Laat die sweep klap
Dit verg meer as ’n wa en os se om ’n tog te begin. Sonder ’n trektuig, rieme en swepe gaan jy nie ver kom nie.
Die Suid-Afrikaanse manier van inspan vereis ’n osjuk, wat bestaan uit ’n paal – so 1,8 m lank en 80 mm in deursnee – met ’n sterk ysterkram-bogie in die middel ingeklink, waarmee die juk met ’n riem aan die trekriem of trekketting voor aan die disselboom trek.
Die agterosse se juk is direk aan die disselboom vas en het soms twee kramme langs mekaar om beter plek te maak vir rieme.
Hierdie tweekram-jukke was ook nuttig as ’n paar osse se krag nie lekker balanseer nie, want dan kan een os ’n korter en die ander ’n langer hefboom gegee word deur die juk van die middelpunt af aan die trektou vas te maak.
Tot sowat 1860 was alle jukke met houtskeie gemaak. Die skeie steek deur vier plat, ovaal gate naby die punte van die juk sodat die skeie links en regs langs elke os se nek afhang wanneer die juk op sy nek lê. Die twee jukskeie word onder die os se keel met ’n stropriem verbind.
Jukskeie was plat houte met ’n knop bo sodat hulle nie deur die gat in die juk val nie. Aan die buitekant is twee of drie kepe, waarin die lus aan elke ent van die strop hoër of laer ingehaak kan word om die strop net vas, maar nie “noustrop”-styf nie, in te haak.
Later is jukskeie van ronde staafyster gemaak, met ’n kettinkie as strop, wat dan aan die een skei op die regte lengte ingehaak kon word. Nog later is stukke waterpyp as skeie in die juk vasgemaak, weereens met ’n verstelbare kettingstrop onder.
Agteros-jukke was dikwels effe langer en dikker. Heel, lang jukke is gebruik waar os-pare wedersyds van plantrye moes loop, soos met skoffels en planters.
RIEME
Trensrieme om die osse se horings was nodig wanneer dit by aankeer en inspan kom, om jukke aan die trensriem vas te maak om osse te “span” of “kniehalter” sodat hulle nie ver kan loop terwyl hulle wei nie.
Trekrieme het die jukke aan die disselboom getrek. Dit was veelvuldig gevlegte en gebreide rouriem van sowat 3 m lank. Dit was so standaard dat party plekke, soos Sesriemgate in Namibië, daarna genoem is.
Die naasagterosse se riem (later is kettings gebruik) was die dikste en het dunner geraak tot by die voorste osse. Die kettings het geld gekos en was swaarder, maar dit was waterbestand en betroubaar. Nat rieme het gou gevrot.
OSSWEEP
Toe ek kind was, was daar nog sweepvlegters wat ’n ossweep kon bou, maar ek weet nie of iemand vandag hierdie kuns bemeester nie.
Die reuse-ossweep se stok was ’n 4,5 m lange bamboes, waaraan die viervoudig-gevlegte agterslag (sweepgedeelte) wat van voor na agter vernou, met ’n riempie vas was. Die agterslag, so 3 m lank, was gewoonlik van koedoeleer.
Voor aan die gevlegte sweep was ’n enkelriem, die middelslag. Hieraan was ’n baie dun, harde riempie, die voorslag of kwinter, liefs
BOEK OOR WAENS OP PAD
Prof. Erik Holm werk aan ’n boek,
wat deur Protea uitgegee gaan word. Dit sal ’n katalogus met foto’s van Suid-Afrika se oorblywende waens insluit. Lesers kan hom van waens – wrakke en BO: LINKS: goed bewaarde waens – laat weet. Hy soek ook foto’s van die waens.
Holm sal van tyd tot tyd ’n uittreksel uit die boek in publiseer. Stuur e-pos aan erikholm1945@gmail.com as jy van ’n wa weet wat in die boek hoort.