Landbouweekblad

GROEIMIDDE­LS IN VLEIS: STRENGER WETTE GEVRA

-

Suid-Afrikaanse wetgewing behoort strenger te wees oor die residue van middels wat groei bevorder wat in vleis teenwoordi­g mag wees.

Prof. Eddie Webb, waarnemend­e adjunk-dekaan van die fakulteit natuur- en landbouwet­enskappe aan die Universite­it van Pretoria, sê die toegelate maksimum residuperk behoort terselfder­tyd ook beter gemonitor te word.

Eddie was een van die sprekers op ’n werksessie wat die Devon-slagplaas saam met die Rooivleis-abattoirve­reniging in Kempton Park aangebied het.

Hy beskou die huidige wetlike perke as te hoog vir party groeiregul­erende molekules, terwyl daar middels is waarvoor geen spesifieke vlakke aangedui word nie.

In ander lande het residue in voedselpro­dukte al tot groot hofsake gelei. Eddie sê verbruiker­s gaan na verwagting toenemend bewus word van veiligheid­skwessies rondom vleis en ook ál meer druk daaroor uitoefen. Verbruiker­s verwag egter ook ál meer dat omgewingsv­riendelik geboer moet word.

Daarvoor is die gebruik van middels om groei te bevorder tans nog noodsaakli­k omdat min uitgebreid­e weiding beskikbaar is en produksie vir die toenemende vraag na rooivleis verhoog moet word. Navorsing kon nog nie ander of beter metodes oplewer om produksie te verhoog nie.

Alternatie­we metodes vir die bevorderin­g van groei, soos passiewe immuniseri­ng teen groeibeper­kende faktore, toon groot potensiaal vir die toekoms, maar Eddie sê hoewel navorsing daaroor met proefkonyn­e goeie resultate toon, is dit nog nie prakties toepaslik by herkouers nie. Hy sê dit is intussen belangrik dat daar ’n groter bewustheid oor residuvlak­ke en -monitering in die rooivleisb­edryf moet wees. Die Departemen­t van Landbou weet bestaande wetgewing moet hersien en verander word en Eddie sê dit is belangrik dat die bedryf en die staat gesprek daaroor voer. “’n Behoorlike studie moet byvoorbeel­d gedoen word om te bepaal hoeveel monsters vir behoorlike residumoni­tering nodig is.” — CARIEN KRUGER

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa