Ekonomieserisiko’slaat gevaarligteflikker
Boere moet nie oorhaastig besluite neem nie, maar hulle moet in die lig van die onsekerheid en risiko’s in die plaaslike en wêreldekonomie eerlik dink oor die kontantvloei van en beleggings in hul boerderye.
Die omgewing waarin Suid-Afrikaanse besighede en veral die landbou besluite moet neem, raak al hoe wisselvalliger. Dit maak dit moeilik om besluite te neem. Natuurlik het die risiko’s internasionaal in die jongste paar jaar vergroot. Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het so onlangs as in Junie gewaarsku dat markrisiko’s wêreldwyd skerp verhoog het en dat die kans op skerp markregstellings en ’n moontlike resessie aansienlik toegeneem het.
Die IMF verwys na die debat in die Westerse wêreld oor rentekoerse wat “genormaliseer” moet word vanaf zero-vlakke na positiewe rentekoerse. Die grootskaalse geldskepping en skuld ná die finansiële krisis en resessie in 2008 het Westerse reserwebanke rentekoerse laat verminder tot feitlik nul. Dit het veroorsaak dat beleggers toenemend hul geld in meer riskante beleggings geplaas het om positiewe opbrengste (bo 0%) op hul beleggings te kry.
Dit het ook meegewerk dat aandeelpryse wêreldwyd, asook die skuldvlakke van regerings en verbruikers aansienlik gestyg het.
’n Mens kan byvoorbeeld in Kanada ’n voertuig koop en finansier oor 90 maande met geen deposito teen 1-2% rente per jaar. Nodeloos om te sê, almal ry nuwe voertuie en boere het van die nuutste bakkies. Natuurlik kan jy ook grond koop en finansier. Die probleem is dat dit nie volhoubaar is nie.
Die situasie moet genormaliseer word. Rentekoerse behoort stadig, maar seker verhoog te word. Dit gaan egter aanpassingspyne veroorsaak.
Die verdere gevolg is dat daar sedert die begin van die jaar weer geld vanaf Westerse beleggers gevloei het na opkomende ekonomieë, soos Suid-Afrika, wat ’n redelik goeie opbrengs gee met geld op deposito (sien TABEL ).
Die rand was dienooreenkomstig sedert die begin van die jaar in ’n versterkende siklus, wat natuurlik ’n impak het op die pryse van landbouprodukte, maar ook op die pryse van produksiemiddele, soos kunsmis.
In die laaste twee weke van Augustus het die wisselkoers van die rand in trurat gespring. KORTOM
■ Rentekoerse sal waarskynlik in die komende maande stadig, maar seker verhoog word. ■ Nadat buitelandse beleggers sedert die begin van die jaar in Suid-Afrika belê het, het geld in Augustus uit die land begin vloei. ■ As groot hoeveelhede geld vinnig uitvloei, kan die rand verswak, wat gevare inhou vir die Suid-Afrikaanse landbou.
Onsekerheid in die Suid-Afrikaanse ekonomie het skerp toegeneem weens die binnegevegte in die ANC en pogings deur pres. Jacob Zuma en sy ondersteuners om die Tesourie te “kaap” sodat die staat kwynende staatsondernemings kan bly finansier. Ongeoorloofde tenderpraktyke by hierdie ondernemings ondermyn die doeltreffendheid van die plaaslike ekonomie op groot skaal.
Dit kon vermaaklik gewees het as die gevolge van hierdie gevegte nie so skrikwekkend was nie. Gerespekteerde ekonome en ontleders meen dit het Suid-Afrika geneem tot op die rand van ’n diep resessie en potensieel groot skokke vir die ekonomie.
Vir die boer is die vraag hoe hy as landboubesigheid sy besluitneming moet doen en hom probeer staal teen die besonder hoë risiko dat dinge kan verkeerd loop.
INTERNASIONALE KNELPUNTE
In die tabel word ’n opsomming gegee van enkele ekonomiese aanwysers wat aan die kern raak van die knelpunte in die wêreldekonomie. Dit toon dat baie lande se skuldvlakke besonder hoog is: Dit het binne 6-7 jaar feitlik verdubbel.
Die IMF se riglyn is dat skuldvlakke van ontwikkelde lande nie meer as 60% van die bruto binnelandse produk behoort te wees nie om die skuld bekostigbaar te maak. Dit is nou op feitlik dubbel daardie vlakke, maar teen nul-rentekoerse.
Geld het daarom sedert die begin van die jaar na opkomende ekonomieë begin vloei, wat tot die verstewiging van die rand gelei het. Ten spyte van die probleme was buitelandse beleggers om die risiko te loop ter wille van ’n beter opbrengs op hul geld.
Onthou, die regulering en gesofistikeerdheid van die Suid-Afrikaanse geld- en kapitaalmark tel onder die topvyf ter wêreld. Dit is derhalwe redelik maklik en risikovry om geld vinnig in die Suid-Afrikaanse ekonomie te belê . . . en net so vinnig te onttrek.
WISSELKOERS
Die risiko’s het nou te hoog geraak vir die rente wat buitelandse beleggers in Suid-Afrika kan verdien. Dit wil ook voorkom of Amerika sy eie rentekoerse gaan verhoog. Daarom vloei geld uit Suid-Afrika.
Die risiko met die voortslepende onsekerheid is dat die vloei van geld vinnig in trurat kan spring. As groot hoeveelhede geld uit die plaaslike ekonomie vloei, sal dit die rand in vryval plaas. Party ekonome bespiegel dat die rand dan tot R27/dollar kan verswak.
Rentekoerse sal dan onvermydelik vinnig en skerp moet styg om balans te probeer hou – tensy die ANC ook die Reserwebank “kaap”. Dan is die probleem omgekeerd. Rentekoerse gaan kunsmatig laag wees met ’n swak geldeenheid en ’n inflasiekoers wat maklik tot 20% kan opskiet. Dit is natuurlik die negatiewe scenario, want dit is moontlik dat sake kan stabiliseer hoewel die kans daarop vir die afsienbare toekoms skraal lyk.
WAAR LAAT DIT DIE LANDBOU?
Onthou dat goeie familiebesighede ’n baie langer leeftyd het as wat partye regeer.
Die belangrikste is dat daar nie nou oorhaastig besluite geneem moet word nie. Daar is mense wat nou halsoorkop hul bates in kontant probeer omsit en hul kapitaal die land uitneem. Dit is ’n pad met sy eie risiko’s – soos mense wat geld in Brittanje geplaas het in die jongste maande uitgevind het toe Britse pond sowat 25% van sy waarde verloor het ná Brexit.
Dit is nie nou tyd om onnodige risiko-besluite te neem nie. Dit wil voorkom of sake taai gaan raak. Dit sal loon om die verloop van sake noukeurig dop te hou, want as beleggers vinnig hul geld onttrek en spekulante raak betrokke, is die glybaan baie vinnig.
Die onderstaande is enkele neigings wat