Landbouweekblad

HELE BEDRYF KAN BAAT VIND BY GERIEF VIR JONGES

- — LUCILLE BOTHA

DIE wynbedryf moet ’n sentrale wynmaak- en proegerief op die been bring sodat jong wynmakers kleiner volumes wyn kan maak wat straks nuwe markte vir die wynbedryf kan ontsluit.

“Dit is die jong wynmakers wat aandag trek en die kollig op Suid-Afrika laat val. Hulle maak wyne van wonderlike gehalte, maar hulle sukkel met koste,” het me. Trizanne Barnard op die tydskrif Wineland se seminaar oor vernuwing in die wynbedryf gesê.

Sy het in 2009 haar eie wynmaatska­ppy, Trizanne Signature Wines, gestig. Dit is tans een van die grootste onafhankli­ke verskaffer­s van Sauvignon blanc aan Brittanje. Engelse verbruiker­s beskou ook haar wyn as een van die beste Sauvignon blancs op die rak.

Barnard se pad het egter nie heeltemal sonder probleme begin nie. “Een van my grootste probleme was om kelderspas­ie te vind. Dit was nie maklik om ’n kelder te kry wat my kleiner volumes wyn kon huisves nie.”

VERNUWE

Sy glo as die wynbedryf werklik wil vernuwe, kan ’n sentrale wynmaakger­ief – met verskillen-

de tenkgroott­es en kleiner mandjieper­se – aan jong wynmakers die geleenthei­d gee om opwindende wyne te maak.

“Hierdie jong ouens is gretig om te bemark en hulle maak werklike funky wyne.

“Hulle het boonop ’n flair vir bemarking en ’n groot aanhang onder verbruiker­s.”

Barnard sê die hele bedryf kan by so ’n inisiatief baat vind.

“Die jong wynmakers eksperimen­teer ook met minder bekende kultivars, iets wat dalk te riskant is vir meer gevestigde landgoeder­e. Die jonges het niks om te verloor nie. Gee hulle dus die geleenthei­d om te eksperimen­teer en laat die wingerdbou­kundige liggame hulle dan ondersteun.

“Dalk kom daar iets groots hieruit en kan ons sodoende nuwe markte skep.”

Sy sê so ’n gerief kan ook as wynproelok­aal gebruik word. “Klein produsente sit dikwels met hul hande in die hare wanneer oorsese invoerders hulle besoek, want waarheen neem jy hulle? Jy het nie ’n landgoed of ’n proelokaal nie en jy sit ook nie noodwendig in die middel van die wynstreek nie. So ’n gerief kan baie probleme oplos, sonder dat dit hulle ’n groot klomp geld hoef te kos.”

Tydens ’n meningspei­ling onder die gehoor het 96% aangedui daar is waarde in so ’n inisiatief en dat hulle so ’n gerief sal besoek om wyn te proe en te koop.

‘Waarheen neem jy hulle? Jy het nie ’n landgoed of proelokaal nie en jy sit ook nie noodwendig in die middel van die wynstreek nie.’

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa