KOOLGEWASSE BIED OPLOSSINGS VIR LANDBOUPLAE
Sekere koolgewassoorte, soos mosterd en raap, het die vermoë om grondgedraagde siektes te onderdruk. Navorsers het op die sesde tweejaarlikse internasionale bioberokingsimposium by Spier buite Stellenbosch bekend gemaak dat hulle besig is om meer gebruike te ontdek vir die gewasse wat organiese samestellings genaamd glukosinolaat (glucosinolates) bevat, en wat isotiosianaat (isothiocyanate, ITS) vrystel as hul plantweefsel beskadig word. Teen hoë konsentrasies is isotiosianaat ’n plaagdoder.
Hulle het ook doeltreffender maniere ontwikkel om dit aan plante en die grond toe te dien. Die navorsers is optimisties oor die moontlikhede van bioberoking veral noudat ál meer konvensionele plaagdoders verbied word.
As daar van bioberoking gepraat word, is mosterd of kanola as dekgewasse of wisselbougewasse om veral aalwurms te onderdruk, dikwels die eerste gedagte wat by die nie-wetenskaplike publiek opkom. Dit is inderdaad so, het verskeie navorsers op die simposium beaam, maar het ook navorsing bekend gestel wat toon dat kanola nie eintlik ’n goeie bioberokingsgewas is nie. Navorsing uit Japan toon dat mosterd (Brassica juncea) en swarthawer (Avena strigosa) spinasieverlepsiekte in groentekweekhuise daar onderdruk, terwyl nuwe formulasies met ontvette saadmeel van sekere koolgewassoorte as basis gebruik kan word om weerstandbiedende onkruid te bestry.
Navorsing deur dr. Matthew Back van die Harper Adams-universiteit in Engeland toon dat dit lyk of gewasse soos mosterd en oliesaad-radys (oilseed radish , of Raphanus sativus) die lewensvatbaarheid van aalwurmeiers kan onderdruk.
Die laaste woord oor hoe bioberokingsgewasse en -middels toegedien moet word om die meeste voordeel daaruit te trek, is nog nie gespreek nie, dog mnr. William Watt, ook van die Harper Adams-universiteit, het gevind dat mosterd wat fyn gekap en ingewerk word, aartappelsistaalwurms die beste bestry.
Navorsers by die Italiaanse raad vir landbounavorsing en -ekonomie (CREA) het ’n stappie verder gegaan en bioberokingsmiddels in verskillende formulasies, naamlik korrels, ’n blaarbespuiting en ’n vloeibare wortelbehandeling, ontwikkel. Die middels word van mosterd en ’n soort roket (Eruca sativa) gemaak.
Dr. John Kirkegaard van Australië se wetenskaplike en nywerheidsnavorsingsorganisasie (CSIRO) in Canberra, Australië, het gesê boere sal meestal net bioberokingsgewasse as groenbemesting in hul boerderystelsels insluit as dit ook ander voordele het, byvoorbeeld die verbetering van die grondstruktuur, die vermindering van erosie en die instandhouding van grondvrugbaarheid en -voeding.