mag word. Dit volg nadat dié siekte by ’n Lipizzaner gediagnoseer is (lees die kassie “Só is CEM in SA opgespoor”). Sedert Mei hoef dié toetse slegs elke twee jaar gedoen te word.
Stoettelers meen egter die regulasies diskrimineer teen hulle, want dit sê niks oor perde wat kommersieel geteel word nie.
Intussen het die aantal geregistreerde Arabierperde in Suid-Afrika met 75% gedaal sedert die regulasies ingestel is, en die aantal geregistreerde Kaapse Boerperde met 80%. “Daar is veel meer ongeregistreerde perde in die land as geregistreerde perde,” sê me. Ezelle Marais, voorsitter van die Kaapse Boerperd-telersgenootskap.
“Die regulasies waarborg dus nie dat Suid-Afrika CEM-vry is nie. Uiteindelik is dit eintlik die goeie ouens wat met die sweep geslaan word.”
TOETSKOSTE DUUR
Mnr. Wesley Hayes, voorsitter van die Arabierperd-telersgenootskap van Suid-Afrika, sê daar is al hoe minder voordele vir telers om hul perde te registreer, want die teler se winsmarge is groter as hy sy perde op ’n kommersiële grondslag uitvoer.
“Daar word meer Arabierperde uit Suid-Afrika uitgevoer as enige ander perderas, maar verreweg die meeste van hierdie uitvoer bestaan uit ongeregistreerde perde wat kommersieel geteel word. Die kommersiële telers hoef nie die vaar van ’n vul te laat toets voor die vul gebore word nie en het dus nie hierdie bykomende koste op hul perde voor hulle uitgevoer word nie.”
Hy waarsku as sake op dié trant voortgaan, sal waardevolle teelmateriaal oor die volgende 15 jaar vir altyd vir die teelbedryf verlore wees.
Marais meen die nuwe regulasies bring weinig verligting vir die telersgenootskappe, wat al hoe minder vullens vir registrasie sien. “Telers registreer Marais sê dit sal eers met die begin van die teeltyd in September duidelik word of die nuwe regulasies die situasie sal verander.
“Intussen is daar vier jaar se vullens wat ongeregistreer is en eintlik vir die bedryf verlore is.”
Hayes en Marais meen die enigste oplossing sal wees om die staatsveeartse of veeartsenykundige beamptes te betrek om die nodige toetse te doen.
“Uiteindelik is die telersbedryf nie teen die regulasies gekant nie, maar dan moet alle perde, stoet- én kommersiële diere, getoets word,” sê Hayes.
Omvattende vrae aan die direktoraat dieregesondheid is ná drie weke nog nie beantwoord nie.
SÓ IS CEM IN SA OPGESPOOR
Volgens ’n verslag van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het ’n gevriesde semenmonster van ’n Lipizzanerperd wat in 1996 geneem is, in 2011 positief getoets vir CEM. Hoewel Lipizzaners van 1948 tot 2000 as ’n geslote kudde bedryf is, is ’n aantal Lipizzaner-hingste van 2001 tot 2006 na ’n KI-stasie gebring vir semenonttrekking vir latere gebruik in kunsmatige inseminasie.
Die departement meen dit is hoogs waarskynlik dat hingste van ander perderasse daar deur die CEM-bakterie besmet is, wat van 2011 tot 2013 tot 35 gevalle van CEM by perde in Suid-Afrika gelei het. Sedertdien is geen nuwe gevalle aangemeld nie.
In die verslag wys die departement daarop dat die regulasies wat die toetsing van hingste sowel as gevriesde semen vir CEM insluit, daarop gerig is om die land CEM-vry te laat verklaar.