Markte in Suid- en Suidoos-Asië kan al hoe belangriker word vir die plaaslike vrugtebedryf.
Bykans 34% van die wêreld se bevolking is in Suid- en Suidoos-Asië, volgens die Wêreldbank. SuidAfrika se vrugte-uitvoerbedryf moet hom daarom in daardie mark vestig, het mnr. Anton Kruger, hoof uitvoerende beampte van die Fresh Produce Exporters’ Forum, gesê op die Produce Marketing Association (PMA) se Fresh Connections-konferensie in Pretoria in Augustus.
Suid- en Suidoos-Asië is ’n beduidende mark wat Suid-Afrika nie kan bekostig om te ignoreer nie, het dr. Konanani Liphadzi, hoof uitvoerende beampte van Fruit South Africa, tydens dié bespreking gesê.
Suid-Afrika lewer 4,7 miljoen ton vars vrugte per jaar waarvan 2,7 miljoen ton na 92 lande uitgevoer word, het Anton gesê. Vars vrugte maak meer as 50% uit van alle landbouprodukte wat Suid-Afrika uitvoer omdat die vrugte wat plaaslik in Suid-Afrika gelewer word, beduidend meer as die vraag is.
Die afgelope meer as honderd BO: jaar het Suid-Afrika vars vrugte hoofsaaklik na die Europese Unie en Brittanje uitgevoer. Daardie gekombineerde mark word egter al hoe kleiner en dit dwing Suid-Afrika om na ander markte te begin kyk.
Suid-Afrika het hom toe begin toespits op die markte in China, Indië, Indonesië, Japan, die Filippyne, Suid-Korea, Thailand en Viëtnam.
“Hoekom het ons op hierdie lande besluit? Saam met die Departement van Landbou, Bosbou en Vissery het ons na die risiko’s en belonings gekyk,” het Anton gesê. “Die lande wat ons geëien het, is waar die risiko’s laag en die belonings baie hoog is. Die uitvoer van vrugte na van daardie lande is tans redelik min. Dit maak die groeipotensiaal baie hoog.”
Die groeiende bevolking, werkende middelklas en die dieet van mense in daardie lande stem beduidend ooreen met dié in Suid-Afrika, wat dit gevolglik die ideale uitvoerlande maak, het Anton gesê.
Om daardie markte te identifiseer en aan hul vereistes ten opsigte van vars vrugte te voldoen, is die smaak, geur, grootte en kleur van die vrugte uiters belangrik.
“Natuurlik is daar ook probleme. Kwessies met logistiek lei tot probleme met die koueketting van produkte. Kulturele verskille en taalgrense lei ook tot misverstande, veral in die regulatoriese omgewing,” het Anton gesê.
“Wanneer ’n mens by daardie markte betrokke raak, is voedselveiligheid, konsekwente hoë gehalte en waarde vir geld baie belangrik. Mense is bereid om te betaal vir die versekering dat hul voedsel veilig is.”