Die dag toe skoonheid uitgedeel is, het hulle vergeet om aan te meld.
Die droë kameeldoring in die sandsloot was ’n donker spookding met groteske arms en na meer as drie uur se sit in die windpomp het ek my verbeel dat hy elke nou en dan beweeg.
Toe ’n jakkals skielik naby in die ylboomvlakte kla, het sy melankoliese roep my nekhare onwillekeurig laat rys. In die helder maanlig kon ek die vlakte sien, maar selfs met my verkyker het die skadu’s geheimsinnige donker poele gebly en die jakkals onsigbaar.
’n Sagte geluid skuins agter my het my aandag getrek en toe ek my kop draai, snork die “ding” reg onder die windpomp. Die half vraende snork het bekend geklink, maar in my verbeelding het ek die luiperdmannetjie (wat skynbaar daar naby die windpomp gehou het) skuins agter my sien hurk, sy oë brandend op my rug. Skielik was my rug laaistokstyf en terwyl my oë die dierasie soek sonder dat ek my kop draai, het my regterhand na die 7x57 se veiligheidsknip gesoek.
Toe snork die vlakvark weer. Hierdie keer was die geluid onmiskenbaar en ek het ’n harde sug van verligting geslaak. Klippers het gespat soos die varke hardloop. Daar was twee. Dit was kwart voor nege die aand. Waarom dié twee in die nag wou kom suip, weet nugter, want vlakvarke is eintlik daglopers.
Normaalweg drink hulle so van elfuur af soggens tot vieruur smiddae. Ek het wel onlangs in Namibië ’n paar varke skuins ná vyfuur by die water gesien en ook in Noord-Natal vlakvarke laataand in die helder maanlig op ou mielielande (dit was nie bosvarke nie) sien wei. Menslike bedrywighede rondom suipings dra natuurlik by tot die tye waarop vlakvarke kom suip.
MAKLIK GEJAG, MAAR MIK GOED
Ek het ’n sagte plekkie vir hierdie lelike ou mooi diere van die Bosveld. Vlakvarke het my ure se genot verskaf rondom watergate, veral in Noord-Natal langs die Mkuzerivier as ek diere voorgelê het met die kamera om foto’s te neem. Hulle is komieklik, sien nie so goed soos wildsbokke nie en die dag toe skoonheid uitgedeel is, het hulle vergeet om aan te meld. Verder is hulle betreklik maklik om te jag – dis vir baie beginnerjagters die eerste dier wat hulle probeer skiet.
Vlakvarke het op sommige plekke vaste Daar is nóg ’n rede waarom ek van vlakvarke hou – hierdie ou vaal wielneuse het dapper harte. ’n Vlakvarksog het my by geleentheid met groot vasberadenheid bestorm toe ek tussen haar en haar kleintjies beland het. Al raad vir my was om takties te onttrek . . . teen ’n hoë spoed. Daar is talle opgetekende gevalle waar vlakvarke luiperds en selfs leeus aangedurf het omdat hul kleintjies bedreig was, of sommer net omdat die varke nie op daardie dag lus was om katkos te raak nie.
Lank lewe dié lelike lieflinge van die Bosveld dus. Sonder hulle sou ons bospaaie beslis veel armer gewees het.
Koos Barnard is redakteur van SA Jagter.