Byvoegmiddels maak onkruiddoders beter
Onkruiddoders bereik weens ongunstige omgewingstoestande selde hul volle potensiaal. Byvoegmiddels kan egter dié bordjies verhang en heelwat nuwe opsies bestaan op die mark. Lees net die etiket . . .
Vir onkruiddoders om behoorlik te werk en onkruid in so ’n kort tyd as moontlik morsdood te maak, moet dit eers deur plante opgeneem word. Onkruiddoders wat toegedien word ná gewasse opgekom het, soos glifosaat, glufosinaat en parakwat, word veral deur blare opgeneem.
Dié wat toegedien word voor gewasse opkom, soos atrasien en terbutielasien, word egter hoofsaaklik deur plantwortels opgeneem. Mesotrioon-onkruiddoder word deur blare én wortels opgeneem.
Die wateroplosbaarheid van na-opkomsonkruiddoders wat direk op plantblare toegedien word, is oor die algemeen hoog. Die wateroplosbaarheid van glifosaat in suiwer molekulêre vorm by ’n temperatuur van 25 °C is 15 700 mg/l by pH 7, en 11 600 mg/l by pH 2,5. Die isopropielamiensout van glifosaat se wateroplosbaarheid is 900 000 mg/l by pH 7 (25 °C) en 786 000 mg/l by pH 4 (25 °C). Glufosinaat se wateroplosbaarheid is 1 370 000 mg/l (pH 7; 20 °C) en parakwat s’n 620 000 mg/l. Mesotrioon se oplosbaarheid is 2 200 mg/l by pH 4,8, en 15 000 mg/l by pH 6,9 (mesotrioon is ’n voor- en na-opkomsonkruiddoder).
Na-opkomsonkruiddoders het dus oor die algemeen besonder hoë wateroplosbaarheid.
1 KORTOM
■ Onkruiddoders bereik selde hul volle
potensiaal. ■ Heelwat nuwe byvoegmiddels bestaan wat help dat die opname verbeter en uitwerking suksesvol is.
HINDERNISSE BEPAAL OPNAME VAN ONKRUIDDODER
’n Blaaroppervlak is oor die algemeen water-afstotend (hidrofobies). Die sterkte van dié chemo-fisiese kragte verskil van plantsoort tot plantsoort. Daar is gewoonlik op die boonste en onderste dele van blare haartjies (trichome) en was wat bo-op ’n kutikula geleë is. Dié laag bestaan uit ’n matriks van pektien met was daarin ingebed (sien foto’s).
Hierdie materiale is almal water-afstotend, en vorm die eerste linie van verdediging teen vreemde stowwe – soortgelyk aan die beskerming wat mense se harige, olierige vel bied.
Hoe is dit dan moontlik dat hoogs wateroplosbare onkruiddoders plante deur hul blare kan binnedring ten spyte van bogenoemde hindernisse vir wateropname en -vloei? Onthou dat die onkruiddoder blare net in ’n watermedium kan binnedring. Spuitdruppels waarvan die waterkomponent op die blaaroppervlak verdamp, laat ’n residu van
2 die onkruiddoder agter, wat eers opgeneem kan word nadat dit weer hidreer geraak het, soos wat dou en hoë lugvog kan doen.
Wanneer ’n hoogs wateroplosbare (hidrofiliese) onkruiddoder eers deur die kutikula gedring het (sien SKETS ), raak die beweging daarvan na binne algaande makliker omdat die selle wat direk onder die kutikula geleë is, hidrofiliese protoplasma bevat wat dien as vervoerkanaal vir verdere beweging (translokasie) binne-in die blare, asook uit die blare na ander dele van die plant in die geval van sistemiese onkruiddoders. Vir ’n onkruiddoder met lae wateroplosbaarheid geld die teenoorgestelde.
Na-opkomsonkruiddoders se werking is swak wanneer plante in ’n verlepte toestand is weens oormatige hitte en/of grondvogtekort. Benewens ’n kleiner blaaroppervlak wat deur spuitdruppels getref kan word, is die haartjies en was digter weens inkrimping van blaarweefsel, en die kutikula is verdik.
Onkruidplante wat lank onder hitte- of droogtestremming gely het, en daarna aan gunstige groeitoestande blootgestel was, behoort tyd gegun te word om te herstel voordat loof-toegediende onkruiddoders gebruik word.
Tyd is nodig vir die haartjies, was en kutikula om na “normaal” terug te keer. Die beste maatstaf is sigbare nuwe groei.