NAVORSING, NIE TARIEWE, SAL KORINGBEDRYF RED
Die rekordhoë invoertarief maak verbruikers seer en doen niks om produksie aan te spoor nie, sê WANDILE SIHLOBO.
GEEN behoorlike debat oor handelsbeleid is moontlik sonder om ag te slaan op die uitwerking van instrumente, soos tariewe, op verbruik én produksie nie. Die doel van handelsbeleid is om ’n balans te vind tussen die belange van die boer en die verbruiker.
Dié perspektief is veral van toepassing op die onlangse styging in Suid-Afrika se koring-invoertarief, wat tans op amper R1 600 per ton staan, 30% hoër as die vorige vlak en die hoogste tot nog toe.
Aan verbruikerskant dra hoër koring-invoertariewe by tot die druk op kospryse. Aan die produsentekant moet Suid-Afrikaanse graanboere beskerm word teen die onregverdige mededinging van ingevoerde produkte wat met behulp van groot subsidies verbou word.
Die onderliggende logika van die tariefmeganisme is eenvoudig. ’n Styging in die invoertarief sal binnelandse koringpryse hoog genoeg hou om boere aan te spoor om hul produksie te verhoog. Die uitkring-effek daarvan sal pryse op die duur versag.
Op kort termyn sal pryse noodwendig styg, ofskoon dit debatteerbaar is hoe groot dié styging inderwaarheid sal wees, en watter aandeel die tarief self op sulke stygings sal hê.
Dit is onmoontlik om te verwag dat dié tariewe sal lei tot ’n sodanige groei in produksie dat Suid-Afrika ewe skielik selfvoorsienend sal word, veral binne ’n paar seisoene, gegewe dat die land tans net 40% van sy jaarlikse koringverbruik van 3,4 miljoen ton verbou. Uit hierdie oogpunt is ’n tarief eintlik ’n strategiese noodsaaklikheid en nie iets wat sonder meer verwerp kan word nie.
PERFEKTE STORM
Die vraag is hoe só ’n tarief gestruktureer moet word om enersyds binnelandse produksie te verhoog en andersyds voedselsekerheid te koester. Die huidige tariefvlak het vrae laat ontstaan oor die veranderlike formule waarmee die tarief bepaal word en wat in die verlede so goed gewerk het.
Suid-Afrika beleef tans ’n unieke seisoen, waarin ’n ernstige droogte, hoë brandstofpryse en ’n swak rand saam ’n perfekte storm geskep het wat tot uitsonderlik hoë kospryse gelei het.
Intussen het die veranderlike tariefformule soos verwag gesneller (iets wat gebeur wat die produsente-organisasie noop om aansoek te doen om die tarief te laat verhoog). Dit is in reaksie op dalende internasionale koringpryse, wat tans op ’n sesjaarlaagtepunt van $193 per ton is.
Gevolglik het die tarief gestyg tot ’n rekord-hoogtepunt en onbedoeld inflasiedruk op kospryse geplaas. In wese is die hoë koring-invoertarief ’n tweesnydende swaard wat aan die een kant boere beskerm teen onregverdige internasionale mededinging, maar aan die ander kant verbruikers opsaal met hoër pryse.
Geregverdigde kommer het nou die invoertariefmeganisme in die kollig geplaas. Invoertariewe vir koring én ander kommoditeite, soos mielies en suiker, wat deur formules bepaal word, word tans hersien.
Die argument is nie om geheel en al van invoertariewe af te sien nie, maar om ’n meer gepaste en minder ingewikkelde beskermingsinstrument te identifiseer. Die opvatting is dat genoeg ag geslaan word op die uitsonderlike toestande van die kosmarkte in die huidige produksieen bemarkingsjaar.
Gegewe dat dié seisoen niks het om daarmee te vergelyk nie, moet daar egter gewaak word teen besluite wat op korttermyn-uitkomste gebaseer is, maar wat dalk nadelige gevolge op lang termyn kan hê.
PRODUKSIE
Graan SA se data wys Suid-Afrika se koringproduksie het oor die jare stelselmatig gedaal. Dit is weens klimaatsverandering, wat baie boere, veral in die Vrystaat, hoërisiko-koringproduksie laat staak het.
Terselfdertyd het ’n groeiende vraag en krimpende produksie koring-invoer geleidelik laat toeneem. Gegewe hierdie scenario, bly die vraag: Hoeveel maatskaplike welvaart word opgeoffer as invoertariewe styg teen die agtergrond van ’n immer groeiende koringtekort? Dit is ’n ietwat onrusbarende neiging.
Daar moet aktief probeer word om meer geld in saadontwikkeling te belê. Dit sal lei tot groter opbrengste en Suid-Afrika se afhanklikheid van ingevoerde koring verminder. Gebeur dit nie, sal ’n groot tariefverhoging soos ons onlangs beleef het, net verbruikers se welsyn benadeel.
Op lang termyn is dit ’n groter belegging in navorsing wat Suid-Afrika se koringsektor sal red. Op kort termyn kan handelsbeleid dalk help om die welstand van die verbruiker én die boer te balanseer. Die vraag is egter watter instrument beter sal werk – ’n ad valorem-tarief (gebaseer op goederewaarde) of ’n “formulegebaseerde tarief”. Laasgenoemde het nou skynbaar onhoudbaar geword, en eersgenoemde begin na ’n meer aanvaarbare opsie lyk.
Mnr. Wandile Sihlobo is hoof van ekonomiese en landbousake-inligting by die landbousakekamer Agbiz. Dié artikel het onlangs op die London School of Economics and Political Science se Afrika-blog verskyn.
’n Tarief is eintlik ’n strategiese noodsaaklikheid en nie iets wat sonder meer verwerp kan word nie.