Entstof kom teen snotsiekte
DAAR IS HOOP dat ’n entstof teen snotsiekte reeds teen volgende jaar geregistreer kan word, mits laboratoriumtoetse van Suid-Afrikaanse en Skotse wetenskaplikes gunstige resultate lewer.
Prof. Moritz van Vuuren van die departement veterinêre tropiese siektes aan die Universiteit van Pretoria se fakulteit veeartsenykunde het op die kongres van die Rooivleisprodusenteorganisasie in Limpopo gesê die laaste veldproewe vir die moontlike registrasie vir dié entstof is sowat drie weke gelede voltooi.
Dit volg nadat ’n plaaslike dieregesondheidsmaatskappy monsters van ’n entstof uit Skotland ingevoer het in die hoop dat dit Suid-Afrikaanse kuddes teen snotsiekte kan beskerm.
Daar word nou laboratoriumtoetse op dié monsters gedoen. Die helfte van dié toetse word in Suid-Afrika gedoen en die ander helfte by die Moredun-instituut in Skotland, waar die entstof ontwikkel is.
Indien die resultate na wens is, sal ’n dossier waarskynlik later vanjaar nog ontwikkel word wat vroeg volgende jaar aan die registrateur van misstowwe, veevoedsel, landboumiddels en veemiddels voorgelê kan word dat die entstof as veemiddel geregistreer kan word.
NIE ’N WONDERKUUR
“Daar is dus ’n moontlikheid dat ons iewers in aanstaande jaar ’n entstof teen snotsiekte kan hê,” sê Van Vuuren. Hy waarsku egter dat dit nie noodwendig ál die veebedryf se probleme met snotsiekte gaan oplos nie. Proewe deur die Moredun-instituut se navorsers etlike jare gelede in Oos-Afrika het gevind die entstof het net sowat 80% van die beeste wat daarmee ingeënt is, beskerm. Kort ná dié proewe het die Skotse regering finansiering vir verdere ontwikkeling gestaak omdat snotsiekte nie vir Skotland van ekonomiese belang is nie.
Van Vuuren meen om in SuidAfrika iets te hê wat agt uit elke tien beeste teen snotsiekte beskerm, is al aansienlik beter as die huidige situasie waar afstand tussen vee en blou- of swartwildebeeste die enigste beskerming is wat aan boere beskikbaar is.
KORRIDOR
Hy sê hoewel die afstand waaroor die siekte kan versprei, nog nooit wetenskaplik bepaal is nie, is daar heelwat aangetekende waarnemings wat daarop dui dat ’n korridor van een kilometer die risiko van oordrag met 99% verminder.
Hy sê boere kan die oordragrisiko reeds met omtrent 50% beperk deur hul beeste tussen 200 m en 300 m van wildebeeste af weg te hou, en dat ’n 500 mkorridor die oordragrisiko tot 10% verklein.
Van Vuuren waarsku egter dat uiterste gevalle van oordrag al aangeteken is. Wildebeeste op ’n plaas in Texas in Amerika het beeste 6 km daarvandaan al met snotsiekte besmet, maar in die meeste opgetekende gevalle vind besmetting altyd binne ’n radius van 100 m tot 200 m plaas.
Hy beveel aan dat boere, waar moontlik, probeer om beeste en blou- of swartwildebeeste 500 m of meer van mekaar af te hou.