DROOGTE SKOP VAS AAN DIE WESKUS
TEN spyte van welkome reën oor die Wes-Kaapse wintergraanstreke, gaan dele van dié provinsie steeds gebuk onder uiterste droogtetoestande.
“As ons nie binne die volgende maand ten minste ’n duim (25 mm) reën ontvang nie, gaan ons nie deur die somer kom nie,” sê mnr. Arno Pienaar van die plaas Leeukuil in die Kliprant noord van Vredendal, waar dit steeds bitter droog is.
Hoewel die reën (wat maar kol-kol geval het) tydelike verligting gebring het, het ’n sterk oostewind en warm dae in Augustus, met dagtemperature van hoog in die 30 ºC, die meeste grondvog uitgedroog.
“Die veld kan dit nie in dié omstandighede hou nie. Die meeste van ons voer is droog gewaai en ons sien hoe die skape benadeel word.”
OLIFANTSRIVIER
Volgens Pienaar is die aantal lammers wat vanjaar gebore is, aansienlik minder en is daar ’n merkbare verskil in Angora- én Merino-skeersels.
Pienaar sê die droogte heers al sedert 2014, en meeste boere sal nie nóg ’n droogte kan oorleef nie.
Weens die moeilike toestande in die streek is ’n gemengde boerdery vir min van die boere ’n opsie. Die meeste boere is slegs op skape aangewese en is dus uiters kwesbaar vir droogte.
Elf vragte veevoer wat geskenk is deur boere wat nog ’n surplus het, is verlede week deur Agri Wes-Kaap na boere van die Weskus versprei.
Volgens mnr. Barend Vorster van die BJD-boerdery by Kapel, naby Klawer, is die druiweboere van die Olifantsriviervallei, wat hoofsaaklik op besproeiing aangewese is, vanjaar in ’n beter posisie as ’n jaar gelede. Dit is omdat die Clanwilliamdam vol is.
“Ons het egter nog opvolgreën nodig sodat die dam einde November kan oorloop om waterbeperkings te voorkom.”
KOUE-EENHEDE
Boere van Ceres kan vanjaar die komende somer met ’n beter gemoed ingaan, maar die grootste gevaar is steeds nie verby nie. Volgens mnr. Daniel Havenga, Wes-Kaapse produksiedirekteur by die Du Toit-groep, kan vanjaar se goeie reën die grondwater en damme in die streek na normale vlakke bring.
Die winter het egter laat begin; die vroeë winter was steeds warm en lae sneeuval het tot minder koue-eenhede vir die vrugtebome gelei.
“Dit was waarskynlik die swakste koue tyd wat ons in ’n lang tyd gehad het. Die koue-eenhede is af met tot 20% op lang termyn. Dit is egter nog moeilik om die uitwerking daarvan op die vrugtebome te bepaal.”
–
‘Die meeste van ons voer is droog gewaai en ons sien hoe die skape benadeel word.’