Slagdag op die plaas
Slagdag op die plaas was altyd ‘n belewenis. Veral in die tyd waarin ons grootgeword het.
Dit was voor daar krag op die plaas was. Net lampe, kerse, koolstoof en ’n donkie (’n 44 gallon-drom wat met vuur verhit word om warm water te verskaf). Die enigste “luuksheid” was die paraffien-yskas, wat maar baie gelol het. Buite, onder die groot bloekomboom, was die safe. Dit was iets wat soos ’n voëltjiehok gelyk het, met dubbel-ogiesdraad met antrasietstukke tussen-in. Bo-op was die watersak wat ’n mens gereeld moes tiep sodat die water oor die kante loop. So het die safe koel gebly wanneer die wind daaroor waai en daarin kon ouma haar pekelvleis, botter, karringmelk en brawn koel hou.
Op slagdag was ’n tollie, vark en ’n skaap of twee geslag. Dié diere is die vorige dag afgeslag en dan in die skuur gehang om af te koel en bietjie uit te droog. Die velle is oopgegooi, met growwe sout besprinkel, opgevou en eenkant gepak sodat dit later gelooi kon word om rieme, stoeloortreksels en pantoffels mee te maak.
Die karmenaadjie is aan die werkers gegee as deel van hul loon vir die hulp met die slagtery. Dit het bestaan uit die binnegoed, vet, bene, beesstert (’n luukse in vandag se tyd) en stukke vleis. Die varkkrappery was die moeilikste deel van die dag. Ons moes kookwater en kegelvormige metaalkrappers gebruik om van die hare ontslae te raak.
VELE HANDE, LIGTE WERK
Almal wat kon, het kom help en daar was meer as genoeg werk vir almal: Seep kook, vet uitbraai, kaiings sny en uitbraai en vleis bewerk met ’n handsaag en vleismesse.
Die res het vasgehou, aangedra en verpak. Vleis is gemaal vir maalvleis en wors. Biltong en droëwors is berei en opgehang. Omdat koelgeriewe beperk was, moes die oumense soveel as moontlik vleis bewerk, pekel, droog of gaarmaak om dit langer te laat hou.
Slagdag was ’n bedrywige dag. Harde werk. Lekker gekuier en baie gesweet. Aan die einde van die dag word almal beloon met braaivleis en pap. In daardie jare was ploegskare gebruik, maar nie soos vandag waar die vuur in die skaar gemaak word met ’n rooster bo op nie. Aikona, die vuur was onder die skaar gemaak. Die skaar het op drie pote gestaan en daar was ’n lang pen in die middel van die skaar, waaraan ’n mens dit kon oplig en skuif. Varkvet is in die pan opgewarm en die vleis is dan in die vet gebraai. Wanneer die vleis gaar is, word pap in bolletjies gerol en in die warm vet gedoop.
Die vure brand hoog en die reuk van braaivleis en doringhoutvure vul die lug.
Die samesyn, lekker lag en kampvuurstories rond die dag af en gaan lê in almal se herinneringboksie. Vandag is dit net daardie herinneringe wat oor is, dink ek toe ek Saterdag tussen die supermarkrakke loop en die kitskosse bekyk.
ANDERS AS VANDAG
“Voeg net water by”, “verhit in mikrogolfoond vir 3 minute” en “gereed vir eet” staan dit op die verpakkings. Ek moet bieg, die verpakkings lyk dikwels aantrekliker as die inhoud.
Party goed lyk soos uitgedroogde houtskaafsels of verkrimpte rosyne, maar dis blykbaar “hoogs vullend” en “ryk aan vitamiene”.
Ai, dink ek so by myself, as Oupa en Ouma darem hierdie moderne ys- en vrieskaste en ander geriewe gehad het, hoe lekker sou hul kos darem nie gewees het nie. Dit het altyd so smaakvol en begeerlik gelyk – sonder verpakkings.
Dis so anders as vandag, en ek verlang na slagdag op die plaas. Elke stukkie vleis was met liefde hanteer en bewerk. Niks is vermors nie. Daar was ryklik verdeel onder mekaar. Daar was samesyn en omgee. Geen bemarkingsfoefies of winsbejag nie. Wat jy sien, was wat jy kry.
Willie Havenga het op Cullinan (Bronkhorstpruit) grootgeword. Hy is tans uitvoerende hoof by Curro Bloemfontein Privaatskool en is met AnneMarie getroud. Hy hou ook motiveringspraatjies. Willie kom uit ’n boerderyfamilie en “boer” al dertig jaar in Landbouweekblad.
Sê liewer duidelik “nee” as om halfhartig “ja” te sê. Ek wil graag hierdie raad aan alle mense gee wat nog in die proses is om ’n gerespekteerde lewenswyse te kweek. Soms kan jy nie anders as om nee te sê nie. As jy dit hoflik doen en boonop verduidelik waarom ’n ja-woord nie moontlik is nie, sal regdenkende mense jou nie kwalik neem nie. Wat wel sleg ontvang word, is wanneer iemand ja sê op so ’n manier dat halfhartigheid en onwilligheid so duidelik is dat dit met ’n stomp stok aangevoel kan word. As jou ja-woord nie met ’n aanvoelbare goeie gesindheid gepaardgaan nie, moet jy dit liewer nie sê nie. Wát jy doen is belangrik, maar hóé jy dit doen is belangriker. ’n Mooi gesindheid is soos hoë-oktaan brandstof wat die mens se wil aandryf. Selfs al is dit nie aangenaam om ’n taak uit te voer nie, moet dit steeds met geesdrif aangepak word. Soos C.J. Langenhoven gesê het: “Jou swaarkry met lekkerkry klaarkry.”
Iemand wat dit onderskryf is iemand wat jy graag in jou span wil opneem.
Die Woord van God voed ons ook op om nie ons ja en nee in grys areas uit te leef nie. In Sy Bergpredikasie sê Christus baie duidelik dat dit nie nodig is om te sweer om ons woord te bevestig nie. Hy sê eenvoudig en duidelik: “Maar laat julle woord wees: Ja, ja, nee, nee. Wat meer as dit is, is uit die Bose” (Matt. 5:37).
Die apostel Paulus laat die gemeente van Korinthe ook verstaan: “So waar as God getrou is – ons woord tot julle was nie ‘ja’ en ‘nee’ nie” ( 2 Kor. 1:18) en “Want die Seun van God, Jesus Christus… Was nie ‘ja’ en ‘nee’ nie, maar was ‘ja’ in Hom” (2 Kor. 1:19).
Christus se “ja” was nie halfhartig of onduidelik nie, maar opreg en daadwerklik. Hoe raak dit ons? Dis eenvoudig: Maak jou keuse opreg en sê “ja” vir Christus.