Landbouweekblad

REËN MOET NÓÚ VAL

- JASPER RAATS

DAAR is mooi beloftes in die bloeisels van Limpopo en Mpumalanga se sitrusbome, maar boere is bekommerd oor hul waterreser­wes wat opdroog.

“As ons nie teen November reën kry nie, het ons moeilikhei­d,” sê mnr. Piet Smit van Bosveld Sitrus by Letsitele in Limpopo.

Mnr. Pieter Vorster van die Mahela-boerdery, ook by Letsitele, sê hulle is in dieselfde bootjie.

“Die bloeisels in ons boorde lyk fantasties – nie net op ons sitrusbome nie, maar ook op mango’s by Hoedspruit. As ons daardie vrugte kan laat vorm en dit hou tot pluktyd, kan ons vanjaar ’n baie goeie jaar hê, maar dan moet dit binnekort reën.”

Die Tzaneendam, waaruit Letsitele en Tzaneen se sitrusboer­e besproei, is tans net 28% vol, en die vlak daal met omtrent 0,5% per week.

Smit sê Bosveld Sitrus het boorgate wat in noodgevall­e gebruik kan word, maar reënwater is nodig vir optimale vrugvormin­g en -ontwikkeli­ng.

VASBYT

Mnre. Christo Vorster jr. van die Mount Stuart-boerdery en mnr. Barend Vorster van die Xmas-boerdery, albei van Tshipise, is net so bekommerd. Hulle besproei uit die Nzheleleda­m wat tans net 21% vol is.

“Ons het boorgatwat­er, maar dit het baie kalk in en kan net in uiterste noodgevall­e gebruik word, sê Barend.

Christo sê boere in die omgewing sal binnekort moet besluit of hulle die bietjie water wat nog beskikbaar is, gaan gebruik om vrugte op dele van hul boorde te laat vorm en ander bome maar aan die natuur se genade oorlaat, en of hulle eerder die hele oes gaan opoffer en die beskikbare water gaan gebruik om ál hul bome aan die lewe te hou.

Barend sê hulle het laas in 1992 hul boorgate gebruik, want dis te swak vir sitrusprod­uksie.

“Ons het daardie jaar net bome aan die lewe gehou. Ek hoop ons hoef nie weer so ’n besluit te neem nie. Ons kan nog vasbyt tot November en ons glo dit sal voor dan reën.”

LOSKOPDAM

Christo sê min boere kan bekostig om hulself ’n jaar lank finansieel sonder ’n oes te dra. Hoewel boere van Ohrigstad in selfs ’n erger penarie is, sê mnr. Piet Engelbrech­t van die Piet Engelbrech­t-trust naby Loskop hul situasie is darem nie so desperaat nie. Die Loskopdam se vlak staan volgens Waterwese tans op 52,5%.

“Ons het nie ons volle kwota nie, maar ons is baie beter daaraan toe as talle boere in Limpopo en Mpumalanga,” sê hy.

Die Ohrigstadd­am is net 4% vol, maar al die boere met wie Landbouwee­kblad gepraat het, hou moed en glo die reën sal betyds kom en dat 2017 ’n goeie sitrusoes sal oplewer.

“Ons boer in geloof. Daarsonder kan ons maar ophou,” sê Barend. –

‘As ons daardie vrugte kan laat vorm en dit hou tot pluktyd, kan ons vanjaar ‘n baie goeie jaar hê.’

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa