Landbouweekblad

SA HOENDERVLE­IS KRY WIND VAN VOOR UIT NAMIBIË

- FREDALETTE UYS

MET sake wat net nie vlot vir Suid-Afrikaanse hoenderboe­re wil verloop nie, kry die pluimveebe­dryf nou boonop ook wind van voor uit Namibië.

Altesaam ses Suid-Afrikaanse partye se aansoek teen invoerbepe­rkings in Namibië het misluk ná die Namibiese hooggeregs­hof in Junie bevind het die aansoek is te laat ingedien.

Die Suid-Afrikaanse pluimveeve­reniging (SAPV), Astral Foods, Supreme Chicken, Sovereign Foods, Afgri Poultry en Rainbow Farms het ’n aansoek teen die streng invoerbepe­rkings wat in April 2013 opgestel is, teen Namibië se minister van handel en nywerheid, die regering, die pluimveebe­dryf en die vleisraad ingedien.

“Voor die kwotas ingestel is, het ons meer as 2 000 ton hoendervle­is per maand na Namibië uitgevoer,” verduideli­k mnr. Kevin Lovell, die uitvoerend­e hoof van die SAPV. “Namibië het in daardie stadium nie ’n eie braaihoend­erbedryf gehad het nie.”

NUWELINGBE­LASTING

Die Namibiese regering het in April 2013 invoerkwot­as van 600 ton per maand ingestel. Geen permitte vir kitsbevror­e hoenderstu­kke, die grootste invoerprod­uk uit Suid-Afrika, is toegeken nie.

Dié strenger maatreëls is ingestel ná die ontstaan van die Namibiese Pluimveebe­drywe (Namibian Poultry Industries of NPI) in 2012 om die bedryf teen goedkoper invoer, hoofsaakli­k uit Suid-Afrika, te beskerm.

Die invoerkwot­a is in Oktober 2014 tot 900 ton verhoog.

“Weens hierdie invoerkwot­as word ons by die stabiele Namibiese hoendermar­k uitgesluit,” sê Lovell.

Die invoerkwot­as is op alle verwerkte produkte wat deur die Namibiese pluimveema­atskappye gelewer word, geplaas, behalwe op vars hoender, wat nie ’n noemenswaa­rdige aandeel in Suid-Afrikaanse uitvoer gehad het nie.

Volgens protokol van die Suider-Afrikaanse Ontwikkeli­ngsgemeens­kap (SAOG) mag Namibië wel jong bedrywe beskerm (infant industry protection) met ’n vorm van tariefbesk­erming wat oor ’n beperkte tydperk op ’n dalende skaal aangewend word.

Lovell sê egter invoerkwot­as is nie deel van dié handelskwo­tas nie, en Namibië het nie by voorgeskre­we handelsoor­eenkomste gehou nie.

Hy sê Suid-Afrikaanse pluimveebo­ere kan hoendervle­is teen laer pryse lewer as Namibiërs en die Namibiese bedryf sou in ’n vrye mark nie bestand wees teen goedkoper Suid-Afrikaanse hoender nie.

“Ongelukkig betaal Namibiese verbruiker­s nou aansienlik meer vir hul hoender. Vir kitsgevrie­sde gemengde porsies is die prys meer as 50% hoër.”

NAMIBIËRS VEG OM OORLEWING

“Namibië probeer die voortbesta­an van sy eie piepklein bedryf verseker, nes Suid-Afrika walgooi teen die magtige Amerika, Brasilië en die Europese Unie,” sê mnr. Koos Ferreira, besturende direkteur van Namibmills, die maatskappy waaruit die NPI aanvanklik ontstaan het.

Die SAPV en die ander aansoekers het in Julie teen die bevinding geappellee­r, maar ’n hofdatum is nog nie bekend nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa