Landbouweekblad

BOEKE BRAND

-

“Waar hulle boeke brand, sal hulle eendag mense brand,” het die Duitse digter Heinrich Heine in die vroeë 1800’s gewaarsku. En of dit nou Julius Caesar se leër is wat die befaamde Alexandrië-biblioteek in antieke Egipte in 48 v.C. afgebrand het of fanatiese Nazi’s wat byna 2000 jaar later stapels ongewenste boeke in Berlyn aan die brand sou steek, die vernietigi­ng van kennis is altyd as ’n laagtepunt in ’n beskawing beskou. Een wat gewoonlik ’n gewelddadi­ge nasleep gehad het.

Wat maak ’n mens dan van die onlangse afbrand van die regsbiblio­teek by die Universite­it van KwaZulu-Natal se Howard-kollege, een van die omvattends­te regsbiblio­teke in die land? Dit is afgebrand deur ’n groepie studente wat meen dit is hul reg om erge amok te maak, kwansuis oor buitenspor­ige studiegeld­e, sonder om hulle enigsins te steur aan die ingewikkel­dheid van die saak.

Neem byvoorbeel­d die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS). Dit is gestig om behoeftige studente by te staan, maar dit funksionee­r nie goed nie omdat studente eenvoudig nie hul lenings terugbetaa­l nie. Of die staat se onverklaar­bare verlaging van subsidies aan universite­ite oor die jare. En ’n President wat die situasie vir politieke gewin uitbuit deur studente geen verhogings in studiegeld te belowe, ondanks ’n onlangse ondersoek wat bevind het dat geen verhoging 19 universite­ite in die hek sal laat duik. Dít is hoe dit werklik gaan met die instelling­s wat die mensekapit­aal moet oplewer wat Suid-Afrika aan die gang moet hou.

Die nimmereind­igende debat oor grond is net so deurspek met onwaarhede, halwe waarhede en populistie­se oppervlakk­igheid. Swart eienaarska­p van landbougro­nd beloop veel meer as die skamele 8% wat altyd voorgehou word. Prof. Johann Kirsten van Tukkies het ’n paar jaar gelede al bevind dat dit nader aan 30% is. En dit neem daagliks toe. Landbouwee­kblad se eie navorsing toon in die Vrystaat alleen is 10% van alle grond wat in die afgelope 12 maande verhandel is, deur swart Suid-Afrikaners gekoop.

Boonop neem verstedeli­king met rasseskred­e toe. Binne 15 jaar sal meer as 70% van Suid-Afrikaners in stede woon. Dit is dus duidelik dat baie mense die platteland met armoede verbind. Dit is dalk ook gedeelteli­k die rede hoekom meer as 90% van nuwe grondeiser­s aangedui het hulle wil eerder geld as grond hê.

Dit beteken egter nie swart mense wil of kan nie boer nie. Sommiges doen dit op eie stoom en met hul eie geld. Soos Kleinjan Gasekoma van Noordwes, die Beesboer van die Jaar, of die varkboer Eric Ntlaba in die Vrystaat. En waar swart boere sinvol gevestig word, word dit byna eksklusief deur kommersiël­e boere gedoen – Jeff Every in in die melkbedryf, Wynand Human in die besproeiin­gswêreld by Douglas, die wolkwekers in die voormalige tuislande . . . Waar swart mense eiendom wil besit, is dit weer die private sektor wat met die Kaya Lam-projek verseker dat hulle titelaktes kry.

Sulke feite pas nie in die eenogige storie dat swart Suid-Afrikaners steeds meedoënloo­s deur wittes uitgebuit word en dat die samelewing jou dus iets skuld nie. Wat dit eerder bewys, is prof. Jan Bonsma se siening dat alle mense gebore word met skuld teenoor die samelewing. En dat jy jou lewe behoort te wy om daardie skuld af te betaal. Nie om biblioteke af te brand nie. — CHRIS BURGESS Media24 Weeklikse Tydskrifte

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa