DIEANDERSÊ
Die nasionale minimum loon kan waarskynlik armoede verlig, maar daar is ook ’n goeie kans dat dit werkskepping en inderdaad die volhoubaarheid van klein ondernemings in swart besit kan ondermyn. Dit maak die vlak waarop dié loon bepaal word belangrik – en uitdagend.
Ofskoon ’n nul-persent-groeikoers en stygende werkloosheid kwalik die toepaslike omstandighede is om só ’n minimum loon ’n voorrangsaak te maak, is die beginselbesluit daaroor reeds amper twee jaar gelede geneem. Nou sal dit doenlik wees om die beleidsonsekerheid uit die weg te ruim en te besluit wat dié loon in die praktyk sal beteken.
Daar was al sprake dat huiswerkers uitgesluit moet word. Dit is ook moontlik dat ’n nasionale minimum loon nie soveel werkers sal raak wat nie reeds deur een of ander bestaande minimum loon gedek word nie. Die uitwerking op werkskepping en ondernemings se gewilligheid om te belê en werk te skep sal dus afhang van hoe hoog die loon gestel word.
Die loon wat Cosatu voorgestel het – R4 500 tot R6 000 in 2011-waardes – sal waarskynlik rampspoedig vir werkskepping wees en sal ook rampspoedige seine stuur oor hoe besigheidsvriendelik Suid-Afrika is. Hoe ver ónder dié vlak dit behoort te wees, is die vraag en die paneel wat daaroor besluit, sal die regte balans tussen armoedeverligting en werkskepping moet vind.