Landbouweekblad

Angus gesels

Op die platteland kuier ons lekker, groet mekaar met ’n klapsoen, is deel van mekaar se lief en leed en natuurlik help algar mekaar. Dis juis dié helpery van Piet wat hom so lelik aan die bas kom byt het.

-

Hierdie is nie ’n hoorsê-storie nie, ek was daar die dag toe die misverstan­d geblom het. Sien, die saak staan so. Piet was jare lank, nes sy pa voor hom, die man waarheen ’n boer enige stukkende ding – van ’n strykyster tot ’n trekker – kon neem om te herstel. Hy was goed ingerig in sy groot werkswinke­l op die dorp oorkant die koöperasie. Benewens sy handigheid het hy suiwer Afrikaans gebesig. Nodeloos om te noem dat Ingels vir hom Grieks was.

Soos dit nou maar op ons ou dorpie gaan, weet almal van almal se dinge en dit kon ook nie anders toe Herklaas, ’n boer uit die kontrei, loop vrou vat nie. Ingelse nooi, rou Ingels, vars uit die stad. Herklaas het haar ontmoet deur ’n niggie van hom wat agter werk aan stad toe was. Gelukkig was Herklaas, anders as Piet, nie te onkundig met die Ingels nie, maar ons glo die twee het darem in Afrikaans gevry. Nietemin gons dit nog so oor die nuwe siel op die dorp toe sy eendag haar toevlug na Piet se werkswinke­l neem om ’n ystertuins­toel te laat regmaak.

Herklaas was amper oujongkêre­l en daar was baie stukkende goed wat moes regkom en ander dinge wat uit sy huis moes wegkom voor die Ingelse nooi tevrede sou wees. Die nooi het gou besef Herklaas was bo alles in die eerste plek ’n boer en sou altyd wees. Tyd vir peuter aan dingetjies wat haar in en om die huis pla, het op ’n lysie teen die yskas gehang tot die papier se hoekies begin opkrul het. En dit was gedurende dié tyd dat sy haar tot Piet op die dorp gewend het. Nou kyk, onse Piet het ’n goeie hart gehad en mense vreeslik maklik vertrou. Met dié dat Piet heeltemal ongeskoold in die rooitaal was, moes die Ingelse nooi maar beduie wat sy wou hê Piet met die stoel moes doen. So beduie Piet sy kan maar dorp toe en sy moet so teen twaalfuur die ding weer kom haal.

’N LES IN AFRIKAANS

Twaalfuur is sy duidelik tevrede met die diens gelewer. Sy vra Piet in Ingels wat sy hom skuld en goeie siel wat hy is, meen hy die ou bietjie werk regverdig nie geld nie. Jy moet verstaan Piet was ’n lang man, groot gebou en die nooi se kop het so onder sy arm ingepas.

“How much, sir?” Dring sy aan op ’n prys nadat Piet reeds gesê het hy wil niks hê nie.

“Net ’n karmenaadj­ie,” gee Piet maar toe sodat die nooi kan ry, want hy’t nog ’n vaaljapie se enjin wat oorgedoen moet word.

Daai Ingelse nooi trek haar regterarm ver terug en klap arme Piet dwars oor sy wang voor sy by die werkswinke­l uitstorm. Piet staan stomverbaa­s en kyk haar agterna, terwyl hy sy wang vryf. Snaakse entjie mens dié vrou van Herklaas. Ongeskik . . .

Piet neem homself voor om Herklaas te gaan aanpraat oor dié vrou van hom. Sy sal haar houding moet verander as sy hier tussen die boere wil regkom.

Dit was byna toemaaktyd toe Herklaas by Piet aankom. Hy moet agter die kap van die byl kom en hy vra vir Piet om mooi te vertel wat dan vandag gebeur het. Hulle is mos nie vandag se vriende nie, hoe kan Piet nou so laag daal om onwelvoegl­ike gunste van sy vrou te vra as betaling vir dienste gelewer?

Die vrou van Herklaas se eerste amptelike Afrikaanse woord het dus “karmenaadj­ie” geword. Die betekenis daarvan het sy nooit vergeet nie! Antonette is ’n laserterap­eut van Volksrust. Sy is lief vir skilder, skryf en sport.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa