ANDERKANT DIE GRENSDRAAD
Dit was oubaas Anton Rupert wat op ’n kol opgemerk het dat jy in Suid-Afrika nooit rustig sal slaap as jou buurman honger ly nie. Eilande van welvarendheid in ’n see van armoede was nog altyd Afrika se probleem. Dít geld vir lande én individue. In ’n see van armoede en erge politieke onstuimigheid is SuidAfrika ’n baken van vooruitstrewendheid in Afrika. Ja, dit gaan dalk tans nie te waffers by ons nie, maar kyk net oorkant die grensdraad. Swaziland se spandabelrige koning steur hom min aan sy mense se erge kostekorte, in Lesotho is politieke sluipmoorde niks ongewoons nie, Zimbabwe bly ’n tragiese, uitmergelende gemors en Mosambiek word moontlik deur ’n volskaalse burgeroorlog in die gesig gestaar.
Vergeleke met dié lande is Suid-Afrika ’n paradys. Geen wonder die vasteland kom maak homself hier tuis nie. Somaliërs, Mosambiekers, Zambiërs, Angolese, Kongolese, Zimbabwiërs . . . noem maar op. In baie gevalle is hulle opgevoede mense wat veral ’n groot bydrae tot Suid-Afrika se stedelike ekonomie lewer – van restaurantgaste bedien tot puntenerige bouwerk, huise skoonmaak, plaaswerk en klasgee by universiteite. Hulle draf selfs vir die Springbokke uit.
Sou dinge skielik beter gaan in ons kontinentale gaste se lande van herkoms en hulle gee oornag pad, sal dit ’n taamlike gevoelige slag vir Suid-Afrika se ekonomie wees. Natuurlik sal ons ook van ’n hele paar skarminkels ontslae wees!
Afrika is ook deesdae die grootste uitvoerbestemming vir SuidAfrikaanse landbouprodukte. Dit is dus in landsbelang dat ons bure hul koopkrag behou en nie ál hul beste mense afstaan aan emigrasie nie. Dit is ’n werklikheid wat prof. Nic Vink onlangs in perspektief geplaas het toe hy genoem het dat vir elke R1 wat Suid-Afrika tans uit Afrika invoer, voer die land R10 uit.
Met die prys van kommoditeite, die hoeksteen van baie Afrikaekonomieë, lelik af, trek dit noustrop, of dit nou koper in Zambië of olie in Angola is. En dan help die politiek ook nie juis nie. Vat maar die turksvy van ’n Mugabe of ’n dreigende Renamo in Mosambiek?
Die oplossing vir albei probleme lê in meer ekonomiese aktiwiteite. Dr. Theo de Jager, voorsitter van die Pan-Afrika-landbouvereniging, noem die ander dag dat net 3% van die handel in Afrika tussen lande op die vasteland plaasvind. Geen wonder die grootste koelgeriewe in die ganse Botswana is ’n betreklik beskeie 6 000 m2-aanleg in Gaborone. Of dat dit makliker en goedkoper is om vrugte van Suid-Afrika na Frankryk te stuur en vandaar na die Kongo (Brazzaville) as regstreeks vanaf Suid-Afrika na die Kongo.
Ram Ottapathu, uitvoerende hoof van die suksesvolle kleinhandelgroep Choppies, vertel onlangs in Botswana word slegs 30% van die aartappels en 40% van die tamaties wat verbruik word, plaaslik verbou. Dieselfde geld vele ander Afrika-lande. Dit bied uitvoer- en beleggingsgeleenthede aan Suid-Afrikaanse produsente.
Neem Choppies se betreklik klein belegging van 10 000 pula in ’n groenteboer van Botswana vyf jaar gelede en die oorname van sy logistiek om hom as verskaffer te vestig. Vandag het dié boer ’n produksielening van 15 miljoen pula by handelsbanke danksy sy kontrakte met Choppies. Só word ekonomiese standvastigheid gevestig, wat ons almal net kan bevoordeel. — CHRIS BURGESS Media24 Weeklikse Tydskrifte